Boekeoorsig: Skepselkos

Glanssjefs Isabella Niehaus en Louis Jansen van Vuuren het saamgespan om hierdie pragpublikasie, ‘n splinternuwe kosboek getiteld Skepselkos uit Naledi se stal, die lig te laat sien. Isabella (bekroonde skrywer) en Louis (kunstenaar en skrywer) het die gesogte Gourmand World Cookbook Awards in 2023 gewen met Daar’s ‘n Vegan op my Verandah. Hulle betrek in Skepselkos ook agt vriende, almal sjefs en koskundiges, om vir die leser ‘n agter-die-skerms blik te gee op Suid-Afrika se plantgebaseerde koservaring.

“Lesers sal geïnspireer word deur die stories en resepte [in Skepselkos] wat ‘n waardering skep vir vegan kos. Die resepte is toeganklik met alledaagse bestanddele wat maklik beskikbaar is. Met Skepselkos nooi Isabella en Louis jou uit om op ‘n uitsonderlike kulinêre avontuur te gaan. Hierdie boek bied iets vir almal, of jy nou ‘n ervare sjef of ‘n nuweling in die kombuis is. Dit is meer as net ‘n kookboek – dit neem jou op ‘n reis van geur, kultuur en kreatiwiteit wat ‘n blywende indruk sal laat en jou ook sal inspireer en aanmoedig om te eksperimenteer.”

Skepselkos beslaan 348 bladsye en is propvol kleurfoto’s van watertandgeregte. Die kunstige bladuitleg deur Karen Cronjé dra by tot die boek se visuele aantrekkingskrag. Koskenners Kobus van der Merwe, Zola Nene, Vickie de Beer, Reuben Riffel, Johnny Hamman, Arina du Plessis, Lizelle Stolze en Carmen Eksteen se heerlike geregte verskyn in die boek. Daar is ook resepte van kosvriende soos onder meer Errieda du Toit, Cariema Isaacs, Elmarie Berry, Carmen Niehaus, Portchie, Therese Bam en Riana Scheepers. Verder pryk die kookboek ook met handige wenke en raad, wyse aanhalings, voorstelle vir gepaste wyn, en lekkerleesskrywes wat soos blinkgevryfde rivierklippies in jou hart kom lê.

Louis skryf op bladsy 2: “Dit was ‘n uitgemaakte saak dat ons nuwe boek Skepselkos sou heet. Met hierdie nuwe publikasie eer ons die waardes van plantkos. Ons vier voedsel wat met sorg en liefde gekweek en voorberei word. Ons is bewus van die planeet se kwesbaarheid en ons loop sorgsaam en met ligte tred oor die landskap wat ons ons tuiste noem. Maar, ons loop die pad saam.”

Isabella skryf op bladsy 4: “Ons [Sy en Louis] praat deurmekaar, oormekaar, maar weet albei ons wil ‘n nalatenskap van omarming hier los. ‘n Voetspoor met ‘n enorme hart. ‘n Boek waarin ons vriende pronk. Waar Louis sy vegan leefstyl en liefde vir die aarde in sy mooie poëtiese skrywes kan vertel. Waar ek my nuwe opgewondenheid en nuuskierigheid van ‘n vegan leefstyl in my verteltrant van skryf kan neerpen met sinne en los woorde wat op mekaar volg met min werkwoorde. ‘n Boek waar ons albei se motto uit Verandah weer pronk: The Earth is my Eden.”

Ek lys hier ‘n paar geregte wat in Skepselkos pryk: Soetpatatbobotie, botterskorsiegebak met tamatie-en-uie-smoor, pampoentert, persimmon en verkoolde groenboontjieslaai, Griekse kekerertjiesop, waaier-aartappels, vegan jaffels, botterboonkerrie, moussaka, roos-en-pistasieneutkoek en Meraai se blatjang. Jy kan ook jou eie speserye soos byvoorbeeld Italiaanse kruie, Cajun-speserymengsel en Chinese vyf-speserymengsel maak.

Geroosterde klein eiervruggies met peer in tahinisous

“Hierdie boek gaan hopelik jou lewe ‘n klein bietjie verander. Skepselkos is ‘n boek oor kos en mense. Kos wat sorgsaam en met invoeling voorberei word vir en deur mense wat omgee vir mekaar en omgee vir Moeder Aarde, ” aldus Louis op bladsy 15. Ek stem saam. Hierdie is ‘n besonderse kosboek en ek is baie trots om dit by my versameling kookboeke te voeg. Louis en Isabella het inderdaad daarin geslaag om al die kleurvolle drade saam te snoer in ‘n reeks betowerende hoofstukke.

“Skepselkos is ons eie tapisserie, geweef saam met vriende en geliefdes wat vir jou ‘n oomblik of twee van vreugde sal bring” (b. 1).

Klik op die foto links om die resep af te laai.

Skaf jou kopie van Skepselkos hier aan.

Kompetisie

Twee gelukkige KragDag-lesers kan elk ’n kopie van Skepselkos wen. Skryf in die kommentaarveld hier onder waarom jy die boek graag sou wou wen. Die pryse kan slegs na ’n adres in Suid-Afrika gekoerier word. Sluitingsdatum 31 Maart 2025.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

11 Comments

  • Briljant!

  • Ek is baie lief vir plantgebasseerde kos, maar sal graag ‘n paar nuwe resepte wil probeer. Ek is nou al moeg vir die resepte waarby ek vasgehaak het. Dus sal Skepselkos die ideale boek wees om weer bietjie lewe in my etes te plaas.

  • Sou graag meer wou leer oor vegan en beter verstaan. Die boek klink na n baie inspirerende boek om te hê. En ek hou van kos maak wat vriende en familie kan waardeer. Lekker kos en goeie siele loop hand aan hand

    • Veels geluk, Henna. Jy wen ‘n kopie van Skepselkos. Ons sal jou in verband daarmee kontak.

  • Ek is gaande oor kosmaak en probeer gedurig nuwe resepte. Die boek sal ‘n heerlike ontdekkingsreis wees.

    • Veels geluk, Anne. Jy wen ‘n kopie van Skepselkos. Ons sal met jou in aanraking kom.

  • Ek sal bitterlik graag die boek wil wen, ek is nie juis ‘n waterwonderse kok nie maar het ‘n GROOT behoefte om gesonder te eet en lewe en dit klink vir my of selfs ek die resepte sal kan maak 🙂

    Ons het nie die tipe finansies om geld te mors op onnodige voedsel bestanddele nie, ek sal graag ‘n gids wil kry om dit moontlik te maak om net die nodige te koop en gesonder te eet.

    Kies MY!! ASB!!!!!!

  • Dit sal wonderlik wees om n kopie van Skepselskos te wen!! Ek verslind al die mooi van Louis en dan nog saam met Isabella…kan net n fees wees!

  • Tapissirie laat my terugdink aan my ouma se pragtige handewerk. Pragtig, sorgvuldig en met soveel liefde. Aande se harde werk, geselsies toe ek by haar gebly het op skool. Daar hang nou een van haar werke in my huis. Haar waardes, haar kos van liefde gemaak. Eenvoudige kos uit die tuin, maar lekker kos. Die boek gaan vir my die herinneringe net mooier maak. Met kos van die aarde, sout van die aarde se mense, wat kan lekkerder wees om hierdie geregte saam vriende te deel saam al ons stories oor die jare. Nie te praat van die geregte en foto’s van soveel van my idols: Carmen, Reuben, Theresa. Ek glo dit gaan voel soos nog vriende in die huis. Hierdie gaan soveel mense ‘n reis van nuwe ervarings wees, nuwe geure en laat besef hoe lekker en gesond vegan kos kan wees. Ek self het nog so baie om te leer.

    • Sal graag nuwe resepte wil uit toets. Sal die soetpatat bobotie eerste wil probeer.

    • Veels geluk, Charlene. Jy wen ‘n kopie van Skepselkos. Ons sal jou kontak. Groete

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui