Ek kan slaap in winderige nagte – deel 2

Die see – net soos die lewe – is ’n gestrenge leermeester. Die beste manier om met elkeen oor die weg te kom is om alles te leer wat jy kan, dan jou beste te doen en … om jou nie te bekommer nie – veral nie oor dinge waaroor jy geen beheer het nie.

In deel 1 het ons gelees dat Admiraal Nimitz voorberei het vir ‘n see-aanval nadat hy inligting bekom het dat die Japannese vloot ‘n aanval op die Midway-eiland beplan.

Op die 4de Junie 1942 het ‘n Japannese vloot, onder leiding van Vise-admiraal Nagumo, hulself ongeveer 400 km

‘n Japannese Nakajima B5N toegerus as torpedo-werper.

noord-wes van die Midway-eiland geposisioneer – gereed om ‘n aanval op die eiland te doen.  Dié vloot het bestaan uit 4 vliegdekskepe (Akagi, Kaga, Hiryū en Sōryū) met gevorderde vliegtuie en ook goed-opgeleide personeel wat alrééds oorlogsondervinding tydens die Pearl Harbor-aanval asook in die Koraalsee gehad het. Op papier was Japan die meer gedugte mag. Vroegoggend word ‘n gekoördineerde aanval deur ‘n hele swerm vliegtuie vanaf al vier Japannese vliegdekskepe uitgevoer. Maar… terwyl die Japannese die eiland aanval, merk hulle op dat ‘n sleutelteiken, ‘n aantal Amerikaanse bomwerpers, nie op die eiland was nie. Hulle het reeds vroeër die oggend opgestyg en ‘n ruk later hoog bokant die Japannese keiserlike vloot verskyn om hulle bomme te gooi. Die probleem was egter dat vanaf die hoogte waar die bomme losgelaat is, het dit 37 sekondes geneem om hulle teiken te bereik. Die geteikende skepe kon gevolglik die bomme by wyse van maneuvrering ontwyk. Hierdie aanval het vir die Japannese bevelvoerder sekerlik duidelik gemaak dat die Midway-aanval toe nie so ‘n groot verrassing was nie! Nadat die aanval tot ‘n einde gekom het, het Nagumo besluit om die eiland vir ‘n tweede keer aan te val om alle teenstand uit te wis. Die vliegtuie tot sy beskikking was egter, in afwagting van die aankoms van Nimitz se vliegdekskepe, toegerus met torpedo’s. Hy het opdrag gegee dat die vliegtuie met bomme uitgerus word om weereens ‘n landaanval te doen. Dit sou egter tussen 90 minute en 2 ure neem om dié omskakeling te doen.

Amerikaanse vliegdekskip USS Enterprise (CV-6)

Dertig minute later bereik slegte nuus Nugumo oor die radio. ‘n Verkenningsvliegtuig het Amerikaanse skepe in die omgewing van Midway waargeneem. Hy was reeds verbind tot ‘n landaanval op die Midway-eiland terwyl ‘n see-aanval, wat hy eers na drie tot vier dae verwag het, skielik ‘n onmiddelike werklikheid geword het! Die proses om die vliegtuie vir ‘n landaanval toe te rus was reeds halfpad voltooi. Nagumo het geweet dat die vernietiging van Amerikaanse vliegdekskepe die primêre doel van die operasie was en dat die aanval op die eiland slegs ‘n lokaas was om die Amerikaners na die eiland te lok. Opdrag is dus onmiddellik gegee dat al die vliegtuie na ‘n see-aanvalkonfigurasie terugverander moes word. Alhoewel daar op daardie stadium inderdaad vliegtuie was, wat as torpedo-werpers toegerus was, het Japannese vlootdoktrine verhoed dat hulle kon opstyg omdat enige aanval slegs met ‘n ten volle gekoördineerde eskader uitgevoer kon word. Nagumo het gevolglik 2 ure gewag om al sy vliegtuie see-aanvalsgereed te kry en het sodoende krities belangrike tyd verspeel. In die tydsdrukte wat gevolg het, is die omgeruilde landaanvalswapens en -ammunisie nie op die voorgeskrewe manier geberg nie. Dit het elke vliegdekskip dus in ‘n kruitvat verander!

 

Amerikaanse Vloot Grumman TBF-1 Avenger torpedo-werpers in vlug

Met die voorafkennis van die beoogde Japannese aanval het Nimitz,

Mitsubishi A6M Zero vegvliegtuig

met 3 vliegdekskepe, die USS Hornet, die USS Enterprise en die USS Yorktown, ‘n posisie noord van Midway-eiland ingeneem. Die Yorktown is na die slag in die Koraalsee terug na Pearl Harbor gesleep waar dit in ‘n rekordtyd van 3 dae weer seewaardig en slaggereed gemaak is. Midway-eiland self, met sy aanloopbane, kon as ‘n onsinkbare vierde vliegdekskip dien. Sewe-uur daardie oggend van 4 Junie was Nimitz gereed vir sy eie verrassingsaanval op die Japannese vloot. Eskaders torpedo- en duikbomwerpers het vanaf die Hornet en Enterprise opgestyg. ‘n Aantal faktore het egter veroorsaak dat die aanval op die Japannese vloot vir die Amerikaners veel meer uitdagings ingehou as wat op die oog af geblyk het. Eerstens was moderne navigasie-, verkennings- en inligtingstelsels nie beskikbaar nie en die Amerikaners het nie presies geweet waar die Japannese skepe was nie. Tweedens was die aanval ongekoördineerd en daar was geen ondersteuning van eie vegvliegtuie vir torpedo-werpers teen vyandelike vegvliegtuie nie. In die derde instansie het die torpedo’s inherente foute gehad en die sukseskoers dat ‘n torpedo sou ontplof en skade aanrig was minder as 10%. Die eerste aanval op die Japannese vliegdekskepe is gedoen met 3 eskaders van torpedo-werpers onderwyl die Japannese personeel besig was om die aanwendingsomskakeling te doen. Onmiddellik was dit duidelik dat die aanval ‘n fiasko vir die Amerikaners was. Die stadige en ontoereikend bewapende torpedo-werpers is deur die rats en baie vinniger Japannese Mitsubishi Zero-vegvliegtuie afgemaai. Van die disfunksionele torpedo’s wat gelanseer is, het min ontplof as die teiken getref is. Die Amerikaanse voordeel van ‘n teen-verrassingsaanval is spoedig tot niet gemaak! ‘n Slagting is aangerig aan die torpedo-werpeskaders en slegs 4 vliegtuie het na hulle vliegdekskipbasis teruggekeer. Skielik was die Japannese vloot weer in beheer van die slag!

Maar, wat het van die duikbomwerper-eskaders geword? Hulle is in ‘n verkeerde rigting gestuur, hulle brandstofvlakke was laag en hulle was hopeloos verdwaal. Hulle het nie ‘n GPS of satelietkommunikasie gehad nie. Hulle was midde die wye vormlose Stille Oseaan – so ver as die oog kan sien. Die vyand was ook nie op die plek waar hulle gedink het hulle behoort te wees nie. Die stryd het al meer in Nugumo se guns geswaai. Die torpedo-aanslag wat hy die meeste gevrees het was suksesvol afgeweer. Dit was nou net ‘n kwessie van tyd. Hy kon sy aandag wy aan die voorbereiding van ‘n gekonsentreerde aanval van torpedo-werpers vanaf 4 vliegdekskepe en só die Amerikaanse Stille Oseaanvloot ‘n nekslag toedien. Eintlik was dít die hele Amerikaanse vloot … daar was geen reserwemag nie! Van hier af sou die Japannese weermag ontembaar wees! Maar, daar sou egter ‘n laaste kinkel in hierdie sage wees. Om 10:25, daardie oggend van 4 Junie 1942 was Japan besig om die oorlog in die Stille Oseaan te wen. Binne 5 minute sou die pendulum na die ander kant toe swaai en is die koers van die wêreldgeskiedenis radikaal verander…

Ver uit op die oseaan het die eskaderleier van die verdwaalde duikbomwerpeskader ‘n Japannese torpedojaer gewaar. Alhoewel die Japannese vloot nie gesien is nie, het die eskaderleier besluit om ondersoek in te stel. Die hele eskader se brandstofvlakke was só laag dat hulle waarskynlik nie hulle basis terug sou haal nie. Tien minute later verskyn die Japannese vloot op die horison. Op dieselfde tyd verskyn duikbomwerpers van die Yorktown ook die toneel. Heel onbepland is die Amerikaners in ‘n posisie geplaas dat die Japannese vloot met 4 duikbomwerper-eskaders vanuit twee rigtings en vanuit verskillende hoogtes aangeval kon word. Japannese vegvliegtuie was steeds besig om torpedo-werpers te agtervolg wat, behalwe vir lugafweerkanonne, die Japannese vloot weerloos gelaat het. Die Japannese skepe het nie radar gehad nie en die duikbomwerpers is eerste deur ‘n Japannese uitkykpos gewaar. Teen ‘n hoek van 80 grade, onder flak, het ‘n silwer kaskade van duikbomwerpers teen ‘n skrikwekkende snelheid op hulle teikens afgepyl.  Die geverfde Japannese rooi son embleem, die Hinomaro, op die dekke van die Japannese vliegdekskepe was ‘n uitstekende mikpunt vir die duikbomwerpers om na te korrel. Op daardie stadium was Amerikaanse bomwerpervlieëniers reeds baie ervare en het hierdie bomwerptegniek weens baie oefening en oorlogsblootstelling goed onder die knie gehad. Met ongelooflike akkuraatheid is 3 Japanese vliegdekskepe in ‘n kort tydsbestek van ongeveer 5 minute met voltreffers getref. In ‘n kwessie van minute is ‘n verwagte oorwinning in ‘n skouspelagtige nederlaag vir die Japannese verander. Admiraal Nagumo is gedwing om sy brandende vlagskip te verlaat. Terugkerende Japannese vegvliegtuie moes noodgedwonge noodlandings in die see doen!

In ‘n eindpoging om die situasie te beredder word die laaste Japannese vliegdekskip, die Hiryū, aangewend om ‘n direkte aanval op die Amerikaanse vloot te doen. Die Yorktown word aangeval en weereens beskadig. Tog het hierdie skip die laaste sê in die slag. Duikbomwerpers van die skip kry dit reg om op te styg en sink die Hiryū in ‘n aanval. Vier vliegdekskepe, die kern van die Japannese vloot is tot niet gemaak. Dit sou ‘n draaipunt in die oorlog in die Stille Oseaan inlui. Die koste aan menselewens was ontsettend hoog met 3 000 man van beide magte wat in die slag gedood is. Heldedade aan beide kante is verrig. Vir die Japannese bevelvoerders was dit ‘n verwoestende nederlaag. Admiraal Nimitz was die man van die oomblik, maar verál hy het besef dat as dit nie was vir onverwagte en onvoorspelbare gebeure voor die slag nie, kon die uitslag heel anders verloop het. Nimitz sou die vlootaanvoerder wees vir die res van die oorlog. Toe sy tyd aangebreek het om as bevelvoerder vir die Stille Oseaanvloot op te tree, het hy reeds geleer wat hy kon. Hy het na sy mense geluister, gedagtes en idees getoets en sinvolle afleidings gemaak. In groot onsekerheid het hy net eenvoudig sy bes gedoen en sy ondergeskiktes daartoe geïnspireer.

“Ek kan slaap in winderige nagte…”

Gedagtig aan die leuse van Nimitz het ek onthou van ‘n storie wat op my as jong seun ‘n groot indruk gemaak het. ‘n Jong seun het werk by ‘n boer gekry. Op navraag van die boer oor die seun se ondervinding  en vermoëns het die seun net geantwoord dat hy … “kan slaap in winderige nagte”. Hierdie was ‘n baie vreemde opmerking vir die boer, maar omdat hy van die seun se oop, eerlike gesig gehou het, het hy tog die seun aangestel. Na ‘n verloop van tyd word die boer een nag wakker as gevolg van ‘n geweldige wind- en reënstorm wat buite gewoed het. Die boer het opgestaan om die seun wakker te maak, maar Victor het so vas geslaap dat die boer hom nie kon wakker kry nie. Baie boos, met ‘n voorneme om die seun die volgende dag in die pad te steek, het hy self gegaan om na sy boerdery in die storm om te sien. Groot was sy verbasing om te sien dat die stalle netjies toe was en die diere versorg en rustig. Die hooimiedens was deeglik toegemaak om te keer dat die hooi verwaai. Alles was versorg en voorsorg is vir voorsiene gebeure getref. Die boer het terug gedink aan die woorde wat die seun voorheen gesê het: “… ek kan slaap in winderige nagte”. Victor het sy werk by die boer behou.

Erkenning: Hooffoto

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui