Sosiale media en jou privaatheid
Teen hierdie tyd het jy seker al verneem van die Whatsapp privaatheidsdebakel. Indien nie, hier is dit in kort:
Vanaf die 8ste Februarie 2021 sou jy nie meer van Whatsapp gebruik kon maak, tensy jy die nuwe bepalings en voorwaardes aanvaar nie. Dit stipuleer dat Facebook, eienaar van Whatsapp, toegang sal kry tot jou inligting om gefokusde advertensies aan jou te bied. Na miljoene lede na alternatiewe opsies gevlug het, is die datum egter verskuif na Mei 2021.
Dit het die spreekwoordelike knuppel in die hoenderhok gegooi en bring opnuut die privaatheidskwessie van sosiale media onder die vergrootglas.
Gebruikers van hierdie gewilde toep, met meer as 2 miljard aktiewe lede, het begin vlug na alternatiewe opsies soos Telegram en die Elon Musk-aanbeveelde Signal. Whatsapp se woordvoerder het op sy beurt gebruikers die versekering gegee dat nie hulle of Facebook jou privaat boodskappe kan lees of inluister op jou oproepe nie. Hulle noem ook dat boodskappe nie op hulle bedieners gestoor word nie, maar uitgevee word sodra dit afgelewer is by die bedoelde ontvanger.
Ter agtergrond moet ons kyk na die geskiedenis van Facebook en Whatsapp. (Ons sal vir die oomblik Instagram,wat ook aan Facebook verkoop is, uit die vergelyking laat.) Facebook het in Februarie 2014, Whatsapp gekoop teen ‘n bedrag van $19 miljard. As deel van die proses het hulle beloof om die privaatheid van gebruikers te beskerm en geen veranderinge aan bestaande beleid te maak nie. Dit was standaard prosedure om inligting tussen die toeps te deel, maar gebruikers kon op enige stadium hierdie funksie afskakel.
Daar is nou ‘n algehele ommekeer ten opsigte van die belofte gemaak en die uitteken-opsie sal verwyder word. Indien jy nie die nuwe bepalings en voorwaardes aanvaar nie sal jy ook nie verder van Whatsapp gebruik kan maak nie.
In ongeveer 8000 woorde wartaal, word die nuwe beleid uitgedruk op ‘n manier wat normale mense skaars sal verstaan. Om dit in kort te stel, sal Facebook toegang hê tot al jou inligting waaronder jou ligging, batteryvlak, selfoon-netwerk, kontaknommer en jou IMEI-kode (Dit is jou selfoon se vingerafdruk).
Onder die nuwe beleid is ook spesiaal voorsiening gemaak vir ‘n “Transaksies en Betalingsdata”-klousule wat stipuleer dat indien jy van Whatsapp se betalingdienste gebruik maak, hulle byvoorbeeld die volgende inligting van jou sal kan verkry: betalingsmetode, afleweringsbesondere asook die betrokke bedrae.
Alhoewel dit algemene kennis is dat sekere van jou persoonlike inligting ‘n geruime tyd reeds tussen die maatskappye gedeel word, het hierdie ultimatum vele gebruikers warm onder die kraag gelaat. Baie mense voel dat jou besonderhede reeds in die kuberruim lê en dat hierdie nuwe verwikkeling geen verskil sal maak nie, terwyl ander mense van mening is dat dit dalk nie hulle persoonlik sal beïnvloed nie, maar dat dit teen hulle beginsels indruis.
Oor die volgende paar weke gaan ons die verskillende hoofstroom sosiale media toeps sowel as hulle alternatiewe ondersoek in ‘n reeks artikels, waarna ons hoop lesers sal ingeligte besluite kan maak indien hulle na ander opsies wil migreer.
Baie netjiese opsomming, dankie Sone.
Ek het die nuwe bepalings so ent in gelees en dadelik besef hulle weerspreek hulself baie, veral as dit kom by jou inligting deel met derde partye. Ek kon sover alles doen met Signal en Telegram wat ek kon doen met WA, maar ek vind Signal die beste wat privaatheid aanbetref. Dis soms steurend as mense kan sien dat jy aanlyn is en Signal het doelbewus daai funksie uitgelaat sodat jy in vrede kan boodskappe lees of stuur. Mense moet nie bang wees om hul geliefkooste WA te verlaat nie, want die waarheid is dat WA is al van 2014 af eintlik deel van fb, en fb het geen respek vir ons privaatheid nie. Sien meer by project veritas punt com
Dankie, vir inligting.
Daar het nou reeds 2 weke verloop sedert die artikel hierbo. Intussen het daar heelwat nuwe insigte oor die onderwerp aan die lig gekom waarvan mense dalk moet kennis neem. Dit is nou duideliker dat die nuwe WhatsAppreëls te doen het met WhatsApp Business in ‘n poging om daardie besighede by te staan met meer toepaslik bemarkingsinligting. Wat egter BAIE kommerwekkend is dat heelwat mense Telegram gekies het as alternatief. Hierdie platform gebruik NIE ‘end-to-end encryption’ NIE tensy jy dit so forseer. Meer belangrik is die ongekontroleerde (en uiters maklike bekombare) toegang tot ERNSTIG ongewensde groepe wat onwettige media versprei. Hierdie toepassing is na my mening BESLIS nie geskik vir gebruik deur minderjariges nie. Miskien is dit tyd vir ‘n (deeglik nagevorste) opvolgartikel deur die skrywer? Lees gerus ook hierdie artikel: https://businesstech.co.za/news/technology/460204/what-south-africans-should-know-about-the-changes-to-whatsapp-legal-expert/?utm_source=everlytic&utm_medium=newsletter&utm_campaign=businesstech