Uit ‘n mikro-boer se dagboek – winter 2020

Weens die Covid-pandemie en ‘n besonder koue winter wat ek ervaar, het my pen tydelik opgedroog. Ook is ek besig met kursusontwikkeling. Nietemin sal ek wel nou iets neerpen.

Ek hoef seker nie vir ons boere daarop te wys dat die winter vir ons vee-manne ‘n klomp uitdagings bied nie. Daarom sal ek nie nie vir julle sê dat julle nou reeds op winterlek moes gewees het en nou moet begin met produksielek nie. Natuurlik is ons reeds besig om ekstra ruvoer by te voer. Ek sien elke dag voertuie met bale rondbeweeg en diere wat by krippe staan. Ekself sit nog met koeie met suipkalwers wat ekstra stres plaas en dus ekstra voer vereis. Gelukkig hou ons elke dag kondisietellings om te bepaal of ons dalk moet speen. Ek “push my luck” – dis nou soos die Engelsman sal sê, om te sien hoe lank ek speentyd kan uitstel voordat die koeie se kondisie daal. Tot dusver gaan dit nog wonder bo wonder goed. Dit kan alles nog verander. Dus bel ons maar gereeld vir Gys Taute, ons man by Vleissentraal, om te bepaal hoe die pryse van speenkalwers lyk. Tans lyk dit of die pryse half sywaarts beweeg, maar as die speengoed moet gaan – moet hulle gaan. Ons wil onder geen omstandighede koeie se kondisie laat verswak nie. Ons het al genoeg lesse geleer!

Prof Jan Bonsma (1909 – 1992)

Dit laat my dink aan die lesse wat Prof. Bonsma die wêreld se beesboere geleer het. Die een les het baie jare gelede, ek dink in Londen gebeur. Prof Jan is gevra om die Royal-skou se beesbeoordeling te kom waarneem. Hy was die wêreld se mees gerekende teler van beeste en waarnemer “par excellence”.  So gebeur dit dat hulle die groep koeie, ek dink Herefords, in die skouring in bring. Soos wat die gewoonte is, stap die koeie al in die rondte in die skouring. Na ‘n paar rondtes begin die seleksieproses en die koeie word geplaas volgens die eienskappe van belang. Tóé skok die gerekende beeskenner die gehoor en ander belanghebbendes met die volgende: Hy laat die afgelope jaar of wat se “Grootkampioen” uit die skouring … gediskwalifiseer. Wat ‘n konsternasie!  Hy word gestorm deur organiseerders en BBPs. “Waarom?”… wou hulle weet. Die professor het net een vraag gestel: “Hoeveel keer het sy gekalf?” ‘n Doodse stilte het neergedaal. Dit blyk toe uit die rekords – nul keer!

Nodeloos om te sê – skoue was nooit weer dieselfde nie. As jy vandag skou, is die vrugbaarheidsrekord by. Die Bonsmara-ras, wat by verre die talrykste beesras in die land is, neem aan geen skoue deel nie, maar word dikwels op skoue uitgestal. Tydens ‘n uitstalling is die volledige vrugbaarheidsrekords van die betrokke diere, bulle of koeie, dan egter altyd beskikbaar.  

Maak seker jy boer met vrugbare diere – moet nie net diere aanhou nie. Hou ook rekord. Jy moet meet om te kan weet!

Lekker meet!

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui