Skrywer skryf oor aftrede, afleggings en uitdagings
Dr. CJH (Johan) Coetzee is die skrywer van Aftrede se gat!, ’n boek wat hy as ’n gesprek, ’n werkboek en ’n dinkboek beskryf. Die lokteks op die agterblad lui: “Hierdie boek is … ’n praktiese reis om die leser te neem van gegrief en verontrief oor uitdagings soos aftrede, afleggings en ander soortgelyke uitdagings, tot ’n beter verstaan van die leser self, wat sy uitdagings is, en wat daaromtrent gedoen kan word.”
Hy skryf in die voorwoord: “Hierdie is die samevoeging van baie praatjies, afrigtingsessies en meditasies – dit is vir my ook ’n pad van selfontdekking, my en jou reis na ’n ‘nuwe’ identiteit, ontdekking van eiewaarde en jou lewensdoel” (3). Lesers word aangeraai om notas te neem, want die boek het ten doel om ’n selfontdekking- en selfdefiniëringsreis te wees. Dit is propvol praktiese wenke en raad deur dr. Coetzee en ander oor hoe om bestek van jou lewe te neem en jou optimaal te posisioneer vir jou toekoms. Oefeninge en werksvelle maak die leeservaring interaktief en leersaam.
Aftrede wat jou soos ’n dief in die nag bekruip of uitdagings soos afleggings wat onverwags gebeur, kan jou onder geweldige druk plaas en selfs traumatiseer. Van hierdie traumas het te doen met finansies, verlies aan ’n doel en identiteit, verminderde eiewaarde, verlaagde selfbeeld, onsekerheid oor jou nalatenskap en om van baas na klaas te beweeg. Hierdie traumas kan ’n verskeidenheid emosies (bv. ontkenning en eensaamheid) ontketen en selfs tot depressie en selfdood lei.
Dr. Coetzee wys aan lesers dat hulle kan kies waarop hulle hul energie en aandag wil spandeer. Hy moedig hulle aan om te fokus op dít wat in hulle beheer is en help hulle om lewensareas te identifiseer wat hulle dadelik sal wil of moet aanpak. Dan wys hy daarop dat om af te skaal en minder te maak nie noodwendig ’n negatiewe ervaring hoef te wees nie. Dit is ook goed om verhoudinge te evalueer, want die mense wat ons in ons binnekringe toelaat behoort ons te inspireer en nie af te trek nie.
Volgens dr. Coetzee loop werklike lewensvreugde hand-aan-hand met ’n doelgerigte lewe. Ons fokus moet dus op ’n lewensdoel wees: “’n Lewensdoel wat ons gaan lei om geluk, tevredenheid en betekenis te vind in klein alledaagse aktiwiteite, wat ons ’n rede gaan gee om te lewe al is ons soms ongelukkig en misrabel (36). Hy moedig lesers aan om verantwoordelikheid vir hulle lewens te neem met ’n positiewe en gefokusde ingesteldheid. Maak ’n plan en implementeer dit. Wees ook aanpasbaar, hou aan leer en vra hulp wanneer nodig.
Aftrede se gat! beslaan 130 bladsye en 23 hoofstukke. Van hierdie hoofstukke handel oor oortuigings en verwagtinge. Dit is soms nodig dat die manier waarop ons dink asook ons houding moet verander, want dit kan ’n invloed hê op hoe ons terugslae hanteer en hoe veerkragtig ons is. Hoe gemaak met moeilike besluite en kritiek sowel as negatiewe selfspraak? Of hoe hanteer mens angstigheid, moedeloosheid en swaarkry? Dr. Coetzee antwoord hierdie en ander vrae. Hy moedig lesers aan om ’n nalatenskap te skep deur te vra wat dit is wat ons vandag in ons onmiddellike omgewing kan doen om dit ’n beter plek te maak. “Die lewe gaan nie oor goeters, dinge en geld nie” (111). “Die laaste fase van jou lewe kan ’n seën wees, ongeag die uitdagings wat daarmee saamgaan. Dit is amper ’n perfekte storm, maar as jy die boeg in die wind hou, die golwe ry en die enjin aan die gang hou – kan jy enige storm oorleef (117).
Die slothoofstuk bevat ’n werksvel wat lesers voltooi om sodoende die eerste weergawe van ’n aksieplan te hê waarmee hulle aftrede, uitdagings en ander terugslae kan aanpak en so die rigting van hul lewens kan verander. “Aftrede (of enige ander soortgelyke trauma) kan nogal met enige mens mors, ongeag hoe goed dit met jou finansieel gaan. Dit het die vermoë om met jou selfbeeld, jou houding teenoor die lewe, jou verhoudinge en vele ander aspekte van die lewe ernstig te affekteer” (118).
Aftrede se gat! het my as leser uitgedaag om nie ’n slagoffersmentaliteit rakende uitdagings te hê nie, maar om dit eerder as moontlikhede vir groei te sien. Ek het die boek interessant, leersaam en bemoedigend gevind. Die teks is ongelukkig nie behoorlik taalkundig versorg nie. Lesers wat bereid is om dit oor te sien, sal egter waarde uit die inhoud put.
Meer oor die outeur: CJH (Johan) Coetzee is ’n bedryfsielkundige met ’n PhD in leierskap en verandering. Hy is ook ’n NLP meesterpraktisyn, Christelike berader, lewensafrigter en motiveringspreker.
Kontak gerus vir dr. Coetzee by 083 445 0452 om ’n kopie van Aftrede se gat! te bestel. Die boek kos slegs R270,00 (aflewering per pudo ingesluit).