My studiokindjie was net 17 maande oud
My laaste blog post was in September 2018. Toe was ek hoogswanger met Fit@Nature, my High Intensity Interval Training (HIIT) studio in Pretoria. Sy is op 15 Oktober 2018 gebore, na maande se beplanning en voorbereiding.
In Clifflaan, Waterkloofrif in Pretoria, het ek my droom gebou in ‘n ou pakhuis. Die mure binne was pikswart geverf, die vloere bedek met muwwe matte en maande se goggas en stof het die plek ontsier. Ten spyte van die neerdrukkende voorkoms, het die plek met my gepraat. Die stoor het twee groot oproldeure. As mens dit oopmaak, kom daar goeie lig in. In my geestesoog kon ek die prentjie sien: Wit mure, groen gras op die vloer, hout, plante, lig en lug. Die huurbedrag was binne my begroting en die adres was reg. Dit was kompleet soos barensnood. Ek MOES net!
Ek glo passievol dat mense moet beweeg. Dit is vir my amper soos ‘n roeping om hulle te lei na ‘n gesonder, aktiewe leefstyl. Omdat ek jarelank al mense op hierdie pad begelei, het ek geglo ek weet wat die behoefte is. Synde ‘n entrepreneur van kleins af, was dit voor die hand liggend vir my. Ek wou die sukses van my Middelburgstudio ook in Pretoria uitprobeer.
My droom-studio
My studio moet ‘n plek wees waar gewone mense met gewone lywe kan oefen. Die oefening moet intens genoeg wees om resultate te gee, maar jy moenie jou rug of knieë breek in die proses nie. Dit moenie te veel van jou tyd in beslag neem nie en die oefenprogramme moet gebalanseerd en wetenskaplik saamgestel wees. Dan moet die lede ook voel of hulle ‘n oefentuiste het. Ek wil nie soos ‘n bloedsuier iemand leeg tap wat nooit kom oefen nie. Terselfdetyd moet ek ook die uitgawes kan dra.
Daarom het ek ‘n hoë ideaal gestel: My lede moet inkoop in die studio met hulle beursies, maar ook met hulle harte. Dit moet so lekker wees, dat hulle wil terugkom. En hulle vriende vertel om ook te kom. So ‘n ideaal is nie onmoontlik as jy self elke dag in jou besigheid werk nie. Maar ek bly in Middelburg en die studio is in Pretoria. Daarom sou my personeel heel eerste moes inkoop. Hulle sou dieselfde atmosfeer moes skep as waarvan ek gedroom het. En hulle het.
Die droom word waar
Die inrig van Fit@Nature was loutere plesier… en verskriklike harde werk. Die mure is spierwit geverf. Ek het eiehandig 185 vierkante meter se grys rubbelteëls op die vloere gelê. My lyf was later so seer, dat ek op my knieë in die studio rondgekruip het om nog teëls te gaan haal! ‘n Groot stuk kunsgras en ‘n massiewe prent van ‘n woud teen die muur, het die regte gevoel geskep. Die een roldeur uitgang, het ons met ‘n houtraamwerk vol plante beveilig. So kon daar genoeg lig en lug inkom, terwyl dit tog ‘n mate van sekuriteit bied. Die ander roldeur se opening is met ‘n glas shopfront en ‘n glasdeur ingerig. Houtmeubels en baie plante het die studio na ‘n vriendelike oefenplek laat lyk. Hier sou niemand geïntimideerd voel nie!
Die kindjie groei
Fit@Nature het reg van die begin af bo verwagting goed gegroei. Natuurlik was daar ook die kwota tandekry probleme, glipse en valle. Die fiksheidsindustrie is baie kompeterend. Daar is die groot rolspelers… en dan ‘n magdom kleiner outjies soos ek. Kompetisie het my darem nog nooit bang gemaak nie. Ons studio is ingerig met wêreldklas tegnologie om lede se harttempo’s te monitor. Ons het goeie toerusting, goeie programme en lekker mense wat daar werk. Stadig maar seker het die boodskap versprei en het die ledetal gegroei. Ons mark, blyk dit toe, is die mense wat in die woonbuurte rondom die studio woon. Aanvanklik het die bemarkingsfirma, wat met die logo en webblad gehelp het, voorspel dat ons die DINK‘s gaan diens. Dit is die double-income-no-kids -mark. Die voorspelling was dat ons lede by die studio sou instap, oefen en so gou as moontlik huis toe sal gaan, sonder om te veel te sosialiseer. Daar het hulle die bal toe heel misgeslaan – tot my grootste verligting! So ‘n onpersoonlike mark het vir my aaklig geklink en het gebots met my idee van hoe ek ‘n studio wil opbou. Op die ou end het Fit@Nature se lede ‘n lewe van hulle eie gekry. Vriendskappe tussen lede het ontstaan. Ons as personeel het vele kwaliteit mense ontmoet. Ons lede het ons mense geword. En ons het hulle studio geword.
Die vreugde was groot toe die studio ‘n gelykbreekpunt in Februarie 2020 bereik. Dit was ook hoogtyd! Die land se geldsake het in 2019 afdraend geloop en my begroting vir die “opstart” van die studio het sy einde genader. So met die ekonomie se verlangsaming, het ons groei ook stadiger geword. Maar ons het steeds gegroei, wat wonderlik was. Teen diè tyd, het die personeel en mede biokinetikus in Pretoria, ewe hard saamgedroom. In der waarheid het my studiokind onverwags peetouers bygekry wat haar belange op die hart gedra het. In Maart het ons die gelykbreek kragtoertjie herhaal! Ons het ‘n nuwe bemarkingsveldtog geloods en was vasbeslote om op ons studiokindjie se tweede verjaarsdag, ‘n winsie te toon. Enige iemand wat al self besigheid gedoen het, sal weet dat twee jaar in ‘n besigheid maar bittermin is. Dit sou sowaar ‘n mooi prestasie wees. ‘n Trofeekindjie!
Kortgeknip
En toe kom die lockdown op 27 Maart 2020. Die coronavirus met sy Covid-19-siekte het die wêreld oorval en op sy knieë gedwing. Ook vir klein Fit@Nature. Ons deure is toe en mag eers weer oopmaak met vlak 1 van die grendelstaat. Dit kan ses tot agt maande, of selfs langer duur. As ons kon oopmaak met dieselfde aantal lede as waarmee ons in Maart moes toemaak, sou dinge makliker gewees het. Maar die lewe werk nou maar eenmaal nie so maklik nie. Baie van ons lede het voortydig bedank, omdat hulle sèlf sonder inkomste sit. Ander se kontrakte verval. Nog ander gaan nie meer geld hê vir die luukse van ‘n studiolidmaatskap teen die tyd dat ons oopmaak nie. Die gebou se huur moet betaal word, personeellede moet aan salarisse gehelp word en die reserwes is opgebruik. Ongelukkig kwalifiseer die kindjie nie vir regeringshulp nie.
In Aprilmaand ontvang ons steeds ledegeld, want ons sou mos weer op 17 April kon oopmaak. Ek en Mariska, my kollega in Pretoria, maak daagliks verwoed oefenvideos vir ons lede. Toe die aankondiging kom dat ons tot einde April moes toe bly, gaan ons voort met hierdie digitale diens. Maar toe die bevestiging kom dat gimnasiums waarskynlik maande lank gaan toe wees, moes ek die pynlike besluit neem om ons deure permanent te sluit. Lockdown! Hoe edel my intensies ookal is, daar is harde besigheid betrokke by die bedryf van so ‘n studio. Die landheer moet sy geld kry. Die sagtewarestelsels moet betaal word. So ook water en ligte, bemarking, personeel en ander dingetjies wat te vervelig is om hier te skryf. Die feit is: Daar is nie meer fondse oor om Fit@Nature weer ‘n keer te dra tot by gelykbreekpunt nie.
Die kind gaan dit nie maak nie. Sy was net 17 maande oud.
NOTAS:
- Die kind se ma is heel OK! Sy sit nie op straat nie. Sy het ‘n baie goeie man en sy gló hierdie goed gebeur met ‘n doel.
- Ek vergelyk die studio in ligte luim met ‘n kind. Natuurlik is dit nie eens vergelykbaar met teëspoed wat ‘n regte kind tref nie. Die verlies van ‘n besigheid is ‘n non-event in vergelyking met menseverlies. Verstaan my hart se bedoeling só… asseblief!