Verken tuisonderwys met hierdie Aanlyn-Tuisonderwys-Ekspo
Die Online Home Education Expo – Africa 2020 vind plaas van 13 tot 17 Oktober 2020 en bied geleentheid aan besoekers om lesings te besigtig, aan werkswinkels deel te neem en met uitstallers/diensverskaffers te gesels.
KragDag en SA Homeschoolers werk sedert 2013 saam om tuisonderwys-ekspo’s op ‘n volhoubare basis te organiseer. By hierdie ekspo’s kan ouers ‘n verskeidenheid uitstallers besoek, luister na praatjies deur kenners, deelneem aan werkswinkels en netwerk met ander ouers.
Aanvanklik was die ekspo’s slegs in Gauteng, maar later het dit ook uitgebrei na Kaapstad en Durban. Soos tuisonderwys gegroei het, het die ekspo’s elke jaar gegroei en het sodoende, ‘n noodsaaklike deel van die tuisonderwys-ekosisteem geword.
Met die koms van die grendelstaat in 2020 het die fisiese ekspo’s tot stilstand gekom. Ekspo-organiseerders het op daardie stadium reeds begin met beplanning vir ‘n aanlyn-ekspo, om ook die ander streke in die land te bereik. Die grendelstaat het tot gevolg gehad dat hierdie planne versnel moes word ten einde die fisiese ekspo’s in 2020 te vervang.
Die aanlyn-ekspo moet gesien word as ‘n langtermynoplossing, eerder as net ‘n tydelike oplossing vir 2020. Daarom is besluit, in plaas daarvan om iemand anders se aanlyn-ekspoplatform te gebruik, om self ‘n platform te ontwikkel wat noukeurig aan die tuisonderwys-ekspo se behoeftes sal voldoen. Hierdie platform sal die nuutste webtegnologie inspan om aan toekomstige behoeftes te kan voldoen.
Die voordele van ‘n aanlyn-ekspo is dat ouers van reg oor die hele land dit sal kan bywoon sonder die noodsaak om fisies te reis. Aangesien uitstallers en sprekers ook nie nodig het om te reis nie, is daar dus ‘n moontlikheid vir ‘n groter verskeidenheid van uitstallers en sprekers. Besoekers sal nie slegs kan kyk na die stalletjies van die uitstallers nie, maar sal ook lewendig met hulle kan klets (“chat“) tydens die ekspo. Ouers sal ook vrae kan vra aan kenners tydens die werkswinkels.
Die ekspo bied nie net iets vir ouers wat tuisonderwys oorweeg en wil uitvind hoe om te begin nie, maar bied ook baie aan ouers wat reeds aan die gang is en op soek is na nuwe idees. Ons hoop om baie ouers te ontvang en hulle te bemagtig om ingeligte besluite te neem oor hoe om die beste belange van hulle kinders te bevorder.
In volgende jaar hoop ons om nie alleen aanlyn-ekspo’s te hê nie, maar om ter aanvulling ook weer voort te gaan met die fisiese ekspo’s. Ons hoop om u daar te sien om só deel te word van ‘n rewolusie in die onderwys. Net soos liefdadigheid tuis begin, begin hierdie onderwysrewolusie ook tuis!
Deur HIER te klik kan jy gratis registreer vir die bywoning van die Online Home Education Expo – Africa 2020.
Nou wat van die kinders wat duisende rande aan opvoeding aan n universiteit of kollege gespandeer het wat gaan van hulle word as hulle tuisonderrig nou so wil bevorder