Die prys van transformasie
Na ‘n proses van bykans 18 maande het minister Thoko Didiza, op die dag van haar Begrotingsrede, die sogenaamde Agricultural Agro-processing Master Plan (AAMP) met sommige rolspelers in die waardeketting afgeteken. Alhoewel bepaalde aspekte, soos in die dokument vervat, ekonomies sin maak, is die hele proses egter onderhewig gemaak aan transformasie. Reeds in Mei 2021 het TLU SA, in ‘n 10-bladsy dokument, verskeie aspekte uitgewys wat uitklaring benodig, alvorens daar enigsins oorweging aan verdere ondersteuning geskenk sal kan word. Wat presies alles met met transformasie bedoel word, is vir ons seker dié belangrikste aspek. Na herhaalde navrae, ten spyte van die belofte dat ons insette wel hanteer sal word, is TLU SA doodeenvoudig uitgeskakel en is voortgegaan met die dokument se ondertekening. Van diegene wat aan die gesprekke deelgeneem het, blyk dit dat net TLU SA nie geteken het nie.
Die prys van transformasie is daar vir elkeen om te sien. Die ANC verpak sy beleid onder die begrip transformasie, maar dít wat sedert 1994 “vermag” is, toon egter net verval en agteruitgang van feitlik elke stelsel wat, ironies genoeg, aanvanklik in goeie werkende toestand ontvang is. ANC-beleid het te duur geword vir Suid-Afrika se inwoners. Dit is uiters kortsigtig om enige dokument te onderteken wat aan die ANC ‘n blanko tjek gee ten einde hulle “transformasie” te implementeer. Van diegene wat wel afgeteken het en met wie daar gepraat kon word, kon niemand sê waar begín transformasie nie, wat behéls dit alles en wáár gaan dit eindig nie!
TLU SA het deurlopend klem gelê op ekonomiese beginsels wat, indien dit reg toegepas word, vir boere en ook enige ander besighede die geleentheid kan gee om suksesvol te wees. Die wyse waarop markkrag-beginsels egter negeer word, skep net meer geleentheid tot mislukkings. Resultate van ANC-grondoordrag, volgens eie erkenning, waar meer as 90% van hierdie grond tot op hede uit produksie gegaan het, spreek vanself!
TLU SA het intussen met Saai, wat by dié proses uitgesluit was, samesprekings gevoer. Dit het ons opnuut laat besef dat, om enigsins te oorleef in wat die ANC tans opdis, is dit nodig om meer staatsbestand te raak. ‘n Ope uitnodiging word tans gerig aan alle rolspelers wat wil deelneem aan die daarstelling van ‘n ekonomies volhoubare plan, wat in belang sal wees van almal in die landbou-omgewing en wat ook tot hulle voordeel sal strek.