Tegnologie en Covid-19

Op Vrydag, die 1ste Mei, spring ek in my kar om die 3250 km heen en weer tussen Kaapstad en Pretoria so vinnig as moontlik kaf te draf. Dit neem my 37 ure op die pad en ek moet 15 padblokkades trotseer. Vanweë die aandklokreël, wat vir elke dag tussen 20:00 en 05:00 ingestel is, kon ek egter eers vier dae later, mét my dogter, veilig in Pretoria stop.

Ek moes hierdie ekspedisie aanpak nadat my dogter vir haar tannie gaan kuier het en sy weens die grendelstaat in Kaapstad vasgekeer was. Ons het aanvanklik gedink dat sy net nodig sou hê om vir twee weke te wag. Intussen het dit vir ons elkeen duidelik geword dat die grendelstaat, in die maande en jare wat gaan volg, ‘n ingrypende invloed op ons lewens sal hê. Dit is ook duidelik dat ‘n gebeurtenis van hierdie omvang net elke 100 jaar plaasvind:

Skielik moet almal wat kan, van die huis af begin werk. Virtuele vergaderings het nou alledaags geword en kinders het nou selfs begin om vanaf die huis skool te gaan. Om hierdie rede het ‘n telekommunikasiemaatskappy ‘n 40% toename in datagebruik gesien en moet gevolglik R500m in hul netwerke belê om hulle netwerkkapasiteit te verhoog. Netflix het só ‘n toename in gebruik van hul produk ervaar dat hulle noodgedwonge die kwaliteit van hulle flieks moes afskaal om druk op bandwydte te beperk.

Wat kan ons in die maande/jare wat voorlê verwag? Ons kan ‘n versnelling verwag in die gebruik van tegnologie om die negatiewe gevolge van die Covid-19 pandemie teen te werk. Daar was reeds voor die pandemie bespiegel dat ons samelewing besig is om die vierde industriele rewolusie (4IR) te betree. Die pandemie gaan 4IR versnel en dit behels onder andere die volgende:

  • Elon Musk voor die vuurpyl wat 60 data-satelliete op ‘n slag die ruimte in kan stuur

    Die gebruik van rekenaardata neem skerp toe. In hierdie verband poog maatskappye soos Google met hulle Loonproject en SpaceX met Starlink om internetdata selfs op die mees onherbergsame dele van die wêreld te voorsien. Starlink is alreeds die maatskappy met die meeste satelliete in hul besit. Hulle beplan om die huidige 400 satelliete wat breëband-internet voorsien te vermeerder na 6,000 teen 2024, 12,000 teen 2027 en selfs 42,000 teen 2030. Die SpaceX vuurpyl (Falcon 9) is instaat om 60 satelliete op ‘n slag die ruimte in te lanseer. Hul nuwe-generasie vuurpyl sal 400 satelliete op ‘n slag kan lanseer. Hierdie verwikkeling kan die regulatoriese beperkings wat regerings op dataverskaffers plaas irrelevant maak en datakoste baie skerp laat daal.

  • Dit is nie meer nét mense wat deur middel van die internet met mekaar kommunikeer nie, maar ook masjiene, by wyse van die Internet van Dinge (Internet of Things -IoT).
  • Verskeie maatskappye eksperimenteer met voertuie wat hulself kan bestuur deur die aanwending van rekenaartegnologie. Hier kan Tesla, Google, Uber, BMW, Nissan, Ford, Mercedes en andere genoem word. Pogings word ook aangewend om logistiek te outomatiseer deur van hommeltuie gebruik te maak. Hierdie pogings kan gebiede met swak infrastruktuur, soos byvoorbeeld sekere plekke in Afrika, baie meer toeganklik maak.
  • Outomatisering van vervaardiging neem ook skerp toe. Daar kan verwag word dat daar meer en meer van Kunsmatige Intelligensie (Artificial Intelligence – AI) gebruik gemaak sal word.
  • 3D-drukkers word nie net ingespan om allerdaagse produkte te vervaardig nie, maar ook vir mediese prosteses, gereedskap vir die internasionale ruimtestasie en selfs geboue.
  • Blokkettingtegnologie kan daartoe lei dat nuwe elektroniese geld tot stand kan kom wat regerings se manipulasie van die waarde van geld tot ‘n einde kan bring.
  • Daar kan verwag word dat afstand tussen geografiese gebiede irrelevant sal word. Dit kan byvoorbeeld daartoe lei dat mense met sekere vaardighede wat in Suid-Afrika woon vir maatskappye in Noord-Amerika, Europa of Indië werk kan doen. Topcoder is ‘n maatskappy wat 1.6 miljoen programmeerders in diens het van regoor die wêreld. Vryskutwerk wat oor die internet gedoen word kan veroorsaak dat BBBEE heeltemal onbelangrik word en dat mens, terwyl jy dollars verdien, terselfdertyd in Suid-Afrika in rande kan lewe. Professor John Bijl van Kanda het my vertel dat sy seun verkies om in ‘n derdewêreldland (Georgië) te woon, terwyl hy sy geld in Amerikaanse dollars verdien – hy doen vryskutwerk deur ou boeke te digitaliseer en dan op Amazon te verkoop as Kindleboeke.

Daar is sommige mense wat van mening is dat die tegnologiese ontwikkelings daartoe gaan lei dat daar net nog meer sentralisasie en verdrukking deur diktatoriale regerings sal volg. Hierdie is egter nie ‘n noodwendigheid nie. As mens die geskiedenis gaan bestudeer, dan leer ons dat die drukkuns tot die Reformasie van die 1500’s gelei het en dat die internet nie George Orwell se 1984 ingelui het nie. Tegnologie het egter gedurende die afgelope 30 jaar ‘n bydrae gelewer wat vryheid van spraak en denke baie laat toeneem het.

Dit hang af wat ons met die tegnologie doen. Mag dit so wees dat die huidige nuwe ontdekkings en tegnologiese ontwikkelings ‘n bydrae lewer tot ‘n nuwe Reformasie waar ware vryheid kan blom. Tegnologie kan dit moontlik maak…

4.67 avg. rating (92% score) - 3 votes
Francois van Deventer
  • Francois van Deventer

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui