Boekresensie: Geloof in ’n tyd soos hierdie

Titel: Geloof in ’n tyd soos hierdie

Outeur: Jan du Rand

Uitgewer: CUM

ISBN: 978 1 4316 2250 4

Geloof in ’n tyd soos hierdie

deur Jan du Rand

“Verandering het die daaglikse spyskaart van ons lewe geword en aanpassing die oorlewing.” Hierdie woorde deur prof. Du Rand in die Voorwoord van Geloof in ’n tyd soos hierdie het my oortuig om die boek te lees en diep na te dink “oor hierdie uitdagende en gevaarlike lewe, waarin dinge teen ’n ontsaglike tempo verander.”

Natuurlik is die groot vraag of die omwentelinge in ons lewens ons geloof laat wankel, véral as ons nie seker is oor wat volgende kan gebeur nie. Tans verkeer die inwoners van lande oor die wêreld heen in onsekerheid en vrees oor die verwoestende uitwerking wat die Covid-19-virusuitbraak op ons lewens, die ekonomie en ons toekoms mag hê. Dan is daar ook nog al die ander skrikmakers soos aardverwarming en natuurrampe, geweldsmisdaad, politieke onsekerheid en korrupsie, en armoede en werkloosheid wat steeds op loer lê. Prof. Du Rand vra tereg op die agterblad of “die angswekkende realiteite van finansiële ineenstorting, voedseltekorte, rassehaat en korrupsie” ons angstig laat rondkyk. “Wonder jy of God nog in beheer is? Twyfel jy of Hy nog weet van jou?”

Geloof in ’n tyd soos hierdie is die ideale leesstof vir diegene “wat wonder of dit nog die moeite werd is om in God te glo en of God se beloftes in die Bybel steeds geld” (16). Maak geloof nog sin wanneer ons op die treinspoor leef? Beklee die Bybel nog ’n beslissende plek in ons geestelike denke? “Onsekere Christene kry swaar in ’n wêreld van kloning, ontsporing en algehele chaos. Alles het verander en ontaard. Godsdiens lyk net nie meer na die anker wat almal saambind nie” (20).

Dit is die outeur se innige wens dat lesers deur dié publikasie gelei sal word “om geloof beter te verstaan en dinamies te gaan leef, en om jou weer coram Deo te plaas, dit is voor die aangesig van God” (17). Hy sit weer die grondwaarhede van die Christelike geloof bymekaar en herinner die leser hieraan: “Feit van die saak is dat jy jou geloof in Jesus Christus kan bely en glo Hy het jou lief, maar alvorens daar nie situasies in jou lewe kom waarin jy moet optree volgens die eise van God se koninkryk nie, sal jou geloof nooit volwassenheid bereik nie” (23). “Deur te glo, hou jy vas aan God se onuitblusbare goedheid” (26).

Geloof in ’n tyd soos hierdie beslaan 147 bladsye. Prof. Du Rand slaag daarin om die leser op ’n gemaklike geselstrant aan te spreek met gepaste empatie en meelewing. Hy bemoedig die gelowige om vas te hou aan God en sy Woord deur voorbeelde en aanhalings uit die Skrif. Hy verduidelik, sonder om die leser te veroordeel omdat dié – eg menslik – durf wonder en twyfel, en gee die versekering dat twyfel nog lank nie ongeloof is nie. Hy gee dan ook ’n opsomming op bladsye 46 en 47 oor presies wat geloof nou weer is.

Ek het veral hoofstuk vier getiteld, “Het die basiese Christelike waarhede nog staanplek in ons tyd?”, baie interessant gevind. Hier besef lesers opnuut weer wáárin hul glo en in Wié hul glo aan hand van die Geloofsbelydenis. In hoofstuk vyf word lesers opgeroep tot dissipelskap en die uitleef van hulle geloof, want “Geloof gee perspektief; dit wil sê, om die groter prentjie van God en mens se verhaal raak te sien en jou eie plek binne hierdie prentjie te herontdek” (132). Daar is ook die oproep om, ten spyte van ons omstandighede, nie die doel en sin van die lewe te verloor nie. “Elke mens wil weet of ten minste verstaan wat die rede vir sy bestaan is. Die lewe moet die moeite werd wees, anders het dit beperkte betekenis. Nie volgens menslike maatstawwe nie, maar volgens God se wil en doel met jou lewe. Daar bestaan by my geen twyfel nie dat dit beslis geloof in God is wat die daaglikse lewe die moeite werd maak om te leef” (133).

Vir my is die treffendste sin in Geloof in ’n tyd soos hierdie die Latynse spreuk op bl. 136: Gaudiem in Domino parit veram aequitatem, wat beteken: “Blydskap in die Here bring ware gemoedsrus.” En natuurlik ook: “Hou styf vas aan God in ’n tyd soos hierdie – Hy was en is en sal altyd dieselfde bly” (147). Al lyk die wêreld soos dit lyk, hou jý vas aan Hom.

Meer oor die outeur

Jan du Rand is ’n Nuwe-Testamentiese vakspesialis in Johannese geskrifte, veral Openbaring, asook die Bybelse eskatologie. Hy is ’n veelbekroonde skrywer en het onder andere die Andrew Murray-prys meer as een keer ingepalm. Hy het ook die Pieter van Drimmelen-medalje van die SA Akademie vir Weenskap en Kuns en die Eeufeesmedalje vir Teologie van die Universiteit van die Vrystaat ontvang.

Geloof in ’n tyd soos hierdie kan HIER bestel word.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui