Wat gebeur alles by KragDag en hoe kan jy deel in die KragDag gemeenskap?

In lyn met KragDag se Doen jou eie ding! leuse, wil KragDag nie met sentrale beheer en alleeninisiatief voorskryf wat die inhoud van jou selfstandigheid moet wees nie. Ons verwelkom dus insette, kommentaar, kritiek en deelname van mense, wat hulle tuis voel in die KragDag gemeenskap, om hulle kundigheid tot voordeel van die res te deel. Ons nooi jou weer om die platvorms wat die KragDag gemeenskap bied, te benut om hierin ons medewerkers te wees.

Besoek die AfriSake KragDag 2018 ekspo

Van KragDag 2008 tot KragDag 2018

Dit is vanjaar die tiende keer dat die KragDag ekspo aangebied word. Die eerste KragDag ekspo is op 10 Mei 2008 gehou. Dit was ‘n baie informele maar lewendige byeenkoms – die totale aktiwiteit het egter slegs ongeveer ‘n derde van die area beslaan wat DV hierdie jaar net deur die kosstalle beset sal word. Sedertdien het elke winter, met die uitsondering van 2009, ‘n KragDag ekspo op die Diamantvallei Landgoed, oos van Pretoria, opgelewer.

Soos jy waarskynlik bewus is, handel hierdie doen-jou-eie-ding ekspo hoofsaaklik met uitstallings wat die klem laat val op onderwerpe soos volhoubaarheid, hernubare energie, ‘n selfstandige leefstyl, baanbrekertegnologie, die makersfilosofie, veiligheid, gesondheid, voedselproduksie, opvoedkunde, entrepreneurskap, vervoer, waterbenutting en -besparing, riool en nog vele, vele meer.

Hou die KragDag nuusbriewe en sosiale media dop vir meer nuus oor vanjaar se AfriSake KragDag wat op 9-11 Augustus plaasvind onder die tema Grondslag vir Selfstandigheid.

Voorafregistrasies vir AfriSake KragDag 2018 open volgende maand.

Stal uit by AfriSake KragDag 2018

Tegnologie vorm ‘n belangrike komponent van die KragDag selfstandigheidsywer en daarom is dit gepas dat dit ook aangewend word om Kragdag se kantoorfunksionering meer effektief en doeltreffend te maak. Oor die afgelope jaar het ons aan ‘n aanlyn besprekingsisteem vir uitstallers ontwikkel en kan ons met trots aankondig dat die stelsel so pas op KragDag se webtuiste lewendig gegaan het. Natuurlik sal daar nog hier en daar goggas uitspring en ons het nog verskeie gedagtes om dit vorentoe verder uit te brei, maar uitstallers kan nou op genotvolle wyse hulle besprekings vinniger en makliker doen.

Laat weet ons gerus indien jy van ‘n onderneming weet wat jy graag by KragDag sal wil sien, of

As jy betrokke is by ‘n onderneming wat mense kan help om selfstandig of staatsbestand te word, nooi ons jou om nou HIER aansoek te doen vir jou uitstalruimte by AfriSake KragDag 2018.

Werkswinkels

Omdat ’n KragDag ekspo eenmaal ’n jaar net nie genoeg is nie en om nader te kom daaraan om elke dag ’n “KragDag” te maak, fasiliteer KragDag die aanbied van werkswinkels en kursusse deur kundige persone en wil ons graag die verskeidenheid van onderwerpe, waaroor ons kursusse wil aanbied, met verloop van tyd uitbrei.

Gesels met ons indien jy ’n bydrae kan lewer wat ’n wesenlike behoefte in die KragDag gemeenskap kan bevredig.

Nuusbrief, Webjoernaal en Forum

KragDag is ook besig om ‘n groter Kuberteenwoordigheid te vestig met ‘n nuusbrief, webjoernaal (blog) en forum waar ons poog om rondom ons tema internet-inhoud vir ons KragDag-gemeenskap te skep.

Ons wil graag interessante en praktiese inligting aan ons gemeenskap deurgee en ook ‘n geleentheid skep om met mekaar gedagtes te wissel, raad te vra en raad te gee. Die opskrif op die web-joernaalblad reflekteer ons oogmerk daarmee, naamlik om inligting te skep in terme van Raad (kennis, inligting en advies), Daad (prosesse, dienste, handelinge, voorbeelde en planne) en Apparaat (toestelle, toerusting en produkte) wat selfstandigheid bewerkstellig en stimuleer.

Ons weet dat daar baie kundigheid in ons KragDag-gemeenskap is en ons wil kundiges aanmoedig om betrokke te raak by wyse van bydraes en insette op ons Forum en … om as medewerkers vir die Webjoernaal (en Nuusbrief) artikels by te dra oor doen-jou-eie-ding onderwerpe waaroor hulle kennis beskik. Kom meld jouself aan! Stuur vir ons ‘n e-pos en ons verskaf vir jou die tegniese- ’n inhoudsvereistes.

Werksgeleentheid in die kantoor

Laastens gebruik ons sommer ook die geleentheid om te meld dat ons tans ’n projek-/stukwerk geleentheid in die kantoor beskikbaar het, waarvan die grootste komponent telefoniese en e-pos skakeling behels. Dit sal van groot waarde wees vir ‘n jong persoon wat in die verkope- en bemarkingswêreld of entrepreneursvaardighede belangstel of besig is om daarin te studeer en bied ‘n uitstekende en avontuurlike indiensopleiding geleentheid met tegnologiese en praktiese ervaring.

Stuur vir ons ‘n e-pos en ons stuur vir jou meer besonderhede.

Dit sal werklik waardeer word as ons mekaar as die KragDaggemeenskap kan skaaf en slyp oor hierdie nuttige onderwerp van selfstandigheid.

Deon Vosloo

    Raad, Daad en Apparaat vir Doen-jou-eie-ding

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui