Elementere veiligheid vir huis en haard

‘n Huis, plaasopstal en- werf is soos ‘n oase in ‘n landskap. Dit is gewoonlik, en tereg ook so, die trots van die tuisteskeper. Maar net so dikwels is dit ook die aasplek vir misdadigers. Die uitdaging is dus om dit ‘n wegblyplek vir aanvallers te maak. Tuisveiligheid is ook nie goedkoop nie en dan suig dit maar aan uitgawes se agterspeen.

In die artikel word gepoog om basiese, of eerste stap, veiligheid binne beursie-bereik te bring. Verder val die kollig op dit wat prakties uitvoerbaar vir die doen-dit-self persoon is.

Maar eers die vertrekpunte:

  • Veiligheidshulpmiddels is nie versierend nie. Dit kan wel versteek of vermom word.
  • Enige iets is beter as niks.
  • Reaksie is verlede tyd.
  • Die goedkoopste en doeltreffendste veiligheidsmaatreël is om daarvan bewus te wees.

Organisasie wenke:

  • Wees deel van ‘n struktuur.
  • Bure is bondgenote. Hou hul binne bereik met onderlinge kommunikasie, noodtekens en toegangshekke.
  • Werkers behoort deel van “eie magte” te wees en is in elk geval top bronne van informasie. Praat met hulle en sien ook om na hulle veiligheid.

Werf wenke:

  • Die omheining, van 2.4m hoog, moet oor-en deurklim ontmoedig en kan met ‘n oorhang en stekels(spikes) bo-op verbeter word. Elektrifisering is ideaal. Vermy grensmure, want dit bedek aanvallers se aantog en belemmer sig.
  • Twee veiligheidshekke is voldoende; een vir mense en een vir voertuie. Albei moet van spraak,sig en afstandsbeheer(interkom) voorsien wees. Die groothek se motor is effe duur, maar dit is sy geld in veiligheid werd. Dieselfde geld vir garagedeure. Hekke en buitedeure moet van ekstra hang-en skuifslotte voorsien word.
  • Die veiligste tuin is ‘n gelyk grasperk. Blomme en struike bo kniehoogte kan skuiling en bedekte toegang bied, veral wanneer dit opmekaar staan. Plante en bome moenie tot teen die huis en omheining groei nie.
  • Dek dooie, of buite sig, areas met kolligte wat ook met bewegingsensors toegerus is. Dek die omheining en hekke met spreiligte. Moet nooit die huis verlig nie – dit kan jou ‘n teiken maak of verblind.
  • Bolronde spieëls(parkeergarage tipe) bied sig om hoeke en pootjiefakkels is steeds ‘n beproefde waarskuwingsmetode.
  • ‘n Afstandbeheerde rooilig en sirene op die dak kan bure en werkers aktiveer.

Opstal wenke:

  • Klein keffers binne
  • Sweis liefs jou eie robuuste diefwering en veiligheidshekke en skroef dit met Rawl-boute vas. Alle buitedeure moet hekke hê en slaapkamers moet eweneens daarmee afgesper kan word.
  • Wanneer geld, sleutels en wapens nie aan ‘n persoon is nie, moet dit in die kluis wees.

Algemene wenke:

  • Elektroniese hulpmiddels val buite die selfdoen- en prysklas van hierdie artikel en ‘n betroubare kenner moet liefs hieroor geraadpleeg word. Hou by die beginsel van eenvoud en moenie iets koop wat jy nie verstaan nie. Hierdie stelsels moet opgradeerbaar wees en draadlose maatreëls is die beste.
  • Benut enige belasting-aftrekking en afslag op versekering.

4.50 avg. rating (89% score) - 2 votes
Joffel van der Westhuizen
  • Joffel van der Westhuizen

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui