Wanneer sal ons vir ‘n naweek kan wegbreek maan toe?

Op 8 Februarie 2018, die dag toe Tesla se nuwe Roadster as hooffoto op ‘n KragDag nuusbrief verskyn het, het Elon Musk se ander indrukwekkende maatskappy, SpaceX, sy Falcon Heavy gelanseer. Die Falcon Heavy is ‘n samevoeging van drie kerne (vuurpyle) met nege vuurpylenjins elk, om amper 64 ton (die ekwivalent van vyf dubbeldekker busse) die ruimte in te stuur. Hierdie prestasie maak die deur oop vir ‘n nuwe skaal waarteen ruimtesendings onderneem kan word.

Elon Musk het self die lansering as bietjie laf maar prettig beskryf. Die verfrissende vars manier waarop hierdie pretlansering gedoen is, staan in kontras met die kliniesheid waarmee ‘n soortgelyke staatsinisiatief aanpak sou moes word en dit laat mens boonop ‘n bietjie dink aan CJ Langenhoven se “swaarkry met lekkerkry klaarkry”. Die Falcon Heavy se vrag het onder meer bestaan uit ‘n gemonteerde Tesla Roadster met ‘n fopbestuurder genaamd “Starman” in die bestuurdersitplek, ‘n mini Roadster modelletjie op die paneelbord en verskeie kameras in die vragruim om die reis af te neem, onder geklank van David Bowie se Space Oddity om die opgewondenheid van die geleentheid te komplimenteer.

Die lansering was amper bloot om ‘n punt te bewys. Elon Musk sê daar is nie ‘n beplande verdere uitkoms vir die ruimtetuig nie. Die tuig kom nie terug nie. Dit gaan net in ‘n baan om die son wentel. Dit sal verby Mars vlieg as dit reg werk en miskien is dit ‘n oogmerk van herwinning vir ‘n toekomstige (50 jaar vorentoe) kompetisie.

Indien jy honderd jaar gelede vir iemand sou sê: “Het jy geweet, oor honderd jaar sal jy enige plek op aarde in twee of drie vlugte met ‘n vliegtuig kan kom?”, sou die eerste reaksie waarskynlik wees “Wat is ‘n vliegtuig?” Die volgende sou ongeloof wees dat jy binne so ‘n kort tyd êrens kon kom wat destyds met skepe maande geneem het. Soortgelyk kan gesinne waarskynlik oor 100 tot 200 jaar die sonnestelsel met ruimtetuie deurkruis.

SpaceX Dragon bemanning meer vas op die Internasionale Ruimtestasie

Die ruimteresies tussen die VSA en Rusland het 60 jaar gelede (4 Oktober 1957) met die opstuur van die Russiese Sputnik-satelliet begin en het 18 jaar later in die ruimte geëindig met ‘n handdruk tussen die ruimtevaarders Aleksey Leonov en Tom Stafford in ‘n gesamentlike USSR-Amerikaanse dokmissie. Dit was die begin van ‘n era van internasionale samewerking in die ruimte.

Oor die afgelope dekade was daar egter ‘n groot verandering. Die ruimte-omgewing is nie meer die alleendomein van regeringsagentskappe nie. Dit is relatief onlangs ook betree deur private maatskappye wat groter ontwikkelingspronge vir die mensdom (met apologie aan Neil Armstrong se “one giant leap for mankand”) veroorsaak as wat die geval sou wees indien dit net aan regerings oorgelaat sou word.

Daar is as te ware ‘n nuwe ruimtewedloop, wat hierdie keer getrou aan die vryemark gedryf word deur ‘n kompetisie vir kliënte eerder as die drang van politici om deur vertoon van eerste prestasie dominansie te probeer bewys. Dit is ook nie beperk tot enkele spelers nie, maar daar is letterlik dosyne en talle nuwe toetreders.

Tot dusver het slegs 18 mense die voorreg gehad om per ruimtetuig ‘n draai om die maan te maak, en vanaf Januarie 2012 het slegs sewe privaat burgers (superrykes) op hul eie koste na die ruimte gevlieg, maar daar is ‘n toenemende fokus op ruimtetoerisme. Dit mag dus ‘n rukkie neem voordat ek en jy dit sal kan bekostig om vir die man op die maan te gaan kuier, maar as dit enige troos is, daar is klomp mense wat ywerig daaraan werk om dit vir ons moontlik te maak. Die drie maatskappye wat waarskynlik die vêrste gevorder is op die ontginning van hierdie terrein, is SpaceX van Elon Musk, Blue Origin van Amazon se Jeff Bezos en Richard Branson se Virgin Galactic. Die hoofdoelwit van al drie maatskappye is om die koste verbonde aan ruimtereise te verminder, hoofsaaklik deur hergebruik van lanseerders en ruimtetuie, ten einde hierdie reise meer toeganklik te maak vir mense wat nie spesiaal opgeleide ruimtevaarders is nie. Die uiteindelike doel van SpaceX is om mense op ander planete te laat lewe, met ‘n beplanning om moontlik reeds in 2023 ‘n sending na Mars te stuur.

Ruimte-tegnologie sal egter ook ‘n effek hê op aardse vervoer soos deur SpaceX se aangekondigde BFR projek wat bv. reistyd tussen Kaapstad en Londen sal kan verminder na 34 minute.

Een van die grootste redes vir die eksponensiële groei van tegnologie in die rekenaarwêreld is die afwesigheid van grootskaalse regeringsregulering. Miskien sal die praktiese hindernisse vir ‘n nasionale regering om die internasionale buitenste ruimte te reguleer, sowel as die onderliggende wedywering tussen lande, hopelik regerings forseer om hulle regulasiehande van hierdie terrein af hou of te beperk, en sodoende private inisiatief die geleentheid gee om vir die ruimte-industrie te doen, wat dit vir die IT-industrie gedoen het.

Gesels saam:

Ons ontvang graag jou kommentaar op hierdie artikel (Gaan na Leave a Comment hieronder). Gebruik ook gerus ons GespreksForum om ‘n gesprek aan die gang te sit deur jou vrae, wenke en insette met die KragDag gemeenskap te deel.

——————————————

Help ons asseblief om hoë gehalte artikels te verseker deur hieronder aan te dui hoeveel sterre jy vir hierdie artikel sou toeken.

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui