‘n Lewe vir ‘n sjieling en 3 pennies – of was dit vir net ‘n tiekie?

In gesprek met Helena Catharina van Zijl; 23 Augustus 1903 – 7 Julie 1994.

Erkenning: eGGSA library

Jy het na hierdie skooltjie aan die suid-westelike buitewyke van die Johannesburg van die vroeë dertiger jare van die vorige eeu gekom… om liggaamlik en geestelik te probeer herstel van die wonde wat deur daardie motorongeluk geslaan is. As mens vandag na die hoffoto’s van daardie gebeurtenis kyk, kan jy kwalik glo dat dié ou karretjie, wat aan ‘n kleuter se stokmannetjietekening herinner, ‘n kwart van die personeel van jou vorige skool uitgewis het. Jou skoolhoof en die man aan wie jy verloof was, was daar net nie meer nie. En jy het jouself voortgedwing sodat jy nie vir andere ‘n oorlas moes wees nie. Getrou aan jou aard het jy jou eie hartseer diep weggebêre om ‘n hawe te wees vir ander, wat in jou oë minder bevoorreg was as jy.

Johannesburg, Goudstad – vandag nog Egoli – het in daardie jare van die depressie, mense, arm en ryk, maar meestal die armstes van die armes gelok om siel en liggaam met ‘n paar sjielings aanmekaar te probeer hou. Dit was voordat Hendrik French Verwoerd, die Fries-gebore toekomstige Eerste Minister van Suid-Afrika, se Reddingsdaadbond van die grond af kon kom. Kinders uit hierdie agterbuurtes van die Stad van Goud het ook jou klassie – en hart  – gevul.

Sy was ‘n weeskind. Die kind van ‘n pa wat in ‘n tweede huwelik en ‘n hoop op ‘n beter toekoms, in die agterbuurtes beland het. Onthou jy hoedat jy altyd van die arm witkopdogtertjie vertel het, wat met verbleikte skoon kleertjies skool toe gekom het? Altyd fragmentariese verhaaltjies, so asof jy ook nog nie na al die jare die tragiek rondom hierdie Koningskind kon verwerk nie. Flitsende detail… van swart onder die vingernaeltjies; getuienis van die skuur van potte met as. Hoedat die winterkoue bloed uit die regaf barste onder die naels uitgepers het. Jy het dit nooit uitgespel nie, maar omdat ek jou so goed geken het, weet ek dat jy daardie handjies gedokter het, as sy na skool vertoef het om jou kwansuis te help om die klas uit te vee en vir die volgende dag aan die kant te maak.

Die papiergewig van die verhaal

Die papiergewig breek vandag nog die lig met malse reënboogkleure. Die papiergewig wat hierdie kind van jou hart, maar wat jy nie onder jou hart gedra het nie, vir jou gekoop het in die gees van die arm weduwee se tempeloffergawe. Het dit een sjieling en drie pennies gekos, of was dit net drie pennies – ‘n tiekie? Gewoonlik het jy op hierdie punt van die vertelling kwansuis hoenders moes gaan kos gee of een of ander onbenullige takie gaan verrig. Sommer so in die verbygaan het jy die gebeure van daardie week, terloops ingeweef in ander vertellings, ingevul.

Vandag drink ék weer saam met ‘n witkopdogtertjie tee, maar hierdie keer lewe uit jou lewe. Sy verjaar vandag; nou ook al ‘n vrou. Jou kleindogter wat as kleuter saam met jou die weglêhenne se neste gesoek het. Met die takkie vol perskebloeisels langs dié nuttelose stuk glas uit die jare her, wat die kleurstrale van die son nog net so helder in donker hoekies van herinneringe laat skyn, loop ons vandag ‘n kort rukkie saam met jou.

Lemmie.

5.00 avg. rating (96% score) - 2 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui