Boekopsomming: “The 5am Club” deur Robin Sharma
Met die eerste oogopslag, was ek oortuig dat die drukkersduiwel sy grootste flater ooit begaan het. Kan jy jou voorstel hoe groot die finansiële verlies sou wees indien al die boeke herdruk moes word omdat die outeur bedoel het 5-uur in die middag en nie 5-uur in die oggend nie? Ek bedoel, 5-uur voormiddag, soos in, as dit nog donker is? Wees redelik! Mense en veral entrepreneurs het hulle slaap nodig!
Volgens Sharma is 5-voormiddag egter die tyd met die minste afleidings, die hoogste menslike glorie en die meeste vrede. Dit is waarom hierdie boek ‘n vaste oggendroetine voorstel waar dit van kardinale belang is om tyd te maak vir ongehinderde selfverbetering.
Die 5 grondreëls om te volg as jy soos die top 5% wil wees is om die gewoontes van die gemiddelde 95% van mense te laat vaar:
- Afleidings is die dood van kreatiwiteit.
- Genialiteit spruit nie uit verskonings nie.
- Verandering is moeilik in die begin, morsig in die middel en mooi aan die einde.
- Om by die boonste 5% uit te kom, doen wat die 95% nie doen nie.
- Hou aan, selfs wanneer jy wil oorgee.
Robin Sharma, ‘n leierskapsguru, se voorliefde is om mense te help om die beste weergawe van hulleself te wees en deel die 3-stap-suksesformule:
As jy om 05:00 wakker word, sal jy die kalmte en verbeterde breintoestand hé om optimaal te presteer.
Moenie tyd mors wanneer jy vroeg opstaan nie, gebruik die 20/20/20 formule.
Ek daag jou: Kom ons staan more 05:00 op en begin!
Les 1: As jy suksesvol wil wees, gee jou brein ‘n voordeel deur 05:00 wakker te word.
Ons verstand het beperkte hoeveelheid “bandwydte.” Wanneer ons, ons dag vul met sosiale media, interaksies met mense, ensovoorts, dan vul ons hierdie bandwydte, nog voor die dag verby is, tot die punt waar ons niks meer kan inneem nie. Wanneer jy om 05:00 wakker word, vind jy dat jy op een ding kan fokus sonder hierdie afleidings. So kan baie meer bereik word.
Vroegoggend is ons breinchemie anders. Die brein se prefrontale korteks, daardie deel van jou brein wat jou laat bekommerd wees of dinge ontleed, word tydelik in die vreedsame vroeë ure gesluit. Daar is ook bewyse dat die rustigheid by dagbreek dopamien en serotonien verhoog. Dit help jou om energiek en rustig te voel. Wat ‘n wonderlike manier om jou dag te begin!
Les 2: Vind balans in al vier “binnekringe” om selfbeheersing te vind.
Nog ‘n waardevolle les oor sukses is om nie net op ingesteldheid te fokus nie. Terwyl optimistiese gedagtes jou help om te dink, is daar ook drie ander “binnekringe” wat jy in ag moet neem om balans te probeer vind.
Benewens jou Ingesteldheid is daar ook jou Gesondheid, Hart en Siel.
Gesondheid verwys na ons fisiese gesondheid. As jy jou tot oefening verbind, sal dit jou help om baie meer uit die lewe te kry. Dit sal jou help om langer te leef, energie te hê, minder te stres en ook gelukkiger te wees.
Hartklop is jou emosionele welsyn. Om ‘n gesonde emosionele lewe te kweek, moet ons onsself uitdruk en gesonde emosionele ankers hê. Dit is noodsaaklik vir ons sukses.
Laastens, die Siel is ons spiritualiteit. Maak tyd in die oggend om met jou Skepper te ontmoet. Onthou al die dinge wat jou maak wie jy is, en hoekom jy doen wat jy doen. Ons raak te dikwels vasgevang in die oppervlakkigheid van die lewe en vergeet om uit diepte met dankbaarheid te leef.
Pas dit alles toe in die rustige tyd wat ons rondom 05:00 maak, en jy sal goed op pad wees na ‘n gebalanseerde en suksesvolle lewe.
Les 3: Gebruik die 20/20/20 formule om jou dag in te rig vir sukses.
Teen hierdie tyd wonder jy dalk of dit werklik so belangrik is om 05:00 wakker te word. Wat moet ek doen as ek so vroeg op is? Dit is heeltemal moontlik om so vroeg wakker te word en die ekstra tyd te mors deur dit te gebruik om die nuus te kyk of deur sosiale media te blaai.
Die 20/20/20-reël, sê jy moet 20 minute op elk van die drie hoogs waardevolle aktiwiteite spandeer.
Die eerste 20 minute van daardie eerste uur moet uit oefening bestaan. Help jou liggaam om wakker te word, en laat jou liggaam sweet. Sweet verminder kortisol, die hormoon wat verantwoordelik is vir stres en vrees. Sweet stel ook ‘n breinherstellende neurotropiese groeifaktor vry, wat die skepping van nuwe breinbane bespoedig en breinselle herstel. As jy vinniger wil dink, maak seker jy sweet!
Die volgende 20-minute blok moet bestaan uit oordenking. Die vrede wat jy so vroeg vind, sal plek maak vir meer inspirasie as wat jy moontlik gedink het. Maak tyd om dit in jou joernaal te skryf. Neem die tyd om te fokus op wat jy uit die dag wil hê voordat jou aandag afgelei word. En… moenie ‘n dankgebedoordenking vergeet nie.
Ten slotte, maak tyd om te leer. In plaas daarvan om tyd te mors op nuttelose vermaak, spandeer tyd aan lees en leer. Leer by die suksesvolle mense van die wêreld. Wat al die ultra-rykes in gemeen het, is ‘n liefde vir leer.
As jy gereed is om jou lewe na die volgende vlak te neem begin met ‘n effektiewe oggendroetine. Deur “The 5 AM Club” leer ons presies hoe om dit te doen, en ‘n opwindende fiktiewe storie om dit te illustreer kom as ‘n bonus. Die wetenskapondersteunde saak wat Sharma maak om by die 5 AM-klub aan te sluit, is waarskynlik oortuigend genoeg vir selfs diegene wat nie oggendmense is nie!
Goeie dag.
Dankie vir die opsomming.
Weet u dalk of “The 5am club” in Afrikaans verskil aar is?
Nogmals dank
Jan-Louis
Goeie dag Jan-Louis,
Ongelukkig word “The 5 AM Club” nie in Afrikaans uitgegee nie.
Dit is om hierdie rede dat ons die waardevolle konsepte van hierdie boeke vir die Afrikaanse mark beskikbaar maak deur middel van die KragDag Gemeenskap.
Bly ingeskakel vir meer!
Vriendelike groete,
Vidrick-Mor Ferguson