Boekresensie: Plekname van Suider-Afrika

Titel: Plekname van Suider-Afrika

Outeurs: Peter E. Raper, Lucie A. Möller, L. Theodorus du Plessis

ISBN:  978-1-4853-0760-0

Ek is baie opgewonde oor hierdie waardevolle naslaanbron getiteld Plekname van Suider-Afrika wat Protea Boekhuis pas gepubliseer het en waarvan Cornelia Geldenhuys die Afrikaanse vertaling gedoen het.

Die hersiene vierde uitgawe van die Dictionary of Southern African Place Names is deeglik bygewerk en hou nagenoeg 9 000 kort aantekeninge oor die oorsprong van die name van dorpe, stede, riviere, berge, streke, spoorwegstasies, monumente, vuurtorings, ens. Die lokteks op die agterblad lui: “Plekname van Suider-Afrika is meer as net ’n naslaanwerk; dit bied insig in die ontstaan van plekke, hul inwoners, geskiedenis, gewoontes en waardes.”

Hierdie gesaghebbende pleknaamboek sal die ideale geskenk maak vir skrywers, joernaliste, onderwysers, toergidse, reisigers, avonturiers, toeriste en enigeen wat geïnteresseerd is oor die herkoms en betekenis van geografiese name. Die omvangryke naamlys bevat ook data van bronne wat tot meer as vyf eeue oud is en is tjokkenblok vol interessante inligting soos alternatiewe name en die jongste naamsveranderinge. Die publikasie beslaan 808 bladsye en is moontlik gemaak deur ruim subsidies van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK), die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) en die L.W. Hiemstra Trust.

“Alhoewel plekname gewoonlik in ’n spesifieke taal ontstaan, word dit ook deur sprekers van ander tale gebruik, en word dit deel van die woordeskat van die ontvanger se taal, al is dit soms in ’n vorm wat aangepas is na die fonologiese en ortografiese sisteem van die ontvangertaal. Die plekname van ’n land vorm dus ’n gedeelde woordeskat van al die mense in daardie land en is derhalwe ’n nasionale bate. Hierdie taalkundige erfenis is van onskatbare waarde en behoort gekoester en bewaar te word” (11).

Elke inskrywing voldoen aan die minimum aanbevole vereistes van die Verenigde Nasies se resolusies aangaande plekname. Hoewel die name van belangrike geografiese entiteite in buurlande (spesifiek Botswana, Lesotho, Namibië en Eswatini) asook dié op Marioneiland ingesluit is, was dit nie die bedoeling om al die Suider-Afrikaanse lande in te sluit nie. Die Inleiding bevat waardevolle inligting oor hoe internasionale en nasionale standaardisering, beginsels, riglyne en verskeie konvensies en taalvereistes oor geografiese name in ag geneem is. Duidelike riglyne word aan die verbruiker voorgehou om die maksimum voordele uit die hardebandboek te put.

Ek sal my kopie van Plekname van Suider-Afrika nie slegs vir naslaanwerk gebruik nie maar sommer ook om my algemene kennis op te knap. Die teks is toeganklik en maak vir baie interessante leesstof vir kenners én leke. So lees ek bv. dat daar onsekerheid bestaan oor na watter persoon met die naam Jeffreys my tuisdorp, Jeffreysbaai, genoem is … “miskien J.A. Jeffreys, wat in die eerste helfte van die 1880’s ’n handelspos hier gehad het; of die kaptein Jeffreys van ’n gestrande skip wat oorleef het deur ’n hut van die wrakstukke te bou; of die kaptein van ’n walvisboot van St. Helena wat die eerste handelshuis hier geopen het” (314). En juis hierin lê die lekkerte van dié pragpublikasie – dis ’n skatkis vol inligting wat wag om ontdek te word.

Meer oor die outeurs van hierdie enorme werk:

Prof. Peter E. Raper is o.m. buitengewone hoogleraar en navorsingsgenoot in die Fakulteit Geesteswetenskappe aan die Universiteit van die Vrystaat.

Dr. Lucie A. Möller is o.m. navorsingsgenoot in die Fakulteit Geesteswetenskappe aan die Universiteit van die Vrystaat.

Theodorus du Plessis is o.m. professor in Taalbestuur en hoof van die Departement Suid-Afrikaanse Gebaretaal en Dowestudies aan die Universiteit van die Vrystaat.

Skaf jou kopie van Plekname van Suider-Afrika hier aan.

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

One Comment

  • Dis ‘n welkome ontwikkeling om hierdie boek, waarvan ek die oorspronklike Engelse weergawe het, nou ook in Afrikaans te sien. Hy gaan beslis deel van my boekversameling word.

    Dis ‘n boek wat ‘n uitstekende handleiding is vir enigiemand wat gou wil naslaan hoe ‘n plek sy naam gekry het. Van stede tot klein plekkies word behandel. Ook riviere en berge kry aandag. Selfs ‘n piepklein gehuggie soos Soebatsfontein in Namakwaland kom aan bod.

    Die behoefte om die oorsprong van die pleknaam te weet ontstaan so maklik as jy op reis is of dalk tuis na ‘n geografiese kaart, dalk in ‘n atlas van Suid-Afrika, sit en kyk.

    Dis ‘n heel nuwe wêreld wat vir jou oopgaan as jy jou reis beplan met vooraf raadpleging van die boek – oor die plekke op jou pad. Jy ry dalk ‘n draai net om na daai plek waarvan jy in die boek gelees het, te gaan kyk.

    Ek kan werklik aanbeveel dat motoriste die boek byderhand hou wanneer op reis.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui