Sakeliga KragDag Wes-Kaap 2023 – ‘n TLU SA perspektief

Wesentlike knelpunt wat ‘n werkende Suid-Afrika kniehalter is verskeie jare gelede reeds deur die Kragdagspan raakgesien…  en iets is ook daadwerklik daaromtrent gedoen.  Die volhoubare voorsiening van elektrisiteit het soos ‘n stadige kanker ‘n welvarende Suid-Afrika al hoe meer gepootjie en die benadeling van die ekonomie het onaanvaarbare afmetings begin aangeneem.

Die wyse waarop misdaadsindikate binne Eskom op verskillende maniere net voortgaan met hulle plunderveldtogte en die aanstelling van onkundige kaders het veroorsaak dat die effektiwiteit van Eskom lam gelê word. Dit onderstreep die noodsaak dat na alternatiewe kragvoorsiening gekyk sal móét word!

Konstante kragvoorsiening is seker een van die mees belangrike voorwaardes om te verseker dat besighede ekonomies lewensvatbaar sal bly.  Vele kleiner besighede moes noodgedwonge hulle deure sluit, terwyl ander tans in ‘n worstelstryd gewikkel is om enigsins winsgewend te kan wees.

Landbou kan nie daarop aanspraak maak dat dit belangriker as ander besighede is nie, want dit is nodig dat  hele ekonomiese waardeketting as ‘n geheel moet funksioneer.  Indien die markte wat koopkrag stimuleer in duie stort, gaan beskikbare kos ook nie vir die boere ‘n inkomste kan inbring nie.   Wat wel besef moet word is dat kos op die tafel sekerlik die grootste en die belangrikste bydrae maak om anargie te verhoed en om te help dat ‘n land gestabiliseer word.

Daagliks word dit al hoe meer duidelik dat dit fataal is om vir die regering te wag om met oplossings vorendag te kom.  Selfdoen en self-beplan het vir ons nóú ’n  werklikheid geword. Hoe verder enige plan en die implementering daarvan van die staat af kan wees hoe groter kans is daar om wel gunstige en volhoubare uitkomstes te verkry.

In die lig van bogenoemde is dit ‘n riem onder die hart as kennis geeem word van die wyse waarop Kragdag jaarliks op Diamantvallei, maar sopas ook onder in die Kaap, help om die nodige kundigheid bymekaar te kry ten einde aan individue en instansies die nodige kennis en blootstelling te kan gee.
Dit was vir TLU SA ‘n voorreg om ook by Sakeliga KragDag Wes-Kaap te kon uitstal en was die gemoedelikheid en die samesyn in ‘n warm Kaap, saam met mense wat gewis rustiger ‘n probleem bespreek, ‘n besonderse ervaring.  Ons kan sekerlik leer by ons vriende in die Kaap om nie onnodig dinge te vinnig te probeer doen en dan moontlik vingers te verbrand nie!

Die sterkste boodskap wat elkeen kan saamneem vanuit KragDag Wes-Kaap is dat ons in vele opsigte al hoe meer vir die pad vorentoe op ons eie aangewese gaan wees. Dit is hoogs onwaarskynlik dat stabiele kragvoorsiening vorentoe deur Eskom verskaf sal kan word.  Die oplossings wat onder andere deur die Staat aangebied word, naamlik belastingkortings vir diegene wat van hernubare krag soos sonkrag gebruik, gaan eerder ‘n aanmoediging vir betalende kliënte van Eskom wees om ‘n ander roete van kragvoorsiening te volg.  Die noodwendige gevolg hiervan gaan wees dat die huidige betalende kliënte deur eie kragvoorsiening al hoe minder gaan word en dat Eskom uiteindelik net gaan sit met diegene wat nie betaal nie.

Die Kragdagboodskap oor baie jare heen is hard en duidelik naamlik, ontleed jou eie werklikheid en doen jou eie ding… daar kan gewis nie verder op die staat staatgemaak word om in hierdie verband enigsins ‘n oplossing te skep nie!

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Bennie van Zyl
  • Bennie van Zyl
  • Hoofbestuurder TLU SA

    012 804 8031 - Kantoor nommer

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui