
Boekoorsig: Dagstukboeke vir 2026
Dagstukboeke help gelowiges om daagliks tyd opsy te sit om dieper in die Woord te delf en aan ‘n verhouding met hulle Skepper te bou. Die lewe is so gejaagd en wanneer ‘n mens nie doelbewus plek in jou besige skedule maak om stiltetyd te hou nie, bly dit maklik agterweë. Ek het gevind dat dagstukboeke my help om gedissiplineerd in ‘n roetine te bly om tyd vir die Here in te ruim.
KragDag-lesers sal bly wees om te verneem dat daar tans drie dagstukboeke is wat my aandag trek: een vir mans, een vir dames en een vir sussa of boeta. Ek deel hier onder meer inligting oor elkeen.
Hallo, Jesus! deur Marinda Engelbrecht
Hierdie baie spesiale boek is geskik vir kinders 5 tot 8 jaar oud en beslaan 270 bladsye. Elke dagstuk bestaan uit ‘n Bybelvers, ‘n gepaste oordenking of doen-ding en ‘n gebed – ideaal vir jong kinders se kort aandagspan. Daar is ook ‘n hartjie om ná elke oordenking in te kleur. Die vrolike illustrasies sal kinders se verbeelding aangryp.
Die lokteks lui: “Dié boek is gepas vir nuwe lesertjies, maar werk net so lekker vir saamlees, of dit nou saans in die bed of in die klaskamer is. […] Die boek wys kinders wat God vir hulle kan beteken en bou veerkragtigheid.”
Marinda, ‘n oudonderwyseres en gewilde TV-sjef, skryf in die voorwoord: “Ek het verkies om ‘n toeganklike beeld van God vir die kinders voor te hou. Die boek is so saamgestel dat daar vyf dagstukkies is en dan twee dae van lekker gesels oor wat die vorige vyf dae aangeraak is. Dit bied geleenthede vir gesprekke tussen jou en jou kind/kinders.”
Ek hou daarvan dat ouer- en of onderwyserbetrokkenheid aangemoedig word, want dit sorg dat die kommunikasiekanaal oop en gesond bly.
Hallo, Jesus! word deur Lux Verbi uitgegee en kan hier bestel word.
Gebede uit ‘n vrou se hart deur Dalene Reyburn
Die gewilde spreker en topverkoperskrywer, Dalene Reyburn, skryf onder meer ook vir YouVersion Bible App en Right Now Media. Hierdie hardebladgebedsboek beslaan 366 gebede en is ryklik met ‘n blaarmotief versier. Dit het ‘n lintjie wat as plekhouer dien.
Die lokteks lui: “Gebede uit ‘n vrou se hart bevat 366 gebede wat jou sal inspireer om in elke seisoen van jou lewe aan God oorgegee te leef. Bid in die lente gebede van hoop en moontlikheid, en in die somer gebede van dapperheid om te antwoord op God se roepstem. Skuil in die herfsmaande by God terwyl jy hom toelaat om sy werk te doen. En roep in die winter van die lewe uit na die God van lig en lewe wat jou toevou met die versekering dat die lente weer sal kom.”
Dalene skryf in die inleiding: “Wat opvallend is in Jesus se lewe is die krag wat Hy geput het uit sy voortdurende gemeenskap met sy Vader, in elke seisoen van sy lewe, deur gebed.”
Lesers kan uitsien na ‘n daaglikse gebed, met ‘n Bybelvers en ‘n praktiese toepassing. Die gebede is innig en hartroerend en sal die leser lei om in afhanklike nederigheid en stille vertroue met God te wandel.
Gebede uit ‘n vrou se hart word deur CUM uitgegee en kan hier bestel word.
Wandel deur God se Woord deur Jimi le Roux
Hierdie hardeband-dagstukboek sal mans én vroue bedien. Daar is ‘n oordenking vir elke dag van die jaar, wat ‘n Bybelgedeelte en ‘n gebed insluit. Dit het ‘n lintjie wat as plekhouer dien.
Die lokteks lui: “Wandel deur God se Woord neem jou op reis deur die Bybel – van Genesis tot Openbaring. Dit dek die bekendste, mooiste en belangrikste verse – die essensie van God se Woord – sodat jy die impak van die Woord opnuut sal ontdek. Ontdek hoe prakties, lewensveranderend en bemoedigend God se Woord is, en dat dit die duidelikste roetewyser vir jou lewenspad is.
Jimi skryf in die inleiding: “Ervaar elke dag God se lig op jou pad, sy lamp vir jou voet. Ervaar die Woord se krag vir jou dag.”
Ek hou daarvan dat die oordenkings daarop fokus om te bemoedig en te inspireer, want so put die leser krag uit God se Woord.
Wandel deur God se Woord word deur CUM uitgegee en kan hier bestel word.
Kompetisie:
Gelukkige KragDag-lesers kan van hierdie dagstukboeke hier bo wen. Die boekpryse kan slegs na ‘n adres in Suid-Afrika gestuur word waar ‘n koerier wel aflewer. Om vir die pryse in aanmerking te kom kan jy hier onder in die kommentaarveld vertel watter boek jy graag sal wil wen. Sluitingsdatum 30 Junie 2026.

Gedrukte inligting is altyd meer van waarde omdat n mens voortdurend daarna terug kan verwys. Geen mens mag ooit sonder n veelvoud van verskillende boeke besit nie.
Geluk, Leon. Jy wen ‘n kopie van Gebede uit ‘n vrou se hart. Ons sal jou kontak.
Hi, ek sal graag Gebede uit ‘n Vrou se Hart deur Dalene Reyburn wil wen.
Geluk, Anne. Jy wen ‘n kopie van Gebede uit ‘n vrou se hart. Ons sal jou kontak.