Skryf is makliker as …

Wanneer jy ʼn skryfopdrag lees en dit voel asof jy skielik aan die voet van Kilimanjaro staan, totaal oorbluf oor die oorweldigende taak van oulike sinne in logiese paragrawe en die spiertjie in jou linkerwang jou waarsku om te vlug, dan wil ek jou gerus stel…

Skryf is makliker as …

En hier galop my verbeelding met my weg (aangevuur deur die giggelende visuele verbeelding)… makliker as oudword, of ʼn baba wat net begin kruip het se doek te ruil, of jou begroting te laat klop met die huppelende brandstofprys.

Kreatiewe skryf is ʼn groot uitdaging vir meeste van ons kinders. Die grootste rede is dat ons agterstevoor begin omdat ons dink dit is makliker. Kinders moet reeds in grondslag fase begin om eenvoudige stories te skryf, maar dit is ʼn abstrakte kreatiewe konsep. Om by ʼn storie uit te kom, het ons eers feite, woordeskat en boublokke nodig. Begin by die bekende en beweeg na die onbekende. Om ʼn bekende ding so eenvoudig soos ʼn lemoen te beskryf in ‘n paragraaf is veel makliker. As ek die lemoen eers sintuiglik ondersoek (geruik het, geproe het, die skil gebuig het dat die sproei in my oog spat) het ek die woordeskat en ervaring om oor die lemoen te skryf. Nou kan ek die paragraaf verbeter met beskrywende woorde. So kan ons aspirant skrywers aan die skryfproses begin blootstel.

Hier volg ʼn eenvoudige uiteensetting van die kreatiewe skryfproses soos vereis in die matriek-eindeksamen.

iKnowThat volg die beginsel om die leerder reeds van graad 2 af die kreatiewe skryfproses op ʼn eenvoudige manier aan die leerders oor te dra. Dit bemagtig die leerder om met selfvertroue kreatiewe skryfwerk aan te pak en te voltooi.
Hierdie uiteensetting is geskik vir graad 4 tot 6 leerders.

 

Stelwerk bestaan uit:

  • Poësie is gedigte, versies en rympies
  • Prosa is boeke en stories wat jy lees
  • Kreatiewe skryfwerk is dinge wat jy skryf soos paragrawe, opstelle en briewe.

Daar is ʼn paar stappe in kreatiewe skryfwerk wat gevolg MOET word.

As ons dit nou al reg leer, gaan ons dit in matriek outomaties doen.

Stap 1:

Maak ʼn dinkkaart van jou opdrag.

  • Dit help jou om idees te vorm
  • Dit help jou om alles wat jy moet skryf te onthou
  • Dit help jou om nie dieselfde ding oor en oor te sê nie.

Hier is voorbeelde van dinkkaarte:

Daar is voorbeelde van dinkkaarte in die iKnowThat-boeke by elke kreatiewe skryfwerk om jou te help om met dinkkaarte te begin werk. Jy kan ook jou eie dinkkaarte uitdink.

Stap 2:

Skryf ʼn rofwerk-weergawe wat by jou dinkkaart pas.

Hierdie weergawe word in potlood geskryf.

Pasop vir Lomp Sinne!

Te veel woorde trek die aandag van die boodskap van die sin
af.

En toe het die kat die muis gejaag en toe het die muis weg
gehardloop en toe soek die kat die muis en toe…

Sinne MOENIE met ‘en toe…’ begin nie.

Die muis het weggehardloop, omdat die kat hom gejaag het. Die kat soek die muis nou orals.

Deel van stap 2 is die redigeringsproses:

In matriek word die bewys van redigering vereis.

Juffrou, Mamma of Pappa mag die rofwerk-weergawe deurlees en die foute met ʼn ander kleur pen uitwys – die leerder moet dit dan regmaak. (Hierdie ontwikkelingsaanbeveling is vir graad 4 en 5, maar in graad 6 moet die leerder reeds self foute kan uitwys en regmaak.)

Hoe verbeter ek ‘n skryfstuk?

(bygewerk, met erkenning aan Dr. Cas Olivier)

  • Maak seker jou skryfstuk bevat al die elemente van die spesifieke formaat soos brief of uitnodiging.
  • Maak spelling en lomp sinne As jy jou sin hardop lees, dan hoor jy makliker ‘n fout met die sinsbou.
  • Lees weer deur die skryfwerk en verbeter sinne deur byvoeglike naamwoorde of bywoorde by sinne te voeg.
  • Voeg ‘n beeldspraak soos ‘n vergelyking of intensiewe vorm by die skryfstuk.
  • Voeg iewers ‘n beeldspraak soos ‘n idioom by as jy kan.

Kyk na die woordbeperking van die skryfopdrag. Dit is die minimum en maksimum hoeveelheid woorde wat ʼn skryfstuk moet bevat.

Jy moet die woorde tel om ’n woordtelling te kan neerskryf.

Skryf die woordtelling in vierkant hakkies regs onder jou werk.

Stap 3:

Skryf die finale-weergawe met blou pen oor.
Dit moet sonder foute oorgeskryf word.

Hierdie 3 stappe moet jy elke keer doen, selfs in toetse en eksamens. Om dit in te oefen gaan jy dit met elke skryfopdrag vir huiswerk ook doen.

Meer oor iKnowThat:

Sedert 2003 ontwikkel iKnowThat leermateriaal wat eers vir 10 jaar in
‘n skoolomgewing getoets is. Die oop kommunikasie tussen onderwysers het unieke brûe gebou tussen grade se vakinligting, veral tussen graad 3 en 4 en weer van gr 6 na graad 7.

Die iKnowThat-ontwikkelingspan bestaan uit 2 afdelings. Assessering
en moderering word gelei deur ‘n gekwalifiseerde assessor. Kurrikulum en materiaal ontwikkeling word gelei deur ‘n inligting- en kurrikulumargitek. iKnowThat fokus deurentyd op kritiese denke sodat leerders probleme kan identifiseer en oplos deur middel van  “Thinking Tool” vaardighede.

iKnowThat se leermateriaal kan as kurrikulum gevolg word met die vereiste assesserings of as eklektiese leermateriaal, aangesien dit afsonderlik beskikbaar is.

iKnowThat is voortdurend besig met nuwe ontwikkeling, waaronder die iKnowThat Aanlynhandboeke vir graad 6 in 2021 bekendgestel is.

 

4.00 avg. rating (84% score) - 1 vote
Izelle van den Bergh
  • Izelle van den Bergh
  • Izelle van den Bergh is eerstens ʼn ma van 3 kinders wat glo leer begin waar kinders belangstel en nuuskierig is oor dinge. Met haar unieke vermoë om moeilike konsepte oop te breek deur kleurvolle aanbiedings en praktiese toepassings het sy verskeie skoolvakke aangebied, onderwysers opgelei en leermateriaal ontwikkel. As gekwalifiseerde inligtingkundige en kurrikulumargitek verpak sy op ʼn kreatiewe wyse inligting vir enige ouderdom.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui