Bemoei jou met jou eie sake

Ek kon nie help om onlangs hardop te lag toe ek Bybelstudie doen nie. Ek lees toe mos die volgende vers raak: “Hy wat ’n verbylopende hond aan die ore gryp, is een wat hom vererg oor ’n twis wat hom nie aangaan nie” (Spreuke 26:17). Nou verbeel jou die scenario vir ’n oomblik waar iemand bogenoemde sou probeer. Hy sal mos lelik op sy neus kyk, want hond se kind gaan beslis luidkeels protesteer en vir ’n vale begin byt dat bloed en spoeg in alle rigtings spat. Jy loop en meng jou nie in met sake wat niks met jou te doen het nie. My oorlede Oupa se leuse was nie verniet “’n toe mond is ’n heel mond” nie.

Onmiddellik dink ek toe mos aan die tendens op sosialemediaplatforms waar sleutelbordkrygers wild en wakker mekaar die stryd aansê oor aangeleenthede waarby hulle dikwels eintlik geen belang het nie. Gewoonlik is die vurige agter-die-skerms-aktiviste net lus vir kwaadstokery, opstokery of sommer net geniepsige trollery. Baie van hulle geniet die anonimiteit wat daar aanlyn te vinde is en gebruik graag skuilname of avatars om agter weg te kruip en hulle aanvalle te loods. Aan hulle kommentaar kan jy gou agterkom hulle het nie eens die moeite gedoen om die plasing te lees nie, maar het sommer impulsief en strydlustig op die wa gespring in die kommentaarafdeling en die vingers laat vlieg soos hulle hul verontwaardiging of meerdere kennis oor dié of dáái te kenne gee. Só ontketen hulle ’n simpel gestryery totdat hulle naderhand geblok of gerapporteer word.

Alles goed en wel, ja. Mens het die reg om stoom af te blaas en jou sê te sê. Die dae van stilbly en bekhou is lankal verby. Ons mág ’n mening lug en sê of ons saamstem met iets of daarteen is. Ons mag tot ’n debat toetree en daaraan deelneem, veral as ons weldeurdagte opmerkings wil en kan maak. Maar soos alles in die lewe is daar altyd diegene wat dinge net té ver vat. Hulle wat óf vreesloos óf aspris óf ongemanierd óf net onnosel is, want hulle stoomroller doodeenvoudig voort met byvoorbeeld kwetsende, rassistiese of seksistiese op- en aanmerkings. Dis asof sommige mense net nie verby ’n plasing of artikel kan blaai sonder om nie eers ’n eiertjie te lê nie. Mens sou sê hulle word betáál om skoor te soek, gemoedere op te sweep of sommer net te stry omdat stry stry is.

Vir diesulkes wil ek vra: “Is alles oraait byrie hys?”[1] Ontspan, man (of dame)! Moenie die lewe so ernstig opneem nie. Dis nie nodig om so hard en aanhoudend vir die maan te blaf nie. Jy hét nie al die wysheid in pag nie, al dink jy dalk so. Observeer eerder in die agtergrond en leer dalk ’n ding of twee wat jy nie geweet het nie. Ons lees immers in Spreuke 3:30: “Twis nie sonder oorsaak met ’n mens as hy jou geen kwaad gedoen het nie”, en in Spreuk 10:19: “By veelheid van woorde ontbreek die oortreding nie; maar hy wat sy lippe inhou, handel verstandig.” Dink dus twee maal voordat jy onbedagsame en ondeurdagte kommentaar lewer of selfs fopnuus versprei.

[1] (Sinspeling op die titel van Bernie Fabing, stigter van Vannie Kaap, se boek wat deur Kwela gepubliseer word.)

4.00 avg. rating (84% score) - 1 vote
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui