Doen-dit-self-eksperimente
Daar het onlangs twee opwindende nie-fiksie boeke vir kinders tussen ses en nege jaar oud op my lessenaar beland wat onmiddellik my nuuskierigheid geprikkel het omdat dit KragDag se doen-dit-self-leuse onderskraag. Die Hoe dinge werk-reeks is elke jong doen-dit-self-wetenskaplike se droom en word uitgegee deur Human en Rousseau Uitgewers.
Kinders word aangemoedig om fisika- en biologie-eksperimente in die agterplaas aan te pak met materiaal wat maklik verkrygbaar is. Nie net kweek dit ’n liefde by kinders vir selfleer nie, maar dit moedig hulle aan oplettend te wees en wetenskaplik te dink. Ek gee hier onder die twee boeke in die reeks se titels weer en vertel ’n bietjie meer oor elkeen.
Titel: Fisika-eksperimente in jou agterplaas
Hierdie pragtige volkleurboek beslaan 32 bladsye en is daarop gemik om die jongspan meer te leer oor fisika: “Fisika is ’n tak van die wetenskap wat wil vasstel hoe voorwerpe, kragte en energie op mekaar inwerk” (4). Kinders rig hulle eie laboratoriums buite die huis op waar hulle hul eksperimene kan uitvoer. Hulle word aangemoedig om ’n grootmens te vra om hulle te help aangesien veiligheid altyd eerste moet kom. “Die eksperimente in hierdie boek is pret en gewoonlik veilig om te doen, maar jy moet nog steeds oppas” (5).
In “Wees Wetenskaplik” leer hulle wat eksperimente is. “’n Eksperiment is ’n toets wat jy doen om uit te vind of iets werk, of waar is. Vra jouself ’n vraag waarop jy die antwoord soek, soos “Val appels ewe vinnig?” Dink dan aan watter eksperiment jy kan doen om die antwoord te kry” (5).
Op bladsye 6 en 7 verken die kinders byvoorbeeld swaartekrag en wrywing. Daar is ’n kort verduideliking oor wat swaartekrag en wrywing is. In “Wat jy nodig het” verskyn ’n lysie van alles wat nodig is om die eksperiment uit te voer – gewoonlik dinge wat in en om die huis beskikbaar is. Foto’s wys presies wat gedoen moet word en in “Wat gebeur?” is daar ’n verduideliking van wat waargeneem is. Kinders leer dus prakties hoe dinge werk.
Hier is ’n lys van nog tien eksperimente: Die eier-valskerm; Vlieg ’n vlieër; Hipnotiseer ’n slang; Maak ’n waterwiel; Suurlemoenkrag; Jou eie vuurpyl; Tennisbal-kanon; Hoor, hoor!; Maak ’n papierstoel, en Sentrifugale krag. Op bladsy 28 in “Ken jy jou fisika?” kan kinders hul kennis van fisika toets. Die antwoorde word op bladsy 29 verskaf. Daar is ook ’n baie nuttige woordelys agter in die boek.
Titel: Biologie-eksperimente in jou agterplaas
Hierdie pragtige volkleurboek beslaan ook 32 bladsye en is daarop gemik om kinders meer te leer oor biologie: “Biologie is die studie van lewende dinge” (4). Hulle leer ook wat wetenskaplikes wat biologie bestudeer genoem word en wat hulle doen. In “Wees wetenskaplik” word hulle meer wys oor die klassifikasie van diere of plante. “Dinge word gegroepeer deur te kyk wat dieselfde is en wat verskil” (5) Kinders rig weer hulle eie laboratoriums buite die huis op en word aangemoedig om ’n volwassene te vra om hulle by te staan aangesien veiligheid prioriteit is.
Die heel eerste eksperiment is op bladsye 6 en 7 en gaan oor die kweek van bakterieë. Kinders leer wat bakterieë is en dat die meeste so klein is dat ons hulle net deur ’n mikroskoop kan sien. Weer is daar ’n volledige lys benodigdhede wat die jong wetenskaplikes gereed moet hê. Die eksperiment word in volkleurfoto’s weergegee en in “Wat gebeur?” word die resultaat bespreek sodat die kinders presies verstaan wat hulle waargeneem het. Glo my, hiérna wéét hulle waarom ons sekere kos liefs in die yskas hou!
Hier is ’n lys van nog tien eksperimente: Maak ’n eier wat hop; Hou vrugte vars; Goggas wat glim; Giskrag!; Toets jou pols; Maak ’n werkende long; Wat word van kos?; Is jy gemaak van yster?; Trek warm aan, en Regs of links?. Op bladsy 28 in “Ken jy jou biologie?” kan kinders hul kennis van biologie toets. Die antwoorde word op bladsy 29 verskaf. Daar is ook ’n handige woordelys agter in die boek.
Ek beveel beide hierdie boeke heelhartig aan. Kevin Wood het die projekte ontwikkel en was verantwoordelik vir die fotografie. Alex Wood het gesorg vir die teks en ontwerp. Anita van Zyl was verantwoordelik vir die Afrikaans. Alix Wood Books is ‘n verpakker en inhoudsverskaffer in die VK wat fokus op geïllustreerde nie-fiksie vir kinders.
Bestel jou kopie van Fisika-eksperimente in jou agterplaas hier.
Bestel jou kopie van Biologie-eksperimente in jou agterplaas hier.