Die nederige kappertjie

Ek geniet die eetbare plante in my tuin geweldig baie. Nie net is dit gesond, heilsaam en gerieflik nie, maar dit is ook terapeuties om vrugte, groente, kruie en speserye van die boom of plant af te eet. Mens put baie bevrediging daaruit om wat jy self groei te oes. Boonop spaar jy baie geld omdat jy dit nie ten duurste by die winkels gaan koop nie. Én jy is verseker dat wat jy inneem nie onder gifstowwe deurgeloop het nie – dis nou ás jy jou kos organies groei.

Een van my gunsteling eetbare plante is beslis die nederige kappertjie oftewel nasturtium of Tropaeolum majus. Ek is oortuig daarvan dat elke huis kappertjies in die tuin of in potplanthouers op die stoep moet hê. Nie net groei die plant – eintlik ’n kruid – groen en welig nie, maar die blomme is ’n baldadige bontspul wat uitroepe van bewondering ontlok. Dit het medisinale eienskappe en elke gedeelte van die plant is eetbaar.

Ek eet die blare en blomme net so. Dit het ’n pikante tot sterk peper-en-mosterdsmaak byna soos radyse. Die blomme werk heerlik in ’n slaai, en die blare kan net so op ’n toebroodjie geplaas word saam met ’n snytjie kaas of tamatie. Ek is lief om van die groter blare as ’n roti (wrap) te gebruik. Mens kan die plant ook roerbraai of ’n baie lekker pesto daarvan maak. Die saadjies kan ingelê of gepiekel word. Loer gerus hier en hier na resepte vir gepiekelde kappertjiesade. Die veelkleurige blomme lyk natuurlik ook baie mooi as garnering. Plaas dit gerus in ysbakkies, vul met water en vries. Dit lyk te mooi wanneer jy die blomys in glase gooi.

Kappetjies is goed vir onder meer die immuunstelsel en metabolisme. Dit is ryk aan vitamiene C en het antiseptiese, antibakteriese en antibiotiese eienskappe. Wanneer ek ’n seertjie in my mond het of my keel voel krapperig, stap ek net tuin toe en eet ’n paar kappertjieblare.

Kappertjies lok goeie insekte na jou tuin en ontmoedig dié wat minder gewens is. Plantluise, sprinkane en ruspes is veral baie lief daarvoor. Dit is dus ’n wonderlike idee om in die lente en somer kappertjiesaad in die groente- of vrugtetuin te saai, want dan sal hierdie insekte wye draaie loop om jou plante waarvoor jy jammer is om by die kappertjies uit te kom. Dit sprei vinnig op hulle eie en sal in ’n japtrap areas in die tuin ophelder. Daar is dwergvariëteite beskikbaar sowel as ranksoorte. Omdat dit opgaarplante is wat sekere minerale uit die grond oopneem en berg, kan jy dit gerus op jou komposhoop inwerk. Wanneer jy dan van die kompos gebruik, gee jy die minerale ook aan jou ander plante.[1]

Saai of plant jou kappertjies so liniaallengte ver van mekaar af in goeie grond wat met organiese materiaal verryk is en maak dit gereeld nat. Jy kan dit gerus saam met tamaties en kool plant. Geniet hierdie nederige, veeldoelige plant wat so baie bied.

*Grafika deur Angelstar, Gernot en edwina_mc van Pixabay.

[1] Begin jou eie groentetuin deur Johan van Zyl en Peter van Noord (Human en Rousseau, 2018)

5.00 avg. rating (96% score) - 2 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

One Comment

  • In my ma se tuin was ook kappertjies maar ons (hoofsaaklik ek😁) het gou die plante se blaartjies verorber! Gelukkig het ons bure nie omgegee as ek van hulle plante se blaartjies gebedel het nie! Ek kon net nooooit die pragtige blommetjies eet nie!
    Vandag dink ek met groot heimwëe terug aan daardie tye en wonder ek hoekom ek nog nooit my eie kappertjies aanplant nie!!!🙂

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui