Boekorsig: Wat om te doen as alles suid gaan

Dr CJH (Johan) Coetzee, ‘n bedryfsielkundige met ‘n doktorsgraad in leierskap in prestasie en verandering, se jongste boek getiteld Opgee se gat! het pas die lig gesien. Dr Coetzee is ook ‘n meester-NLP-praktisyn, Christelike berader, lewensafrigter en motiveringspreker.

KragDag-lesers sal Opgee se gat! baie interessant en insiggewend vind, want dit fokus daarop om lesers “opgee bestand” te maak, want “daar is altyd ‘n plan te make”.

Op die agterblad staan: “Die wêreld van werk en leef vandag is wild, die tempo van verandering is buite beheer, en baie van ons se wiele kom af en die bodems val uit – maar daar is geen genade nie. Hierdie is ‘n reis wat onderneem word deur diegene wat graag ‘opgee bestand’ wil word … Jare lange ervaring en tegnieke word hier verpak in ‘n maklik verteerbare vorm om die leser weer terug op die pad te kry – om nie net te oorleef nie, maar ook om te floreer.”

Opgee se gat! (233 bladsye) is opgedra aan “almal wat die goeie stryd stry. Almal wat hulle beste probeer om nie net te voorsien en te oorleef nie, maar ook om in buitengewone omstandighede te presteer en bo hulle omstandighede uit te styg.” Dr Coetzee vervolg: “Hierdie is nie ‘n ‘gewone’ boek nie. Dit is ‘n gesprek … ‘n reis, ‘n werkboek, ‘n dinkboek. Dit moet jou help om besluite te neem en op te hou verskonings maak. Moet verkieslik nie probeer om dit in een sitting deur te lees nie, hier is te veel inligting in om sommer net te verwerk. Vat jou tyd. … Groei. Raak besig!”

Dr Coetzee verduidelik in die Voorwoord: “Die tempo van verandering is buite beheer: politieke korrektheid, politieke boelies en onnoselheid, ekonomiese aftakeling, voortdurende oorloë en geweld, die hele woke drama, toksiese manlikheid, feminisme, konstante polarisering van gemeenskappe, digitalisering van alles, sosiale media wat jou van anonimiteit stroop, en kunsmatige intelligensie wat jou werk oorbodig maak, maak mense angstig. Nog nooit vantevore het so baie, so konstant, so vinnig verander nie. Meeste van ons weet ons moet aanpas en verander, maar ons weet nie waarom of waarheen nie. Daarom kies sommiges eerder toksiese gemaksones. Mense op alle vlakke sukkel, sommige meer as ander, maar almal sukkel – en daarom het die vraag by my ontstaan – ‘Wat is die die vaardigheid wat ons almal moet hê om nie net in vandag se lewe te oorleef nie, maar ook te floreer?'”

Hy beantwoord dan hierdie vraag op vele interessante wyses in verskeie hoofstukke deur sy lesers toe te rus met praktiese wenke en raad oor hoe om onder meer aanpasbaar te wees en veerkragtigheid te behou in ‘n voortdurend snelveranderende wêreld. Hier is ‘n voorsmakie van sommige van die hoofstuktitels: Navigering deur moeilike tye (lewensdoel, doelwitte en waardes), Bestuursvaardighede, Probleemoplossing, Tydbestuur, Emosionele Intelligensie, Netwerke, Kommunikasie, Konflikbestuur, Geloof, ensovoorts. Ek het veral sy skrywe oor die oorlewing-en-groei-trio (aanpasbaarheid, veerkragtigheid en deursettingsvermoë) baie insiggewend gevind, veral die verduideliking aan hand van die oorlewing-en-groei-piramide.

Die mees waardevolle les, vir my, is: “Aanvaar onsekerheid. Niemand van ons kan die toekoms korrek voorspel nie. Spandeer daarom jou energie op dit wat jy kan beheer. Lewe nou. Wanneer jou denke te veel in die toekoms is, fokus jy waarskynlik op bekommernisse wat angstigheid veroorsaak. More steel daarom vandag se energie.” (bl. 201)

Die leser word aangemoedig om notas te neem, werksvelle te voltooi of in ‘n joernaal te skryf, want die reis na veerkragtigheid is ook ‘n reis na binne, “sodat jy weer heel kan word, kan vervat en na buite toe kan leef”. Die motto is: Dink anders. Doen anders. Wees anders. Wees gelukkig. Wees jouself. Voorwaar edele strewes.

Opgee se gat! het my as leser uitgedaag om nie ’n slagoffersmentaliteit rakende uitdagings te hê nie, maar om dit eerder as geleenthede vir groei te sien. Ek het die boek leersaam en bemoedigend gevind.  Die teks, ‘n eie publikasie, is ongelukkig nie behoorlik taalkundig versorg nie. Lesers wat bereid is om dit oor te sien, sal egter waarde uit die inhoud put.

Dr Coetzee se vorige boek is getiteld Aftrede se gat! Hy skryf hierin meer oor aftrede, afleggings en uitdagings. Kontak hom gerus by 083 445 0452 om kopieë van Aftrede se gat! en Opgee se gat! te bestel.

Kompetisie

Twee gelukkige KragDag-lesers kan elk ‘n kopie van Opgee se gat! met die komplimente van dr Coetzee wen. Skryf in die kommentaarveld hier onder waarom jy graag die boek sal wil wen. Wenboeke kan slegs na ‘n Suid-Afrikaanse adres gestuur word. Sluitingsdatum 30 November 2025.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

6 Comments

  • Hoe wonderlik sal dit nie wees om ekstra vaardighede te ontwikkel wat kan help om die alledaagse lewe ,kop eerste aan te durf nie..

  • Ek sal graag die boek “Opgee se gat” wil wen omdat ek na aftrede al hoe meer in die slaggat van opgee verval. Ek weet ek is in staat om nog baie te doen en dus sal die boek my defnitief help om weer rigting te kry.

    Baie dankie indien ek wel dié boek wen!

  • My “default” was nog altyd om die bobbejaan agter die berg te gaan haal en die glas half leeg te sien. Ek het egter onlangs besluit om dit te verander, ek wil lewe uit ‘n plek van dankbaarheid en die glas half vol sien maak nie saak wat my omstandighede is nie. God has not given me a spirit of fear, but a sound mind. Dis tyd!

  • In vandag se tye het mens meer as net geluk nodig; jy het ruggraat nodig. Ek wil graag leer hoe om my geestelike weerbaarheid te versterk sodat ek enige uitdaging in die oë kan kyk. Opgee is nie ‘n opsie nie.

  • Goeie More
    Ek sal graag “Opgee se gat” wil wen. EK wil leer om meer te “leef vir vandag” en my bekommernisse vir more kan n kleiner deel van my daaglikse bestaan gee.

    Op die oomblik is ek aldag besig om myself en my kinders te probeer beskerm teen “wat more kom” dat ek soms vergeet dat vandag is nou hier. En dan bekommer mens jou hele dag verby waar jy dit in n meer positiewe manier saam jou gesin kon geniet het.

    Ek dink die boek is geskryf vir mense soos ek wat meer “stres” oor dinge wat mag kom in die toekoms dat ons vergeet om te leef vir vandag.

  • Nou dat ek by aftrede is wil ek anders wees en dink. Ek wil nuwe loopbaan rigtings aanpak en nie bang wees daarvoor nie. Ek wil begin lewe, nie net oorleef nie. Die boek Opgee se ga”sal my die rigting gee en die nodige lewens wysheid om die wêreld vierkantig in die oë te kan kyk, en te doen wat ek so graag wil. Om my kreatiwiteit te volle te ontwikkel sonder ‘n bang haar op my kop!

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui