20 Hekeltegnieke
LAPA Uitgewers publiseer Christa Swanepoel se 20 Hekeltegnieke.
Hierdie praktiese gids, na my mening eintlik ’n mini-kursus in hekel, bied ’n waardevolle oorsig oor verskeie hekeltegnieke. Die selfdoen-entoesias sal hierdie boek beslis van waarde vind. Die pragtige patrone vir funksionele items is met sorg uitgesoek. Dit is geskik vir eie gebruik of om as geskenke weg te gee. Kwaliteit handgemaakte items is altyd gewild. Entrepreneurs kan dus daarna uitsien om van die items te verkoop en sodoende ’n inkomste te verdien.
Die lokteks op die agterblad lui: “20 Hekeltegnieke met kreatiewe projekte en moderne patrone bevat verskillende tegnieke en idees waarvoor hekelwerk gebruik kan word. Elke tegniek word vergesel deur een of meer patrone om die spesifieke tegniek op ’n moderne manier uit te beeld. Die skrywer verskaf basiese hekeltegnieke vir die beginner, asook meer gevorderde tegnieke vir diegene wat reeds ervare met hekelwerk is.”
Ek lys die twintig hekeltegnieke vir interessantheidshalwe: vingerhekel, loodglashekel, Tunisiese hekel, tapisseriehekel, haarnaaldhekel, filethekel, Tunisiese entrelac-hekel, touhekel, hoek-tot-hoek-hekel, kronkelhekel, T-hemp-hekel, dubbelhaak-hekel, tartanhekel, Bavariese hekel, besemstokhekel, draadhekel, mosaïekhekel, intarsiahekel, amigurumi en hekel met krale.
Die wye verskeidenheid hekeltegnieke verseker natuurlik dat die ywerige hekelaar nie gou verveeld raak nie. Dit is ook ’n heerlike kreatiewe uitdaging om soveel as moontlik van hierdie tegnieke onder die knie te kry. Daar is patrone vir onder meer ’n tafeldoek, ’n toppie wat met bandjies aan die kante vasmaak, oorgooidekens, kniekombersies, plekmatjies, vloermatjies, juwele en selfs ’n outydse doillie waarin kraletjies gehekel is. Die oulike amigorami-speelgoed sal enige kleinding se hartjie steel.
Die hekeltegnieke word stap-vir-stap met diagramme, uitstekende kleurfoto’s (geneem deur Marlize Cloete Fourie) en gedetailleerde byskrifte gedemonstreer. Boonop is daar ’n lys met afkortings wat die hekelaar in ’n japtrap baas kan raak. Mens leer ook hoe om steke op te sit, te vermeerder en te verminder en om ’n ry af te heg. Een van die talle goeie wenke in die boek is om ’n voltooide artikel plat neer te lê, dit te bedek met ’n klam lap of handdoek en te los om droog te word.
Die pragtige patrone in hierdie boek sal selfs nie-hekelaars soos ek aanpor om ’n hekelpen en draad op te tel. Ek het tot my vreugde op bladsy 8 vingerhekel ontdek. Daar is die mooiste oorgooideken wat mens so sonder ’n hekelpen kan maak. Ek brand om dit te probeer. Die deken is ideaal om gedurende die wintermaande mee op te krul voor die TV of verdiep te raak in ’n lekker leesboek.
Meer oor die skrywer:
Christa Swanepoel was vir lank deel van die span wat patrone vir Vrouekeur versorg het. LAPA het al verskeie boeke van haar uitgegee waarin sy haar liefde vir hekel en brei uitleef. Van haar meer onlangse boeke is 50 Tydlose breipatrone en 50 Tydlose hekelpatrone.
KragDag-lesers kan gerus Christa Swanepoel se 20 Hekeltegnieke (ISBN: 978-1-4323-1148-3) by toonaangewende boekwinkels aanskaf of dit hier bestel. Dit is ook hier as e-boek beskikbaar.
Ek sou baie graag hierdie boek wou besit sodat ek ‘n daadwerklike poging kan aanwend om te leer hekel.
In my familie is ek die enigste vrou wat nie kan hekel nie!
My ouma, ‘n kranige hekelaar, het vele dekens, tafeldoeke, kniekombersies, rokke, bloese, verskeidenheid babakleertjies, pantoffels en die pragtigste lappies en doilies gehekel.
So ook my ma en susters en my eie twee dogters, net arme ekke het nooit tyd gehad vir leer nie!!!
Nou, as staatspensionaris het ek tyd, maar nie die behendigheid om items voort te bring op my eie nie, en om hierdie boek te kan besit,sal my groot vreugde verskaf en my menswaardigheid ‘n groot hupstoot gee.
Ek en my dogtertjie leer saam hekel en kyk maar YouTube videos om te leer. Alles is in Engels en die Afrikaans sal dit vir haar makliker maak.
Beste Alte-Corne, jy is die gelukkige wenner van die hekelboek. Stuur asseblief jou selfoonnommer en afleweringsadres aan deon@kragdag.co.za. Ons sal reël dat jou wenboek aan jou gestuur word.
Dit sal vir my wonderlik wees om ‘n boek oor verskeie hekeltegnieke te wen. My geliefkoosde stokperdjie is hekel. Ek hekel baie uit my kop uit, maar dit kos baie lostrek, want dit werk nie altyd uit soos ek dit in my kop sien nie. Dus sal dit my baie help as ek ekstra inligting kan kry.
Baie dankie vir die geleentheid!!
Ek sou baie graag hierdie wonderlike Hekelboek wou ontvang om die rede dat al die vrou in my familie kan hekel, net ek nie.
My ouma, ma, susters en my eie twee dogters kan die mooiste artikels hekel.
Kleintyd kon ek my verkyk aan ouma se vlytige vingers wat dekens, tafeldoeke, rokke, bloesies, lappies, kniekombersies en doilies kon voortbring.
Kon nooit tyd vind om te leer hekel.
Nou, as staatspensionaris, het ek meer as genoeg tyd op hande, maar ontbreek die kennis van hekel.
Om hierdie wonderlike boek te kan besit sal my groot vreugde verskaf en my menswaardigheid ‘n hupstoot in die regte rigting gee@
Dankie toggie vir ‘n hekel boek in Afrikaans! My wonderlike ma en ouma het my al probeer leer om te hekel, en tot my spyt het ek te laat besef, dit is wat ek graag as stokpertjie wil doen. Asb gee my die geleentheid om self te leer hekel, op eie stoom, deur ‘n paar maklike stappe te volg! Graag sal ek dit later aan my dogter wil oordra, sodat sy ook kan leer hekel, soos ons wonderlike voorgeslagte dit gedoen het. My ouma grootjie het op 92 haar laaste lappie gehekel, wat ‘n voorreg ne! Dankie Kragdag vir hierdie spesiale geleenheid!
Sarie, jy is die gelukkige wenner van die hekelboek. Stuur asseblief jou selfoonnommer en afleweringsadres aan deon@kragdag.co.za. Ons sal re%l dat jou wenboek aan jou gestuur word.
Baie baie dankie, wat ‘n voorreg ek gaan hom so geniet, dit is baie spesiaal!
Ek sal vreeslik graag die boek wil wen. Ek is passievol oor hekel en die terapeutiese waarde daarvan. Hierdie sal ook ons groepie Atah shawl of Hope kan help met nuwe opwindednde idees.
Ek maak altyd gebruik van you tube videos om te leer. My probleem is net dat die wol wat die oorsese hekelaars gebruik, is nie in SA beskikbaar nie. As die regte wol v n patroon nie gebruik word nie, weet ek nie of dit die regte grootte gaan wees en die eindproduk reg gaan uitkom nie. Dis hoekom ek graag die biek wil he, sodat ek die regte inligting het vir n projek. Hoop so ek is die gelukkige wenner. Veslaaf aan hekel
I would be so happy to win this and what a help it will be for the crochet projects I make for charity and for gifts