Klaar met skool. Wat nou?
Duisende matrikulante het onlangs hulle skoolloopbane voltooi en moet nou die grootmenslewe aandurf. Sommige het reeds planne in plek om verder te gaan studeer, hetsy by ‘n universiteit, technikon, kollege of akademie. Die opgewondenheid is natuurlik groot en die geleenthede legio. Maar nie almal het die finansies of die begeerte om formeel verder te gaan studeer nie. Daar is jong volwassenes wat verkies om eerder ‘n oorbruggingsjaar te neem om hulself eers beter te leer ken en dalk te reis alvorens hulle op ‘n loopbaan besluit. Dan is daar ook diegene wat dadelik moet uitspring en werk soek of dit selfs wil waag om hulle eie besighede te begin.
Elkeen se pad is anders. Daar is nie ‘n regte of verkeerde manier nie. Skoolverlaters wat ‘n positiewe gesindheid het en bereid is om hard te werk, kan ten spyte van vele uitdagings in die huidige ekonomiese klimaat geleenthede identifiseer en ontgin. Indien jy onlangs matriek geskryf het en nou gereed is om jou vlerkies te sprei en jou drome waar te maak, sal jy die volgende wenke insiggewend vind:
Weet dat die wêreld jou niks skuld nie. Geleenthede gaan nie net in jou skoot val of outomaties vir jou aangebied word nie. Jy sal jou moue moet oprol, sigbaar wees en wys wat in jou steek. Dit sal beteken jy gaan heel onder moet begin, harde lesse moet leer en flukser as almal om jou moet wees. Wees netjies op jouself en hê goeie maniere. Stel belang, vra vrae en loop die ekstra myl. Wees kreatief, dink innoverend en weet wat om jou aangaan. Wees stiptelik en kom jou beloftes na. Stel vir jouself doelwitte en bly gemotiveerd om dit te bereik.
Dr. Ayelet Fishbach skryf in die voorwoord van haar boek getiteld Get It Done: Surprising Lessons from the Science of Motivation die volgende: “First, you need to choose a goal. Whether you set your mind to finding romance or doing a handstand, and whether you’re an expert or a novice, you start by marking a destination. Second, you need to sustain your motivation as you move from here to there. You monitor your progress by soliciting feedback on your performance, both positive and negative, and by looking back at what you’ve achieved as well as forward at what is still left to do. Third, you must learn to juggle multiple goals. Other goals and desires will pull you in opposite directions. You need to learn to manage these goals, set priorities, and find the right balance. Finally, you’ll learn to leverage social support. It’s hard to reach your goals by yourself and even harder when certain people stand in your way. On the other hand, when you let others help you, pursuing your goal gets easier” (Pan Macmillan, 2022)
PJ en Geo Botha skryf in die voorwoord van hulle boek Word ryk, bly ryk: “Ons lewe in ’n land met ongelooflike potensiaal en wonderlike mense wat baie kan vermag. Ons staar ons nie blind teen ons land se probleme nie, maar weet ook dat indien ons elkeen kan fokus op dit waarmee ons goed is, dit wat binne ons beheer is, ons persoonlike asook gedeelde sukses kan bekom.” (LAPA, 2023)
Hou dus jou oë en ore wawyd oop vir moontlike geleenthede of skep jou eie. Stel doelwitte, sorg dat jou ondersteuningstelsel in plek is, leer by mentors en gee jou alles. Die toekoms wink.