Bang en onseker in hierdie dae?

Voel dit vir jou ook of ons deesdae onophoudelik met slegte nuus gebombardeer word? Skakel die radio en TV aan en dis net moord en doodslag waar jy kyk. Maak ‘n koerant oop en jy staan verstom en verslae oor die bose dinge wat mense aan mekaar doen. Loer op jou foon en jy sien hoe die internet en sosialemediaplatforms wemel van galbrakery, venynigheid en ‘n opstokery. Dan praat ons nie eens van hoe dit in die res van die wêreld gaan nie.

Dis verskriklik om te hoor hoe lande mekaar met atoomwapens dreig. En dis absoluut hartverskeurend om te sien hoe missiele, bomme en mortiere op woongebiede reën. Dan is daar ook die allervreeslike foto’s van honger, verwese, gewonde en geskokte mense (kinders inkluis!) … en die lyke …

Hierdie dinge het ‘n invloed op ons almal. Ons in ‘n gewelddadige land en beleef daagliks die stres, trauma en vrees wat daarmee saamgaan. Boonop besef ons dat dinge in die wêreld besig is om na ‘n punt van geen terugkeer te eskaleer. Dit is net menslik om bang en onseker te voel oor wat die toekoms vir ons inhou, hetsy in ons eie land of globaal. En as ons as volwassenes so bekommerd voel, hoeveel te meer nie ons kinders nie? Hulle sien en hoor ook hierdie dinge, al poog ‘n mens om hulle blootstelling daaraan te beperk.

So, hoe beskerm ons onsself en ons gesinne in hierdie tyd waarin ons leef? Ek glo dat Jesus vir ons die antwoord gee in die Bybel. “Julle moenie skrik wanneer julle hoor daar is oorlog nie, naby julle of ver van julle. … Maar as julle tot die einde aanhou om My te volg, dan sal God julle red.” (Markus 13:7a en 13b, ABA). Wanneer ons harte beswyk van vrees en verwagting van wat oor die wêreld kom (Lukas 21:26a, AFR53), sê Hy ons moet na bo kyk en ons hoofde ophef “omdat julle verlossing naby is” (vers 28b).

Kom ons fokus in hierdie dae op Hom. Hy is immers ons as gelowiges se verlosser en redder. Net Hy kan ons die moed, krag en durf gee om staande te bly. Net Hy kan die storm in ons binneste stilmaak. Hy sê dan ook: “MAAR pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ‘n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (verse 34-36).

Paulus maan: “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus. Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is — watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit” (Filippense 4:4-8, AFR53).

Kom ons fokus daarop om Jesus se hande en voete te wees deur vriendelik te wees en goed te doen aan ander, aan ons verhouding met Hom te werk en waarlik en opreg te glo dat Hy met ons is. Kom ons sê soos Josua: “… maar ek en my huis, ons sal die HERE dien” (Joshua 24:15b, AFR53).

Moet asseblief nie huiwer om ‘n professionele persoon te kontak om jou en jou gesin te help om deur trauma, stres en depressie te werk nie. Lees ook gerus my boek getiteld Gesinstyd met God vir praktiese wenke en raad indien jy saam met jou gesin God se teenwoordigheid wil ervaar.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui