
Die Covid-narratiewe
Van die begin af was die Covid-gesondheidramp kontroversieel, met verskeie narratiewe in omloop. Hierdie artikel beskryf hierdie verskillende narratiewe en hulle gevolge.
Die amptelike narratief – Katastrofe en diktatuur
Toe die inperking aangekondig is middel Maart, het die president dit gebaseer op die amptelike narratief van: Suid-Afrika word bedreig deur ‘n katastrofale gesondheidsramp. Die enigste manier om hierdie ramp te voorkom is ‘n drakoniese inperking.
Om die inperking te regverdig, moet die ramp werklik katastrofaal wees. Die hoeveelheid sterftes moet in die honderde duisende of miljoene wees, anders sal die ramp nie veel groter wees as normale rampe soos tuberkulose, malaria, VIGS ens. nie. Anders gaan dit nie die ekonomiese reperkussies van honderde duisende werkloses regverdig nie. Dit is inderdaad wat sommige wiskundige projeksies aanvanklik aangedui het.
Om die inperking te regverdig, moet daar ook grondige redes wees om te glo dat die inperking die ramp gaan afweer. Met die instelling van die inperking was dít egter onmoontlik, aangesien daar geen vergelykende studies was wat verskillende maniere om die ramp te hanteer beoordeel het nie.
Toe die inperking aangekondig is, was min mense bewus van ander narratiewe en dus was daar min rede om die amptelike narratief te bevraagteken. Die president is daarom uit alle oorde geprys vir sy moedige optrede in hierdie krisis.
Kontra-narratief 1 – “Lives & Livelihoods”

Met die afkondiging van die verlenging van die inperking het die ekonomiese gevolge sigbaar begin raak. Baie mense wat daaglikse en weeklikse lone ontvang het, het nou al geruime tyd sonder inkomste gesit.
Die eerste kontra-narratief het toe prominent geword: Suid Afrika word bedreig deur ‘n katastrofale gesondheidsramp. Die enigste manier om hierdie ramp te voorkom is ‘n drakoniese inperking. Die inperking moet egter geleidelik verslap word om te verhoed dat mense nie onnodig hulle lewensonderhoud verloor nie.
Kontra-narratief 1 is die “lives” vs. “livelihoods” argument. Hierdie narratief was die basis vir die IRR (South African Institute of Relations) se voorstel vir die risiko-gebaseerde inperkingsvlakke. Hierdie voorstel is oorgeneem deur die president en op 23 April kondig hy aan dat die inperking op grond van risikovlakke verslap gaan word.
Kontra-narratief 2 – Onsekerheid
Voordat risikovlakke nog geïmplementeer is, het die tweede kontra-narratief op populêre potgooie begin verskyn. Die besef het deurgedring dat die onderskeid tussen lewe (life) en lewensonderhoud (livelihood) ‘n valse onderskeid is. As jy mense se lewensonderhoud wegneem, neem jy nie net hulle waardigheid weg nie, maar uiteindelik baie van hulle lewens. Dit lei tot die morele vraag hoe die president kan besluit om sekere mense van armoede te laat sterf, om ander van siekte te red?
Intussen word die een na die ander studie bekend wat aandui dat die Covid-pandemie nie veel erger as normale griep is nie. Omdat die president nie die statistiese bron vir sy besluite publiek wil maak nie, wonder mense toenemend wat hy wegsteek. Dit het ook algemeen bekend geword dat sommige lande, soos Swede en Taiwan, wat nie tot inperking oorgegaan het nie, die ramp ewe suksesvol afgeweer het as ander lande wat wel inperking gehad het.
Dit is die gronde vir kontra-narratief 2: Dis nie seker dat Suid-Afrika bedreig word deur ‘n katastrofale ramp nie. Dis nie seker of inperking die enigste manier is om die ramp te voorkom nie. Dis nie geregverdig om die ekonomie te vernietig gebaseer op onsekerhede nie.
Gevolge van die narratiewe
Die interaksies van die narratiewe het ‘n verskeidenheid gevolge:

- Aanvanklik is die burgerlike samelewing onkant gevang deur die amptelike narratief, wat gelei het tot grootskaalse ondersteuning van die inperking. Die president was in totale beheer van die inperking.
- Toe die eerste kontra-narratief verskyn het, het die president vinnig daarop gereageer deur ‘n risikogebaseerde verslapping aan te kondig. Die president kon verklaar dat die inperking suksesvol was en dus verslap kan word. Verder het hy ‘n R500 miljard pakket aangekondig om die negatiewe gevolge van die inperking aan te spreek. Weereens is die president uit alle oorde geprys vir sy optrede.
- Voordat die verslapping nog in werking gestel is, het die tweede kontra-narratief publisiteit begin kry. Die president was nie voorbereid op hierdie narratief nie. Dit het daartoe gelei dat hy beheer begin verloor het oor die intellektuele begronding van die inperking. Die enigste manier om ‘n skyn van beheer te behou is deur die grootste ontplooiing van die weermag ooit. Hierdie ontplooiing het egter ook newe-effekte. Elke brutale optrede van die polisie of weermag wek herinnerings op van die noodtoestand van apartheid. Die veiligheidsrade van Ramaphosa begin lyk soos die veiligheidsrade van PW Botha. Die hoed van die minister van polisie begin lyk soos die hoed van PW Botha. En die vraag word gevra of die geweerlope van 73 000 weermagslede in staat gaan wees om die geloof in die amptelike narratief in stand te hou. Hoeveel mense sal moet sterf om Ramaphosa van sy verleentheid te red?
- Die Covid-krisis het politieke partye en ook burgerregte-organisasies gemarginaliseer. Byna almal het die amptelike narratief aanvanklik entoesiasties ondersteun en die president geprys vir sy optrede. Die EFF wou selfs nog veel meer drakoniese maatreëls instel. Hulle kan geen fundamentele kritiek op die president hê sonder om die tweede kontra-narratief te aanvaar nie. So iets is egter moeilik na hulle entoesiastiese steun vir die amptelike narratief.
- Die ekonomiese gevolge van die inperking het ‘n punt bereik waar mense begin hongerly het. Ondanks al die verligtingsmaatreëls wat aangekondig is, gaan die staat sukkel om die hongerlydendes te help. Verder het inperking die burgerlike samelewing se vermoë lamgelê om diegene in nood te help. Dit lei tot ‘n groeiende protesaksie.
- Die president het beraam dat R500 miljard nodig is om die ekonomiese skade aan te spreek. Die grootste deel van hierdie geld sal internasionaal geleen moet word by instansies soos die IMF, Wêreldbank, Brics Bank ens. Suid-Afrika sal moet kompeteer met ander lande vir hierdie lenings. Die internasionale instansies se terme en voorwaardes gaan die ANC dwing om ideologie-opofferings te maak. Opofferings soos swart bemagtiging, onteiening van grond, minimum-lone, ‘n groot staatsdiens, ens.
- Godsdiensleiers begin die vraag vra of hulle meer gehoorsaam moet wees aan die president as aan God of Mohammed. Groepe het weer begin vergader vir godsdienstige byeenkomste. Sommige byeenkomste is geweldadig deur polisie opgebreek. Hierdie optrede forseer ‘n situasie waar die president hom moet uitspreek of hy belangriker is as God/Allah of nie. Dis ‘n vraag wat ‘n voormalige Sowjet of Chinese staatshoof met selfvertoue sal kan antwoord, maar in Suid-Afrika kan so ‘n uitspraak katastrofale gevolge hê vir die regering.
Hoe nou verder?
Vanuit die ivoortoring van die president lyk sake duister. Dit maak nie saak in watter rigting hy kyk nie, oral staar hy ‘n afgrond tegemoet.
Om die ekonomie te red moet die inperking vinnig verslap word en baie geld geleen word. ‘n Vinnige verslapping gaan groot vraagtekens oor die amptelike narratief werp, en sy reputasie vernietig. As baie geld geleen word, sal ideologie opgeoffer moet word.
Om die amptelike narratief te behou moet die inperking stadig verslap word terwyl die ekonomie ineenstort. Terwyl dit gebeur sal die weermag elke dag groeiende honger skares konfronteer. Meer en meer godsdienstige byeenkomste sal opgebreek moet word. Ramaphosa sal dalk slagtings op sy kerfstok hê wat Sharpville en Marikana soos vulletjies laat lyk.
Die president is nou tussen die duiwel en die diep blou see. Die IRR het hom gehelp om na kontra-narratief 1 te beweeg. Met almal wat gemarginaliseer is deur die aanvaarding van die amptelike narratief, staan hy nou alleen by die kruispad. Die een pad lei na verleentheid en hoop. Die ander na armoede en bloed.