Sjaals bring hoop en vertroosting
Rina Gous, ’n argitek van Pretoria, het verlede jaar ’n projek met die Engelse titel “Atah Shawl of Hope” van stapel gestuur. Hierdie verdienstelike projek gee aan vrywillige naaldwerkentoesiaste die geleentheid om pragtige sjaals te hekel vir persone wat hoop en vertroosting benodig omdat hulle weens verskeie redes trauma in een of ander vorm beleef. Die sjaals, wat snoesig en knus om ’n persoon se skouers vou, verteenwoordig ’n drukkie. Nie net beteken ’n sjaal van hoop geweldig baie vir die ontvanger nie, maar die hekelaars put ook baie bevrediging en seën daaruit om te weet dat hulle handewerk vir iemand wat deur moeilike omstandighede gaan tot bemoediging dien.
Rina is getroud met Hein, ’n IT kliëntediensbestuurder, en hulle het drie kinders. Annecke is 16 en die tweeling, Christian en Leon, is 13. Sy is ’n boekwurm wat graag in haar vrye tyd indrukke skryf oor die boeke wat sy lees en haar ook besig hou met die bevordering van lees onder die jeug. Kuns en handwerk is hoog op haar lysie van stokperdjies. Dit is reeds waarom sy en Annecke verlede jaar, net voor die grendelstaat ’n aanvang geneem het, gaan kers opsteek het by ’n vriendin oor hoe om ’n “granny square” of oumablokkie te hekel. Hulle het ook na videohandleidings op YouTube gekyk en só meer steke baasgeraak aangesien hulle nie hekelpatrone of –diagramme kon lees nie.
“Ywerige brei- en hekelentoesiaste sal weet dat ’n wolwinkel vol heerlike ontdekkings is,” vertel Rina. “So koop ek toe die mooiste wol net omdat dit vir my mooi is – met geen idee wat ek daarmee gaan maak. Op pad huis toe herinner Annecke my daaraan dat ’n dame, wat saam met my voorsang doen in die kerk, se dogter ’n tweeling verwag. Ek besluit toe net daar dat die 600 g wol babakombersies gaan word.”
Later die middag het sy na ’n geskikte patroon gesoek en by haar gunsteling YouTube-hekelkanaal getiteld “Ophelia Talks” ingeloer vir inspirasie. Daar ontdek sy toe aanduidings oor hoe om ’n sogenaamde “virus shawl” te maak. Die sjaal was vir haar baie mooi, maar die patroon het aanvanklik té ingewikkeld gelyk. Sy kon egter nie maklike patrone vind van babakombersies waarvan sy hou nie en het besluit om tog maar die sjaal te probeer. “Ná drie herhalings van die basiese partoon snap ek dit, net om ’n boodskap op my foon te ontvang dat die tweeling doodgebore is vroeër die dag. Ek het my voorgeneem om die sjaal as ’n geskenk aan die mamma te gee om haar te troos. Dit wat die eerste “Atah Shawl of Hope”.
Die mamma se moeder het die eerste “shawl warrior” geword toe sy dadelik entoesiasties saam begin hekel het. Daarna het ’n vriendin van Rina wat kanker oorwin het ook aangesluit. Die projek het stadig maar seker begin groei. Nóg ’n vriendin het die Hebreeuse term “Atah” voorgestel. Rina dui dit só op die etiket aan wat aan elke sjaal vasgewerk word: “Atah, die Hebreeuse grondvorm vir “gewaad”, beeld lofprysing uit as meer as ’n kledingstuk wat mens sommer so oor jou gooi. Dit leer jou letterlik om jou “toe te wikkel” of “te bedek” sodat die gewaad van lof geen openinge laat waardeur vyandige elemente kan inkom nie. So ’n mantel van blydskap verlaag en vervang ’n swaarwigtige gees (Die nuwe Bybel vir ’n Geesvervulde lewe).”
Rina noem dat van die projek se eerste skenkings gegaan het aan twee mammas en ook ’n sussie van dogtertjies wat op 5 Desember 2020 gesterf het in ’n motorongeluk ná ’n Voortrekkerkamp. Sedertdien probeer hulle om altyd een of twee klaargemaakte sjaals gereed te hê vir noodgevalle. “So kon ons ’n sjaal vir ’n tannie wat in haar huis in Bloemfontein aangeval is stuur terwyl sy nog in die hospitaal was. Ons het ook onlangs ’n sjaal laat aflewer vir ’n weduwee slegs twee dae ná haar man se afsterwe.” So bring elke sjaal hoop en vertroosting waar dit die nodigste is.
Hier is van die dankbare ontvangers se reaksies:
“Hiermee my opregte dank aan julle vir die wonderlike sjaal wat ek van jul ontvang het. Ek gebruik dit sover elke dag, en veral in die aand voor die TV. Ek is intens bewus van ons Vader se liefde en vertroosting wanneer ek knus die hitte van die sjaal ervaar. Die sagte kleure verteenwoordig jul sagte harte waarmee jul my hartseer verlig. Jul doen ’n groot taak en ek bid die Heer se seën toe op jul werk. Baie dankie vir die voorreg om een te ontvang.”
“Baie dankie vir die pragtige gebaar en geskenk. Dit is baie spesiaal. Ek het sommer met dit om my skouers geslaap gisteraand. Ek kan voel dit is met liefde en omgee gemaak. Weereens dankie!”
“Ek het nie genoeg woorde om jou te bedank vir die pragtige sjaal nie. Baie dankie vir jou liefde en omgee.”
Hoe raak ek betrokke?
Enigiemand is welkom om betrokke te raak.
Persone wat graag saam wil hekel, kan gerus by Rina se Facebook-groep, “Atah Shawl of Hope”, aansluit. Hier vind mens die oorspronklike video sowel as die diagram van die sjaal. “Gewone dubbeldraadwol werk baie goed met ’n dik hekelnaald soos ’n 8 mm naald. Jy kan ook van ’n dunner naald en meer herhalings gebruik maak. Dit is jou eie keuse. Die patroon lyk dalk moeilik, maar dit behels slegs die twee heel basiese hekelsteke. Dit hekel ook baie vinnig en is daarom ideaal. Ek is beskikbaar om per Zoom te help sou jy vashaak,” sê Rina.
Indien jy nie saam wil hekel nie, kan jy steeds iemand nomineer om ’n sjaal te ontvang. Rina noem dat selfs kerke, traumasentrums en ’n kankereenheid persone direk benoem. Die meeste “shawl warriors” weet gewoonlik vooraf aan wie hulle die sjaals wat hulle hekel wil skenk. Sommiges kontak wel vir Rina as hulle ’n sjaal voltooi het en wil skenk aan iemand wat hulle nie ken nie. Die afgelope maand alleen is 35 sjaals gehekel en geskenk – en dis net dié waarvan Rina bewus is, want nie al die hekelaars deel die nuus oor die sjaals wat hulle hekel op die groep nie.
Skenkings in die vorm van van wol en naalde, geld vir wol en naalde en/of die afleweringskoste van die sjaals is baie welkom. “Atah Shawl of Hope” het ’n rekening by “Charming Wool” in Garsfontein. Geld vir wol kan daar inbetaal word met duidelike verwysing na “Atah Shawl of Hope” en die betalingsbewys moet dan aan Rina gestuur word. Kontak Rina per WhatsApp by 083 310 6345 of e-pos haar by rina@ibsm.co.za vir meer inligting of die bankbesonderhede waar skenkings inbetaal kan word.
Hierdie is ’n projek wat mens met groot vrymoedigheid kan ondersteun. Ek self het onlangs iemand genomineer wie se bejaarde ma wat aan demensie gely het skielik oorlede is. Die anonieme persoon het voltyds na haar ma omgesien en was verstaanbaar gebroke. Rina het die sjaal met groot liefde gehekel en gepos. Dit het vreeslik baie vir die persoon beteken om die sjaal kort voor Moedersdag – die eerste Moedersdag sedert haar ma se afsterwe – te onvang.