Tuisonderrig onder skoot

Die volgende meningsartikel is geskryf na afloop van die skrywer se bywoning van ‘n geleentheid op 22 November 2022 waar mondelinge voorleggings oor die BELA Bill in die parlement gedoen is, asook in reaksie van ‘n artikel op Rapport van Sondag 27 November 2022 se voorblad – wat ‘n wye gesprek op sosiale media ontlok het.

Aan die einde van die jaar word matriek- en ander eksamenuitslae gewoonlik onder die vergrootglas geplaas en ‘n algemene gesprekspunt is hoe dit met die eksamen gegaan het. Ouers wag dan in spanning om uit te vind of hulle kinders geslaag of gedruip het en besluit dan of die bonus (daardie uitsonderlike verskynsel) op die vakansie of op ekstra klasse spandeer gaan word.

In die tuisonderriggemeenskap is hierdie gesprekke ‘n rare verskynsel. Wanneer goedbedoelende kennisse en vreemdelinge my dus nader, word ek grootoog aangekyk wanneer ek noem dat my 13-jarige nie eksamen skryf nie. Ons fokus op leer, deurlopende evaluering en die vaslê van begrippe en vaardighede – eerder as op die voltooiing van ‘n voorgeskrewe jaarprogram. Ons laat ons ook nie deur die kalender lei nie.

Ek besef dat hierdie benadering totaal verskil van die tradisionele skoolstelsel waarmee mense bekend is, maar ek het gehoop dat daar na meer as 20 jaar van tuisonderrig (asook 2 jaar van ‘n grendelstaat) ‘n beter begrip onder Jan Publiek sou wees. Dit lyk egter of daar nou meer verwarring as ooit heers. Talle vind dit moeilik om te aanvaar dat ‘n drasties anderse benadering tot onderwys moontlik is… dat daar ‘n wêreld bestaan buite graadvlakke en ouderdom gekoppel aan graad, buite  voorgeskrewe vakke en vakinhoud en met matriek op ouderdom 18.

In Sondag 27 November 2022 se Rapport lees ek hoe opvoeders en opvoedkundige sielkundiges nou nog bekommerd is oor die “verskuilde kurrikulum” en die aanleer van sosiale vaardighede. Daar bestaan nog die wanopvatting dat tuisonderrigouers hul kinders in die huis toesluit en hul ontneem van sport- en kultuuraktiwiteite, wat hulle daarvan weerhou om vriende te maak, teleurstellings te ervaar en leierskapsposisies in te neem. In die berig word daar ‘n onnatuurlike klem geplaas op sosialisering met onderwysers (hoe om onderdanig te luister en gehoorsaam te wees) en slegs met jou portuurgroep te meng.  Seker dié dat my geslag nou nog ‘n oud-onderwyser as Meneer of Juffrou aanspreek al is hulle net 5 of 10 jaar ouer.

Daar is ‘n groot verskil tussen aanlynskole en tuisonderrig, maar in die Rapportberig word albei oor dieselfde kam geskeer. Alle verskaffers van aanlynleer word sommer ook bygekom. Marietjie Ueckermann (lid van die Western Cape Education Council wat die Wes-Kaapse minister van onderwys van raad voorsien) definieer tuisonderrig as volg: “Tuisonderrig is onderrig waarvoor die ouer die volle verantwoordelikheid aanvaar. Hul skep die leeromgewing en voorsien die opvoedkundige hulpmiddels. Dit kan aanlynbronne insluit, maar die verantwoordelikheid vir die onderrig berus steeds ten volle op die ouers, en soms selfs by die leerder, indien dit ‘n selfgedrewe en selfstandige leerder is. Onderrig word dus nie (ge)deligeer of uit(ge)kontrakteer nie.”

Tuisonderrig fokus op die volle ontwikkeling van die kind en die kind bepaal die kurrikulum. Daar word teen die kind se pas gewerk en die kind se belangstellings word deurlopend in ag geneem. Navorsing oor tuisonderrig is skaars en ek baseer my stellings op my eie ervaring, waarnemings asook gesprekke met ander tuisonderriggesinne (plaaslik en internasionaal). Ons is nogal ‘n gesellige lot en ondersteuningsgroepe op sosiale media wemel van frustrasie, advies asook die deel van persoonlike ervaring.

Talle ouers is ontnugter deur die diens van sommige KABV-tuisskoolverskaffers en aanlynskole. Dit blyk dat daar groot onduidelikheid heers oor wie verantwoordelik is vir die kind se leer – die diensverskaffer of die ouer. Klagtes wat gereeld in ondersteuningsgroepe geopper word, is dat daar min ondersteuning is, kinders se vrae word nie beantwoord nie en die tempo en aanbieding van lesmateriaal is nie gepas vir onderrig by die huis nie.

Dit is daarom geen wonder dat ouers gemiddeld binne 2-3 jaar oorskakel na ‘n kind-gesentreerde, tuisonderrig-vriendelike benadering nie. Ek was van die gelukkiges wat binne 3 maande besef het dat “skool-by-die-huis” nie werk nie. Die voordeel van tuisonderrig is dat jou kind aktief leer. Leer vind optimaal plaas wanneer die kind gereed is daarvoor, daarin belangstel en verstaan waar dit in die “regte-wêreld” van toepassing is. Daar is ‘n paar mikro-skole wat hierdie benadering met groot sukses volg en die aanvraag daarna is groot.

Yolanda Smith is ‘n ouer wat aanlynonderrig verstaan en die vrugte daarvan pluk. Sy het oor haar ervaring met ‘n aanlynskool op Facebook geskryf en ek deel die volgende met haar toestemming. Sy noem dat haar seun van graad R tot graad 4 in ‘n openbare skool was. “Sy onderwysers het in 2019 gesê: “Hy gaan deur die cracks val!” Hul het gesê hy mag nie graad 4 herhaal nie want die onderwysdepartement sal dit nie toelaat nie. Hulle het gesê hy sal glad nie graad 5 kan doen nie.”

Aan die begin van 2020 het sy haar kind by ‘n aanlynskool ingeskryf en saam met hom die klasse bygewoon. Daar het sy besef dat hy met lees en skryf sukkel. ‘n Opvoedkundige sielkundige het hom kort daarna met disgrafie (leergestremdheid met geskrewe uitdrukking) gediagnoseer. Yolanda het haar seun ondersteun deur hom te leer om te tik, notas vir hom te neem en namens hom te skryf. Sy het verantwoordelikheid vir haar kind se leer geneem en middel 2022 die opnames van die klasse begin gebruik. Hy is tans besig met sy laaste graad 7 eksamen – iets wat die onderwysers nie gedink het moontlik sal wees nie!

Ek en my seun was deel van die Learn Free -afvaardiging wat op Dinsdag 22 November 2022 ‘n mondelinge voorlegging aan die Portefeulje Komitee oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Opvoedingswette (ook bekend as die BELA-wetsontwerp) in die parlement gemaak het. Die voorlegging het gefokus op die onrealistiese wetgewing en regulasies wat vir tuisonderrig beplan word, asook die behoefte aan die erkenning van mikro- (boetiek-) skole wat ‘n belangrike rol in die samelewing speel. Christopher Cordeiro het genoem dat tuisonderrig en mikro-skole ‘n groot bydrae tot die bereik van die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte kan wees, mits dit verwelkom word en wetgewing in oorstemming met die aard en realiteit van hierdie benaderings geskryf word. Voorleggings deur ander partye het bevestig dat daar ‘n groeiende tekort aan beide skole en onderwysers is, asook ‘n behoefte vir kleiner klasse. My hart was verbly deur komiteelid Patamedi Ronald Moroatshehla wat na afloop van die Learn Free voorlegging gesê het: “Education is dynamic.” Hy het Mzwakhe Mbuli aangehaal wat gesê het: “Change is pain,” en wat hy opgevolg het met: “…change is inevitable.” Die komitee het by my die indruk geskep dat hulle voorstanders is van ‘n demokrasie waaraan die gemeenskap deelneem (die term “participatory democracy” is gebruik) en hulle het deurentyd met respek en geduld aandagtig na die verskeie voorleggings geluister en daarop gereageer.

Die tradisionele skoolstelsel is lankal nie meer die enigste manier om ‘n kind op te voed of te onderrig nie. Lank gelede reeds was tuisonderrig en mikro-skole al die norm. Hoekom sukkel ons kinders so op skool? En hoekom is soveel ouers op soek na ander weë? Ek dink dis omdat die kind ‘n gemiddelde geword het. Klasse is te groot en die druk is te veel. Dit laat onderwysers met geen ander keuse as om almal as eenders te beskou en te benader nie. Die gemiddelde word aangespreek! Dit is tot voordeel van die gemiddelde kind, maar dit benadeel die bo-gemiddelde en die onder-gemiddelde kind. Dit is baie keer dan ook hierdie kinders wat die skoolsisteem verlaat.

Binne tuisonderrig vind hulle ‘n tuiste. ‘n Plek waar hulle vinnig in tale kan vorder, maar teen ‘n stadiger pas wiskunde kan bemeester. Of as hulle wiskundige en wetenskaplike aanleg hul taalvermoë oorskry, word hulle nie in hierdie vakke teruggehou nie, maar word hulle die vryheid gebied om hul vlerke te sprei terwyl die fondamente vir taal gelê word.

Ek het sterk opinies ten opsige van onderrig gehad voor ons 6 jaar gelede met tuisonderrig begin het… en hulle is almal verkeerd bewys. My wanopvattings het ingesluit dat slegs ‘n onderwyser ‘n kind kan leer lees en skryf en somme maak, en dat ‘n kind slegs kan leer wanneer hy onderrig word. Ek was oortuig dat ‘n kind slegs kan leer as hy kan lees en skryf. My eie kind het die teendeel bewys.

“Maar hoe weet jy jou kind leer en sal eendag verder kan studeer as hy nie skool toe gaan nie?” Dis ‘n vraag wat die komiteelede sowel as kennisse en vreemdelinge my vra. Die antwoord is maklik. Wanneer jy soveel tyd met jou kind spandeer bou jy ‘n hegte band. Jy weet presies wat sy sterk en swak punte is, waar hy sukkel en waar hy floreer. Jy as ouer het ‘n gevestigde belang in jou kind se ontwikkeling. Die verantwoordelikheid vir jou kind se groei, ontwikkeling en akademiese prestasie is nie aan ‘n ander oorgelaat nie en ons maak gebruik van gepaste tuisonderrigmateriaal van regoor die wêreld.

In die voor-matriekfase is die fokus van tuisonderrigouers om hul kinders aan soveel moontlik bloot te stel sonder die druk van toetse en punte. Ons moedig hulle aan om te probeer en foute te maak en daaruit te leer. Ons brandmerk hulle nie as slim of dom nie. Ons neem hulle op opvoedkundige uitstappies en laat hulle ‘n dag of twee by vriende, familie, of enigeen wat bereid is, se werk spandeer (vir job shadowing). Ons gee hulle tyd om op hulle belangstellings en talente te fokus en om tog nog te kan speel.

Wanneer die kinders tieners word, begin ons meer fokus op watter matriekkwalifikasie hulle wil bekom. Die gewildste matriekkwalifikasies is die Cambridge internasionale eksamen met die IGCSE, AS en A vlak kwalifikasies, die General Educational Development test (GED) en die American High School Diploma. Hierdie kwalifikasies word wêreldwyd erken en bied boonop ‘n plooibaarheid wat die Nasionale Senior Sertifikaat nie bied nie. Vyftien- tot twintigjariges voltooi hul kwalifikasies.

“Maar wat as jou kind agter raak?” Agter raak met wat? ‘n Voorgeskrewe leerplan wat bepaal dat hulle op ouderdom x feit y moet leer? Om te leer en dit wat jy geleer het toe te pas is ‘n vaardigheid onafhanklik van inhoud. As jy weet hoe om te leer, kan jy enigiets leer. As daar ‘n liefde vir leer gekweek is en ‘n nuuskierigheid en behoefte aan verstaan aangewakker is, kan enige vak bemeester word. In die berig op Rapport se voorblad meld ‘n skoolhoof dat kinders wat tuisonderrig ontvang ‘n graad of 2 agter is, maar waar is die bewyse en wat is die konteks? Kon die kinders enigsins voorberei vir die toets of word net skoolkinders daardie geleentheid gegun? Hoe vinnig het hierdie kinders wel die graadinhoud bemeester? Sou hierdie kinders nie dalk in elk geval gesukkel het en ‘n graad of 2 moes herhaal nie?

Die grendelstaat, sukkelende en swakpresterende skole, oorvol klasse en die tekort aan skole en onderwysers het hernude druk op die onderwysstelsel geplaas. Talle ouers wat nog nooit van tuisonderrig gehoor het of daarmee bekend was nie, het ter elfder ure by aanlynskole ingeskryf in die hoop dat hulle die beste vir hul kinders doen. Ongelukkig was baie gesinne nie voorbereid vir die groot sprong nie en van die verskaffers het nie hul beloftes gestand gedoen nie. Ons moet ook in ag neem dat aanlynskole nog in hul kinderskoene staan en dat daar groeipyne gaan wees. Ten spyte hiervan het baie gesinne ‘n nuwe tuiste gevind en praat hulle met lof oor hul diensverskaffer.

Wanneer ons kinders as individue sien en vir hulle ‘n sê gee in die onderrig wat hulle ontvang, dan sal ons vordering maak. Dan belê ons in die volgende geslag. En wat maak dit saak of jy op 15, 18 of 20 matriek skryf?

Vir Suid-Afrika om te floreer en oplossings op talle van ons sosiale en ekonomiese kwale te vind, is dit noodsaaklik dat alle benaderings tot onderrig aangegryp word. “One size fits all” het nog nooit gewerk nie en allermins so in die onderwysstelsel.

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote
Anelle Burger
  • Anelle Burger
  • Anelle Burger is 'n tuisonderrigma en -aktivis, woonagtig in Malmesbury.

    072 037 7837

3 Comments

  • Baie dankie vir ‘n uitstekende artikel.

  • Hoekom steur ons mense ons nog aan Rapport? Hoekom LEES mense nog Rapport?. Het mense na 25 jaar nog nie agtergekom dat Rapport se agenda is om alle inisiatiewe in die kiem te smoor met onsinnigheid nie>

  • Goeienaand
    Ek het U n boodskap op whats app gestuur MeV. Anelle.
    Ek Glo en vertrou U sal terug Kom Na ons .
    Baie dankie

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui