Die krag van die herhaalde pleidooi

Ons leef in ‘n tyd waar burgerlike organisasies toenemend die rol van politieke organisasies oorneem. Wanneer jy die slagoffer van misdaad is, daag die buurtwag binne 3 minute op, en as jy gelukkig is daag die polisie binne 3 ure op. Die enigste waarde wat die polisie toevoeg is om die saaknommer te verskaf vir die versekering. Burgerlike organisasies daag owerheidsbesluite uit in die hof, terwyl politieke partye nie veel meer kan doen as om per geleentheid ‘n roerende betoog in die parlement te maak voor ‘n oorwegend slapende gehoor nie. Burgerlike organisasies neem reeds diensverskaffing oor in plaaslike owerhede, terwyl politieke partye belowe om in die toekoms ‘n verskil te maak as genoeg mense vir hulle stem.

Alhoewel die samelewing burgerlike organisasies toenemend met geldelike bydraes ondersteun, sukkel die organisasies om burgers se tyd en energie te kry. Buurtwagte sukkel om mense te kry om te patrolleer. Inwonersverenigings en burgerregte organisasies sukkel om mense to mobiliseer om besware in te dien, op besture te dien, briewe te skryf, deel te neem in demonstrasies of publieke vergaderings by te woon.

Sulke onaktiewe burgers voer dikwels aan dat politici korrup is en nie belangstel in die insette van burgers nie,  en dat dit ‘n gemors van tyd is om ‘n pleidooi te rig tot hierdie politici.

In Lukas 18 lees ons van ‘n onregverdige regter wat na vele pleidooie toegee aan ‘n enkele weduwee. Hierdie Skrifgedeelte leer dat selfs die mees korrupte politikus kan toegee aan die eise van ‘n magtelose weduwee, as sy aanhou net haar pleidooie. Christene behoort daarom nie die verskoning van korrupsie te gebruik vir onaktiwiteit nie. Selfs die mees magtelose bedelaar by die verkeerslig verstaan die krag van die herhalende pleidooi.

In hierdie inligtingseeu het Christene legio geleenthede om pleidooie tot die owerhede te rig. As Christene nie bereid om  moeite te doen om die geleenthede  te gebruik nie, sal God die gebed vir die bekering van die owerheid verhoor? As ons bid dat God die owerheid moet bekeer sonder dat ons bereid om pleidooie te lewer, is dit nie maar dieselfde as om te bid vir genesing sonder om medisyne te gebruik nie?

Verder moet ook gelet word op die inhoud van die weduwee se pleidooi in Luk. 18, naamlik: “Doen reg aan my teenoor my teeparty.” Die weduwee wys nie die regter op sy korrupsie nie, maar doen ‘n oproep om iets goeds te doen. Net so ook die bedelaar by die verkeerslig. Hy verduidelik nie vir jou dat jy ‘n kapitalistiese uitbuiter is nie, maar versoek jou slegs om ‘n bietjie geld uit jou beurs te haal. Veral as die “doen reg” pleidooi gebaseer word op die Skrif, het die pleidooi baie krag.

Wanneer gewone burgers oor politiek praat, word dit dikwels oorheers deur nuttelose praatjies oor hoe korrup die regering is. Vir ons pleidooie om effektiewe te wees moet ons eerder dink oor die positiewe alternatief wat ons herhaaldelik wil voorlê aan politici. As jy ‘n politikus konfronteer met sy korrupte optredes, gaan die politikus verskonings uitdink of die blaam verskuif. As jy egter ‘n politikus versoek om iets positief te doen, dan moet die politikus dink oor jou voorstel en redes probeer vind waarom dit nie wil uitvoer nie. So iets is baie moeiliker as om verskonings uitdink vir sy korrupsie!

5.00 avg. rating (93% score) - 1 vote
Bouwe van der Eems
  • Bouwe van der Eems
  • Bouwe van der Eems en sy vrou Debbie het hulle 5 kinders tuis opgevoed sedert 2000. In 2002 het hy betrokke geraak by tuisonderwysorganisasies toe hy trustee geword het van die Pestalozzi Trust, ‘n regsfonds vir tuisonderwys. Hy het ook ‘n aantal termyne gedien in die bestuur van die Vereniging vir Tuisonderwys en Cape Home Educators. In 2016 het hy voorsitter geword van die Pestalozzi Trust.
    In 2011 het hy en sy gesin die aanlyn platform SAHomeschoolers.Org gebou, met die doel om die beginpunt te wees vir almal wat belangstel in tuisonderwys en hulle deel te maak van die tuisonderwys ekostelsel. In 2013 het hulle in samewerking met KragDag begin om tuisonderwys ekspo’s te organiseer.
    Bouwe het ‘n MSC graad in elektroniese ingenieurswese by the Universiteit van Stellenbosch verwerf en werk as ‘n stelsel argitek in die IT industrie. Hy speel ook die Franse Horing en is saam met sy kinders in die Bellville Hoër Simfoniese Blaasorkes. Hy en sy gesin woon in Kaapstad en hy is ook ‘n aktiewe lid van die plaaslik inwonersverenigings.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui