Boekresensie: 50 Tydlose breipatrone
Brei-entoesiaste kan gerus naderskuif en hulle vergewis van Christa Swanepoel se lieflike breipatroonboek wat pas deur LAPA Uitgewers gepubliseer is. 50 Tydlose breipatrone bied vyftig met-die-hand-uitgesoekte projekte wat maklik genoeg is dat beginners ook die breinaalde en wol kan nadertrek.
Die teks op die agterblad lui: “Van babakomberse en sjaals tot truie en bykomstighede, hierdie breiboek bied ’n versameling van 50 hoogtepunte uit die baie suksesvolle reeks, Brei saam met Vrouekeur. Die 50 breipatrone beloof om elkeen se breilus te bevredig en jou te inspireer om daardie projek aan te pak. Die patrone is eenvoudig genoeg dat enigiemand dit kan brei. Daar is ’n groot verskeidenheid patroonsteke en nuttige wenke wat jou die vaardigheid gee om ook ander artikels te brei.”
Ek is altyd opgewonde oor nuwe handwerkboek wat op boekwinkels se rakke uitgestal word, want elkeen hou ’n vaardigheid voor wat ’n mens kan aanleer om daarmee ’n inkomste te verdien. Daar is deesdae ’n groot waardering vir handgemaakte artikels. Dis asof mense opnuut besef hoeveel ure se werk en kreatiwiteit daarin gaan. Boonop kom lê daar mos ’n stille trots en tevredenheid in jou binneste wanneer jy iets met jou eie hande geskep het en nie in die winkels gaan koop het nie. Die geleentheid om jou eie stempel op ’n artikel te plaas sodat dit perfek by jóú liggaamsbou en persoonlikheid pas, is ook nie te versmaai nie.
Om te brei is ook ’n terapeutiese uitlaatklep. Die herhalende aksie en die klik-klak van die breinaalde werk kalmerend op ’n mens in. Daarmee saam kom die sintuiglike waarneming van die wol, die tekstuur en die kleure. Brei is ook ’n stokperdjie wat suksesvol deur oud en jonk, man of vrou aangepak kan word. En die lekkerste is dat jy ewe gerieflik jou breinaalde en –wol orals met jou kan saamneem en feitlik op enige plek kan sit en brei – in die motor terwyl jy op die kinders wag, langs die sportveld, in die dokter se spreekkamer, voor die televisie, ens.
50 Tydlose breipatrone het ’n “Voor jy begin”-afdeling oor wat jy moet weet oor breidraad en –naalde, spanning en hoe die patrone se aanwysings werk vóór jy wegspring en begin brei. Die gemiddelde borsgroottes word ook aangedui. Die inhoudsopgawe lys die volgende hoofstukke, nl. Huis en dekor, Bykomstighede, Vir meisies, Vir vroue, Serpe en sjaals, Musse, Vir seuns, Vir mans, Komberse, en Afkortings.
My gunstelingpatroon in 50 Tydlose breipatrone is ‘n nuttige drasak (pdf 3 216 KB), waarvan die patroon met die komplimente van die uitgewers met KragDag se lesers gedeel word. Hierdie drasak kan in verskillende kleure gebrei word om by verskeie uitrustings te pas.
Meer oor die skrywer: Christa Swanepoel brei en hekel van kindsbeen af. Sy was vir baie jare lank deel van die Vrouekeur-span en het hulle patrone versorg en ’n reeks boeke deur LAPA uitgegee. Deesdae het sy meer tyd om haar passie uit te leef, en sy hoop om dit nog baie lank met ander te kan deel.
Skaf jou kopie van 50 Tydlose breipatrone hier aan. Dit is ook by toonaangewende boekhandelaars beskikbaar.
Ek het hierdie breiboek deur takealot gekoop,nou vind ek dit nie meer op takealot nie,mdogters wil ook graag elkeen die spesifieke boek:50Tydlose brei patroon boek deur Christa Swanepeol hê