Dis vakansie! Hoe hou ek my kind besig?

Dis wintervakansie. Die skole is gesluit, en die kinders is by die huis. Baie ouers, hoe lief hulle ook al hulle bloedjies het, sit met hulle hande in die hare.

Hoe hou jy jou kinders konstruktief besig sodat hulle nie heeldag en aldag voor die TV lê en muf of hulle tyd eksklusief aan tegnologiese toestelle wy en heeldag (en -nag) aanlyn is nie? Hoe motiveer jy hulle om vars lug en oefening te kry en prettige aktiwiteite aan te pak wat hulle aandag so bietjie van die skerms aftrek?

Ontspan. Dit is nie nodig om elke liewe oomblik van jou kinders se dag tot in die fynste besonderhede te beplan nie. Soms is dit goed vir kinders om vrye tyd op hande te hê en vir ’n slag verveeld te wees. Sodoende kan hulle leer om hulle verbeelding in te span en innoverend te wees. In ’n baie interessante artikel in Juig! (Desember 2021) getiteld “Die stille tragedie wat vandag se kinders beïnvloed” skryf Victoria Prooday dat verveling juis kreatiwiteit aanwakker. Sy raai ouers aan om a) nie verantwoordelik te voel om hulle kinders se vermaaklikheidspan te wees nie, b) nie tegnologie as ’n oplossing vir verveling te sien nie, c) om liefs tegnologie as vermaak te vermy en kinders te leer om “verveeldheid” te hanteer, en d) ’n “verveeldheidnoodhulpkissie” te maak propvol idees vir tye wanneer kinders die dag verveeld voel en op soek is na iets om te doen.

Moedig jou kinders aan om hulle verbeeldings in te span en kreatief te dink aan oplossings oor hoe om hulle tyd te spandeer. Kinders leer en ontdek geweldig baie deur middel van spel. Verseker dat hulle omgewing veilig is en dat daar voldoende toesig is, maar laat jou kinders toe om sommer net vir ’n slag sorgeloos te wees en na hartelus te speel sonder enige verwagtinge of druk dat hulle moet presteer.

Miskien is hierdie vakansie die ideale geleentheid om vir die kinders te vertel hoe Ma of Pa of Oupa of Ouma hulle kinderdae omgespeel of omgedroom het. Dogtertjies kan dalk weer soos in die ou dae vir papierpoppe papierklere maak en ure lank ontwerp en knip en plak. Seuntjies kan dalk onder die koelteboom soos van ouds paaie en huisies bou en met karretjies speel. Daar is natuurlik absoluut niks mee verkeerd as seuntjies wil help koekies bak of dogtertjies saam wil cowboys and crooks speel nie. Hulle kan ook winkel-winkel, skool-skool of dokter-dokter speel of selfs ’n kermisbed opmaak of ’n tent opslaan. Laat hulle vuil word en verken. Of laat hulle boomklim en spoorsny. Tieners kan dalk plakboeke maak wat hulle belangstellings weerspieël of musiek uit die “ou dae” ontdek deur na Ma en Pa se gunstelingmusiek uit hulle tienerjare te luister.

Sibbe kan opnuut leer om mekaar te waardeer en oor die weg te kom wanneer hulle saam ure lank verdiep is in verbeeldingryke spel. Dink jou die vreugde in wanneer Ma en Pa besluit om saam te speel! Wat ’n wonderlike geleentheid vir gesinne om tyd saam deur te bring en sommer net mekaar se teenwoordigheid te geniet. Dit gee vir kinders die gevoel van emosionele geborgenheid en dat hulle “behoort”. Ook wys dit aan hulle dat daar ’n wêreld buite die internet en duur speelgoed is.

Moet dus nie hierdie wintervakansie omwens nie. Dit kan aan jou en jou kinders kosbare saamweesplesier bied. Koester dit! Voor jy jou oë uitvee, is die kinders groot en uit die huis. Dan is hierdie spesiale speeltye vir altyd verby.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui