Wees bedag op sekondêre trauma
Suid-Afrikaners leef in ’n uiters gewelddadige land waar misdaad hoogty vier. Ons hoef maar net ’n koerant oop te maak om te lees van die een grieselrige geweldsmisdaad na die ander. Die meeste van ons het al op een of ander manier onder misdaad deurgeloop of ons ken mense – dikwels geliefdes – wat deel geword het van die hemelhoë misdaadstatistiek.
Ons leef byvoorbeeld met die wete saam dat kapings aan die orde van die dag is, dat mense vermoor word vir hulle selfone, dat vroue en kinders, selfs babas, verkrag en wreedaardig doodgemaak word. Dan is daar nog die gevaar van inbrake, sterftes of beserings weens motorongelukke, politieke geweld en onluste en ook die kommerwekkende toename in selfdoodgevalle. Ons hoor van sprinkaanplae, droogte, vloede en ander rampe.
Dan praat ons nie eens van die wêreldwye Covid-19-pandemie en die gepaardgaande stres en trauma nie – die inperkings, siekte en/of dood en die gevolglike finansiële implikasies. En nou, om alles te kroon, val Rusland die Oekraïne binne en die wêreld staar ’n Derde Wêreldoorlog of kernoorlog in die oë. En al is ons dalk hóé gelukkig in die sin dat ons dalk nie onmiddellik fisiek geraak word deur al bogenoemde scenarios nie, kan ons of ons kinders wel ly aan tweedehandse of sekondêre stres.
Bewaar jou poorte
Ons leef in ’n era waar ons met die druk van ’n knoppie toegang verkry tot beeld- en klankmateriaal wat ons binne sekondes déél maak van traumatiese ervaringe wat ander feitlik enige plek ter wêreld mag beleef, soos bv. die grutonele van bomontploffings, die angs van vlugtelinge wat in alleryl vir hulle lewens vlug en die hartverskeurende werklikhede van mense wat honger het of siek is. Of ons hoor hoe iemand oor die radio vertel watter afgryslikhede hulle deurmaak. Al hierdie dinge veroorsaak ’n stresreaksie in ons liggame. En nee, jy hoef nie as ’n paramedikus, traumaberader, polisieman, soldaat of joernalis te werk om moontlik aan medelyestres of tweedehandse trauma te ly nie. Jy kan net ’n koerant oopmaak, die TV of radio aanskakel of na video’s op die internet kyk om geaffekteer te word.
Kan mens maar net al die negatiewe nuus eenkant toe skuif en jou kop soos ’n volstruis onder die sand druk? Nee, dit is nie altyd moontlik of wenslik nie, veral nie as mense ná aan jou deur trauma gaan nie. Bowendien wil ons graag op hoogte bly van wat om ons aan die gebeur is. Dit is egter nodig dat ons bewustelik omsien na ons self, en dit sluit ons onmiddellike gesinskring in. Dit is een ding om byvoorbeeld ingelig te wees oor die gebeure in Rusland en die Oekraïne, maar dit is ’n ander ding om jouself doelbewus bloot te stel aan ontstellende grutonele. Jy het ’n verantwoordelikheid teenoor jouself om jou poorte (bv. jou oë en ore waardeur jy inligting inneem) te bewaak.
Natuurlik moet ons medelye hê met diegene wat deur trauma gaan. Ons kan vir hulle bid en selfs praktiese hulp of ondersteuning aanbied deur byvoorbeeld broodnodige skenkings te maak of om te reël vir professionele hulp. Dit is goed en reg om te wil help. Dit is ook goed en reg om voorbereid te wees en byvoorbeeld ’n eetbare tuin aan te plant omdat daar na verwagting binnekort voedselskaarte ondervind mag word, of spaarsamig te wees omdat die prys van lewensmiddele dalk die hoogte gaan inskiet.
Wees egter bedag daarop dat jy nie só obsessief reageer oor die “wat as-scenarios” nie dat jy jouself uitbrand of lewensmoeg maak nie. Haal diep asem en wees doelbewus teenwoordig in die hier en nou. Moenie huiwer om professionele hulp in te roep indien nodig nie. Sien om na jouself; eers dán kan jy die wêreld se probleme aanspreek. Spandeer tyd weg van die internet en soek die natuur op waar jy vry kan asemhaal en die geleentheid kan hê om rustig met God te verkeer.
Gaan lees gerus hier meer oor tweedehandse trauma.
- https://maroelamedia.co.za/goeiegoed/ly-jy-aan-sekondere-stres/
- https://www.vrouekeur.co.za/nuus-vermaak/wat-is-tweedehandse-trauma
- https://pdfs.semanticscholar.org/3762/8a1365f00528cf0a43b3b72206282e109eee.pdf