TLU SA aksies tydens grendelstaat

Die landbou sub-ekspo, wat verlede jaar vir die eerste keer deel uitgemaak het van die Sakeliga KragDag Ekspo, het groot aftrek gekry en reeds met hierdie eerste aanbieding beloof om die mees toonaangewende landbou-uitstalling in Gauteng te word. TLU SA is KragDag se vennoot in die aanbied van die landbou sub-ekspo en met die Sakeliga KragDag 2020 Ekspo wat DV op 3-5 Desember plaasvind, word ‘n stewige uitbreiding vir vanjaar beplan. Met die regering se grendelstaat wat vanjaar verhoed dat talle van die ander groot landbou-uitstallings, soos Nampo, hierdie jaar kan plaasvind, word ‘n groot toename in die prominensie en aftrek by vanjaar se KragDag ekspo verwag. In die artikel hieronder verskaf Bennie van Zyl, die hoofbestuurder van TLU SA, ‘n bekendstelling van ‘n paar van TLU SA se inisiatiewe tydens die grendelstaat – Redaksie.

Die ekonomiese realiteit van COVID-19 en die gepaardgaande inperking het vele huishoudings in Suid-Afrika getref op ‘n manier wat mens eerder sou wou laat verbygaan.

Dit was van die begin af TLU SA se standpunt – waar ek die organisasie op die Minister van Landbou se taakgroep verteenwoordig – dat die hoogste mate van higiëne maatreëls gehandhaaf moet word, maar dat dit die ekonomie so min as moontlik moet benadeel. Die ernstige ekonomiese skade van die inperking, sal nog lank ‘n rimpel-effek veroorsaak. Die kapasiteit om die gevolglike maatskaplike- en gesondheidsuitdagings aan te pak, is nou uitgeput.  

Ons is baie dankbaar dat die landbousektor steeds tydens die inperking kon voortgaan om te produseer. Die interafhanklikheid van verskillende rolspelers in die voedsel-waardeketting het tydens die inperking baie duidelik na vore gekom. Die feit dat die hele ketting nie toegelaat is om te funksioneer nie, het bepaalde implikasies gehad. Produsente wat byvoorbeeld slaai produseer, se kele is afgesny omdat restaurante wat hulle produk gebruik, verbied is om handel te dryf. Dieselfde het gebeur met ander kommoditeite soos onder andere die wynhandel, wol en sybokhaar.

Die werklikheid is dat boere in baie gevalle met verskeie kommoditeite boer ten einde die risiko te versprei. Dit beteken dat die produksieprosesse gesamentlik die winsgewendheid van die boerdery-eenheid bepaal. Indien een komponent van die boerdery tot stilstand kom, is daar dadelik die gevaar dat volhoubaarheid in gedrang kom. 

Ons boere se markomgewing is ook versteur omdat die vraag na produkte afgeneem het as gevolg van die verlies aan inkomste van verbruikers. In hoe ‘n mate hierdie aspek ‘n invloed gehad het en vir hoe lank dit nog ‘n invloed sal hê, is ‘n ope vraag. Die waarde van kos op die tafel is in hierdie tydperk baie duidelik onderstreep. Dit beklemtoon opnuut die belangrikheid van produserende kommersiële boere.

Afgesien van die druk op boere om winsgewend te wees, ervaar ons nou weer ‘n hernude toename in plaasaanvalle. Die plundering van produkte op plase het toegeneem sedert die vloei van kos nie meer gladweg plaasgevind het nie. 

Die voortslepende droogte in sekere dele van die land noodsaak die TLU SA Traumafonds en ander instansies om ook steeds hulp aan boere in die vorm van veevoer, en selfs voedsel vir die boere, hulle gesinne en die plaaswerkers, te verskaf.

Ons verneem ook van tyd tot tyd van boere vir wie die omstandighede te veel raak en hulle dan ‘n einde aan hulle lewens maak. TLU SA beskik oor ‘n span wat trauma ontlont en ons mense kan bystaan om hul omstandighede te help verwerk. Die probleem is dat ons te laat verneem van sodanige depressie en spanning wat te veel raak. Ons pleidooi is aan die onderskeie kerkgroeperinge om veral in die tyd hulle lidmate by te staan en te onderskraag. Ons versoek dat ons as gemeenskappe mekaar in hierdie tyd moet bystaan. Reik uit na mekaar, maak die telefoonoproep en hanteer negatiwiteit in mense na aan jou dadelik.

Wat ‘n verdere bron van groot kommer bly is die regering se benadering tot eiendomsreg. Wat ons nou weer opnuut beleef, is dat die aanslag op privaat besitreg in intensiteit toeneem. TLU SA dien op die ad hoc-groep vir die beskerming van eiendomsreg waar verskeie uiteenlopende organisasies saamwerk om die staat se benadering van onteiening sonder vergoeding, teë te werk. Dié inbinding vind plaas omdat hierdie organisasies almal die belangrikheid van privaat besitreg en die vryemark besef. 

Tydens die tyd van inperking het verskeie aspekte by TLU SA beslag gekry. 

  1. Die Plaasvars e-handel platform is van stapel gestuur ten einde die kanaal van die produsent na die verbruiker so kort as moontlik te maak.
  2. ‘n Nuwe reeks van Plaaspraatjies is bekendgestel, waar weekliks oor aktuele landbou-onderwerpe gesels word. Programme oor watersakeekonomiese realiteite en plaaslike regering is reeds opgeneem en uitgesaai.
  3. Die TLU SA Veiligheidskomitee reik gereeld Veiligheidsbulletins uit om lede te begelei deur die hantering van gevaarsituasies waarmee hulle te doen kan kry. Dit kom al hoe duideliker na vore dat diegene wat op grondvlak hulle eie veiligheid baie ernstig opneem, daarvoor gerat is om sulke situasies suksesvol te hanteer.
  4. Nadat die Boeremark in Pretoria vir ‘n lang ruk as gevolg van inperking regulasies gesluit moes bly, kon die mark die afgelope paar weke weer, met groot dank, aan die gang kom. Dit is vir baie produsente ‘n groot afsetgebied.

 

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Bennie van Zyl
  • Bennie van Zyl
  • Hoofbestuurder TLU SA

    012 804 8031 - Kantoor nommer

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui