Die ekonomiese herbegin

Toenemend word daar beweer dat daar ‘n ekonomiese herstel (“reset“) of herbegin gaan kom. Ons huidige ekonomiese bedeling is gebaseer op die Bretton Woods ooreenkoms wat ná die 2de Wêreldoorlog aanvaar is. Volgens hierdie ooreenkoms is die VSA-dollar die wêreld se reserwe geldeenheid, gekoppel aan goud, terwyl alle ander geldeenhede aan die dollar gekoppel is met vaste koerse.

Bretton Woods het egter nie lank gehou nie. In 1971 is die dollar van goud ontkoppel. Van daardie oomblik af is alle geldeenhede in die wêreld aan niks gekoppel nie. Alle geldeenhede is nou sogenaamd “fiat” geldeenhede, wat beteken dat dit geld is, omdat die regering so sê, ondanks die feit dat hierdie geldeenhede nie meer die fundamentele eienskappe van geld het nie. Hierdie stelsel is nie meer volhoubaar nie en daarom die noodsaak vir ‘n herbegin.

Die grootste probleem

Die grootste probleem van die fiat-geldstelsel, is dat dit onvolhoubare hoeveelhede skuld laat ontstaan het. Individue, korporasies en regerings se skuldlaste is so hoog dat daar geen vooruitsigte is dat hierdie skuld ooit terugbetaal sal kan word nie. Die hele samelewing is bankrot. Rentekoerse word onbepaald op rekord lae waardes gehou. Sentrale banke kan nie bekostig om rentekoerse te verhoog nie, aangesien dit gaan lei tot soveel slegte skuld wat die hele finansiële stelsel in mekaar kan laat tuimel.

Oplossing vir die skuldprobleem

Die tradisionele manier om skuld te verhaal is likwidasie. Banke lê op die bates van die skuldenaars beslag en likwideer dit om uitstaande skuld te verhaal. As so iets egter op groot skaal gedoen word, gaan dit tot groot sosiale onrus lei en politici is nie bereid is om dit te oorweeg nie.

‘n Ander manier om skuld te verhaal is met inflasie. As die waarde van geld daal en die skuldlas bly dieselfde – danksy lae rentekoerse – dan verminder die reële waarde van die skuld oor tyd in so mate dat skuldenaars dit maklik kan afbetaal.

Om inflasie te stimuleer, druk sentrale banke baie geld. In die fiat-geldstelsel word geld in omloop nie meer beperk tot die goud in die kluis van die reserwebank nie. Sentrale banke het vrye teuels om na goeddunke geld te druk. Dit is dan ook wat sentrale banke in die laaste jare gedoen het! Die Federal Reserve in die VSA het byvoorbeeld triljoene dollars elektronies gedruk en dit aan finansiële instellings beskikbaar gemaak. Hierdie aksies het die banke staande gehou en aandelebeurse laat herstel tot vorige hoogtepunte.

Die geld het egter nie in die hande van burgers beland nie en het ook nie tot inflasie gelei nie. Finansiële instellings het nie die triljoene gebruik om uit te leen aan die publiek nie, maar die geld het binne die finansiële instellings gebly en nie in omloop gekom nie. Inflasie het ook nie noemenswaardig gestyg nie.

Sommige regerings het toe geld direk gedeponeer in die bankrekeninge van die publiek. Ook dít het nie inflasie veroorsaak nie, want die publiek het die geld gebruik om eerder skuld af te los of om te spaar vir ‘n onsekere toekoms.

Oplossing vir inflasieprobleem

Om inflasie te stimuleer, moet geld in omloop gebring word, en daardie geld moet gespandeer word. Dit kan eerstens gedoen word, as die banke huiwerig is om die triljoene dollar nuwe geld uit te leen, om ‘n manier te vind om geld direk vir die publiek te gee, sonder om die bank as ‘n tussenganger te gebruik. Tweedens moet die publiek aangemoedig word om die geld wat hulle ontvang te spandeer in plaas van om skuld af te betaal of te spaar.

So iets kan bereik word met die invoer van ‘n sentrale bank digitale geldeenheid (SBDG). As sentrale banke geld direk in die digitale beursies van burgers deponeer, kan burgers op verskeie maniere aangemoedig word om die geld te spandeer, eerder as om skuld af te betaal of te spaar. Hierdie digitale geld kan ‘n vervaldatum hê. As die geld nie spandeer word voor ‘n sekere datum nie, dan verval daardie geld. Alternatiewelik kan negatiewe rentekoerse ingestel word. Geld met vervaldatums en negatiewe rente gaan spaarders penaliseer en spandeerders beloon. Soos die sentrale banke meer en meer geld in omloop bring en die publiek dit spandeer, gaan inflasie styg. China is tans een van die leiers op die gebied van SBDG’s aangesien hulle reeds in Augustus 2020 met toetslopies vir ‘n digitale Yuan begin het.

In hierdie swaar tye is daar ook druk op regerings om ‘n basiese universele inkomste in te stel. Die SBDG is baie geskik om dié platform te wees waardeur ‘n basiese universele inkomste verwesenlik kan word. Alle burgers met ‘n selfoon kan ‘n digitale beursie kry. Op dié wyse kan miljoene burgers, sonder bankrekenings, ook deel word van die formele ekonomie en ‘n universele inkomste ontvang.

Soos meer geld in sirkulasie kom, gaan die waarde van die nasionale geldeenhede daal. As geld se waarde verminder, terwyl die skuldlas dieselfde bly in absolute terme, word die skuldlas eintlik minder in reële terme. Op hierdie wyse word die probleem van die skuldlas gevolglik opgelos.

Die ekonomiese herbegin

Alhoewel inflasie die skuldprobleem oplos, gaan die nasionale geldeenhede en die bankwese in die proses vernietig word. Aan die einde van die proses gaan almal sonder skuld wees en in die besit van ‘n digitale beurs met geld wat konstant waarde verloor. In hierdie stelsel gaan dit nie moontlik wees om te spaar of om waarde te stoor nie. Diegene wat wil spaar, sal dit buite die tradisionele geldstelsel moet doen.

Die ekonomie kan ook nie voortgaan om te funksioneer sonder ‘n geldeenheid wat sy waarde behou nie. Daar gaan ‘n behoefte wees aan ‘n nuwe betroubare digitale geldeenheid – ‘n geldeenheid wat nie vernietig kan word soos nasionale fiat-geldeenhede wat maklik deur sentrale banke vernietig kan word nie.

Daar is verskeie kandidate vir so ‘n geldeenheid.

  • Die afgelope dekade het heelwat sentrale banke goud aangekoop, soos byvoorbeeld die sentrale banke van Rusland en China. Sommige sentrale banke het goud gerepatrieer. Sulke banke kan oorweeg om nasionale digitale geldeenhede uit te bring wat deels gebaseer is op goud. In plaas van die dollar gebaseerde SWIFT stelsel vir Internasionale transaksies word Ripple oorweeg.
  • Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het lank gelede reeds die SDR (Special Drawing Rights) voorgestel as ‘n internasionale geldeenheid. Die SDR se waarde sal bepaal word deur ‘n mandjie van die grootste geldeenhede en miskien ook goud. Die gebruik van die SDR het tydens die pandemie ‘n hupstoot gekry, want baie lande het lenings by die IMF aangegaan, en hierdie lenings moet in SDR terugbetaal word.
  • Bitcoin is ‘n gedesentraliseerde geldeenheid met ‘n beperkte aanbod wat nie onder die beheer van enige instituut is nie.

Implikasies

Die instelling van staatsbeheerde digitale geldeenhede gaan dit moeilik maak vir gewone burgers om te spaar. Alhoewel jonger mense van skuld ontslae kan raak gaan ouer mense wat rykdom opgebou het, dit verloor. Verder gaan gewone burgers alle finansiële privaatheid kwyt wees. Die staat gaan bewus wees van alle transaksies en beheer uitoefen oor watter transaksies toelaatbaar is en watter nie. Belasting en boetes gaan eenvoudig outomaties afgetrek word. Gewone burgers gaan in armoede verval, van  die staat afhanklik raak en geen privaatheid hê nie.

Volgende stappe

Die enigste manier om die ekonomiese herbegin te oorleef is om rykdom buite die fiat-geldstelsel te stoor in bates soos goud, silwer en bitcoin. Dis egter nie in die belang van die elite dat hierdie kennis algemeen word nie, aangesien dit pryse sal laat styg. Om dié rede is die hoofstroom-media maar baie stil oor hierdie bates. Ondanks die goeie prestasie van hierdie bates sal tradisionele voorsorgfondse maar bly by tradisionele bates soos aandele en staatseffekte. Teen die tyd dat die futiliteit van hierdie strategie duidelik word vir almal, het die finansiële elite hulle aandeel in goud, silwer en bitcoin ingepalm. As pryse van hierdie bates dramaties styg, gaan dit lei tot ‘n enorme oordrag van welvaart na diegene wat vroegtydig hierdie bates aangekoop het.

5.00 avg. rating (97% score) - 3 votes
Bouwe van der Eems
  • Bouwe van der Eems
  • Bouwe van der Eems en sy vrou Debbie het hulle 5 kinders tuis opgevoed sedert 2000. In 2002 het hy betrokke geraak by tuisonderwysorganisasies toe hy trustee geword het van die Pestalozzi Trust, ‘n regsfonds vir tuisonderwys.
    In 2011 het hy en sy gesin die aanlyn platform SAHomeschoolers.Org gebou, met die doel om die beginpunt te wees vir almal wat belangstel in tuisonderwys en hulle deel te maak van die tuisonderwys ekostelsel. In 2013 het hulle in samewerking met KragDag begin om tuisonderwys ekspo’s te organiseer.
    Bouwe het ‘n MSC graad in elektroniese ingenieurswese by the Universiteit van Stellenbosch verwerf en is ’n geregistreerde professionele ingenieur. Hy speel ook die Franse Horing en is saam met sy kinders in die Bellville Hoër Simfoniese Blaasorkes. Hy en sy gesin woon in Kaapstad en hy is ook ‘n aktiewe lid van die plaaslik inwonersverenigings.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui