Een oplossing vir almal?

Politici hou van die gedagte van een oplossing vir almal. As daar met sekerheid gesê kan word dat daar een oplossing is wat die beste is vir almal, dan kan die staat sy mag gebruik om almal te dwing om daardie een oplossing te gebruik en ander oplossings, wat per implikasie minder goed is, te verbied. Op die manier kan die staat deur die gebruik van mag die samelewing beter maak.

‘n Mooi illustrasie van die implikasies van hierdie gedagte is die motor-industrie in die Sowjet Unie. In sy wysheid het die Sowjet regering besluit dat ‘n Fiat van die 1960’s (wat hulle Lada genoem het) die beste motor is vir al sy burgers. Daardie motor is vir die volgende 40 jaar vervaardig, totdat te min mense die motor wou koop. Die enigste mense wat nog belangstel in daardie motor is Youtubers wat ‘n behae daarin skep om resensies doen oor die slegste motor wat bestaan.

Die Suid-Afrikaanse regering het dieselfde gedoen met die onderwys. In sy wysheid het die regering besluit dat skoolonderwys die beste is vir alle kinders, en sy mag gebruik om skoolbywoning asook die nasionale kurrikulum verpligtend te maak. Toe hierdie stelsel eers in plek is, is dit ook toenemend gebruik om die ideologie van die staat oor te dra aan die volgende generasie, sodat hulle sal aanhou stem vir die huidige regering. Die gevolg van hierdie besluit was dat die standaard van onderwys in Suid-Afrika een van die laagstes in die wêreld is, en die waardes wat oorgedra word in die skoolonderwys toenemend in stryd is met die godsdienstige oortuigings en kulturele gebruike van baie ouers.

Gelukkig was daar enkele aktiewe burgers in die 90-tiger jare wat druk op die regering geplaas het om voorsiening te maak vir tuisonderwys in die SA Skolewet van 1996. Hierdie opening het gelei tot die eksponensiële groei van nie net tuisonderwys nie, maar ook ‘n diversiteit van organisasies wat alternatiewe vorme van onderwys aanbied. Ouers het die geleentheid aangegryp om buite die skoolstelsel kwaliteit onderwys aan te bied wat in lyn is met hulle kultuur en godsdiens. Die doel van die Gauteng Ekspo vir alternatiewe onderwys is om ouers en rolspelers in tuisonderwys en alternatiewe onderwys bymekaar te bring.

Ongelukkig is die Suid-Afrikaanse regering nie oortuig dat alternatiewe vorme van onderwys in die belang van die samelewing is nie. Om die rede word wetswysigings oorweeg wat probeer om tuisonderwys deel te maak van die skoolstelsel. As reaksie op ‘n vraag in die parlement het die minister van Basiese Onderwys die volgende geantwoord in 2012 : “The Discussion Document on Home Schooling developed by the Department of Basic Education deals with matters such as the character of Home Education, the current South African Home Education Law and Policy and a review of this law and policy with the view of providing for Home Education as part of the formal schooling system.” Die Pestalozzi Trust gaan tydens die Gauteng Aletrnatiewe Onderwys Ekspo wat op 15 Mei plaasvind, terugvoer gee oor die vordering van hierdie wetswysigings en wat gedoen word om dit te keer.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Bouwe van der Eems
  • Bouwe van der Eems
  • Bouwe van der Eems en sy vrou Debbie het hulle 5 kinders tuis opgevoed sedert 2000. In 2002 het hy betrokke geraak by tuisonderwysorganisasies toe hy trustee geword het van die Pestalozzi Trust, ‘n regsfonds vir tuisonderwys.
    In 2011 het hy en sy gesin die aanlyn platform SAHomeschoolers.Org gebou, met die doel om die beginpunt te wees vir almal wat belangstel in tuisonderwys en hulle deel te maak van die tuisonderwys ekostelsel. In 2013 het hulle in samewerking met KragDag begin om tuisonderwys ekspo’s te organiseer.
    Bouwe het ‘n MSC graad in elektroniese ingenieurswese by the Universiteit van Stellenbosch verwerf en is ’n geregistreerde professionele ingenieur. Hy speel ook die Franse Horing en is saam met sy kinders in die Bellville Hoër Simfoniese Blaasorkes. Hy en sy gesin woon in Kaapstad en hy is ook ‘n aktiewe lid van die plaaslik inwonersverenigings.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui