
Plaas Media – KragDag
Plaas Media is ’n landbou-mediahuis met ’n baie spesifieke misie en visie – om die voortou te neem wat die lewering van tegnies en wetenskaplik korrekte inhoud betref. Die uiteindelike doel is om die plaaslike en nasionale landbougemeenskap op hoogte te hou van alles wat hulle nodig het om ’n winsgewende boerderybesigheid te bestuur.
Een van die belangrikste maniere hoe Plaas Media dit regkry, is deur nismarkte binne die landbou te bedien met betroubare, onpartydige tegniese en semi-tegniese inhoud deur middel van ons onderskeie produkte en platforms. Die maatskappy se mediamandjie bestaan uit gedrukte, aanlyn- en oudio-visuele media, asook ’n webtuiste wat ook die jongste landbounuus bevat, ‘n groot sosiale media-teenwoordigheid, en deelname aan verskeie bedryfspesifieke projekte.
Gedrukte media
Plaas Media spog met twee toonaangewende tydkrifte, Veeplaas en Stockfarm, en is ook die trotse uitgewers van kontraktitels vir verskeie Suid-Afrikaanse landbou-organisasies – onder meer AFMA Matrix (names die Veevoervervaardigersvereniging, AFMA), CHIPS (namens Aartappels SA), Oilseeds Focus (namens die Proteïen-navorsingstigting of PRF), Dié Rooi Ras (namens Bonsmara SA), Simm-Biose (namens Simmentaler SA) en SA Stoetteler (namens SA Stamboek).
Uitsaai en aanlyn
Die gewilde radioprogram, RSG Landbou, is een van die maatskappy se oudste produkte en gaan steeds van krag tot krag. Al die onderhoude op die program is ook as potgooie beskikbaar en sommige hiervan word verwerk na visuele potgooie wat op Plaas Media se AgriOnAir-blad op www.agriorbit.com gedeel word.
Om die maatskappy se portefeulje verder uit te brei, is ’n produksie-afdeling in 2019 geskep. Dié span vervaardig hoogs professionele video’s vir kliënte en is ook verantwoordelik vir die vervaardiging van Plaas TV, Plaas Media se aanlynprogram op YouTube. Gaan loer gerus na die werk wat dié span lewer by https://www.youtube.com/c/PlaasTVFarmTV.
AgriOrbit is Plaas Media se nuus-webwerf en is ook waar inligting oor die maatskappy se projekte, asook tegniese artikels gevind kan word. Lesers kan ook Plaas TV kyk, RSG Landbou luister en vele meer. Maak dus gerus ’n draai by https://agriorbit.com/.
Industrie-spesifieke projekte
Plaas Media bied ook verskeie projekte aan, waaronder die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie, die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie en die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek.
Die kuilvoerkompetisie is daarop gemik om die algehele standaard van kuilvoer in Suid-Afrika te verbeter – Santam Landbou is die naamborg van die kompetisie, met Pannar Saad, Pioneer Saad, Nutribase, Kemin, Strapping & Profile Manufacturers/Rani Plast, TWK Agri (ons nuutste borg) en ons laboratorium-vennoot, Labworld, as prysborge.
Die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie fokus daarop om jong afslaers wat graag ’n voet in die deur wil kry, te ontwikkel. Die jongafslaer-kategorie is vir deelnemers tussen die ouderdomme van 19 tot 35. Dié kompetisie het ook ’n indrukwekkende juniorafdeling, wat saam met die Nasionale Jeugskou vir leerders tussen 14 en 18 jaar oud, by plaaslike jeugskoue aangebied word. Plaas Media is ook die amptelike mediavennoot van die Nasionale Jeugskou.
’n Streeksrondte van die jongafslaer-kategorie sal 13 Augustus by KragDag plaasvind. Dit sal die laaste streeksrondte van die 2022 kompetisie wees, voor die finaal in September by Nampo Kaap plaasvind. Die finaliste wat tot dusver na die jongafslaer-kategorie deurgedring het, is Jurie Burger, Vincent Pike, Johan Moolman, André Herselman, Tom Hodgson en Fiso Hadebe. Die finaal van die juniorafslaer-kategorie vind tydens die Jeugskou se nasionale kompetisie in Oktober plaas. Om meer oor deelname uit te vind, kontak Deidré Louw by 066 231 2430.
Die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek is daarop gemik om veeprodusente te identifiseer wat klimaatslim-boerderypraktyke op hul plase toepas. Die uiteindelike doel van die projek is om ’n boeredag op die wenner se plaas aan te bied waar ander boere en rolspelers by die wenner kan kom leer. Maatskappye soos Zoetis, Metos SA, Nedbank, Nutri Feeds en Pioneer is reeds as borge by die projek betrokke.
KragDag en Plaas Media
Laastens is Plaas Media ook by kongresse, boeredae en skoue, soos KragDag, betrokke. Die rede vir die maatskappy se betrokkenheid by sulke dae is om die organisasies wat dit aanbied, te ondersteun om hul boodskap aan die landbousektor oor te dra, asook om hul missie om die sektor deur kennis te verbeter, te deel. Met al die verskillende platforms wat Plaas Media bied, is dit die ideale manier om daardie boodskap en kennis oor te dra.
Plaas Media is bevoorreg om dié jaar een van KragDag se groot borge te wees, ’n ekspo wat beslis een vir die boeke gaan wees. Kom besoek gerus Plaas Media se stalletjie by die landbou sub-ekspo vanaf 11 tot 13 Augustus, en kom kyk na die afslaerskompetisie se streeksrondte om te sien wie Gauteng by die kompetisiefinaal gaan verteenwoordig.
– Deidré Louw, bemarkingskoördineerder, Plaas Media
