Oplossings begin by onsself
Soos ‘n mens daagliks, veral in die laaste tyd, die verskaffing van elektriese energie in Suid Afrika beleef, kom mens opnuut onder die besef van die versiendheid van Kragdag. ‘n Aantal jare gelede reeds is daar begin om ‘n verwagte knelpunt aan te spreek en om oplossings na die tafel te bring. Hierdie verwagte knelpunt het nou reeds in vele opsigte ‘n harde werklikheid geword.
Met ‘n wankelrige Eskom tik ‘n mens maar so vinnig moontlik, in die hoop om die gedagtes klaar vasgepen te kry voordat ‘n volgende duisternis oor ‘n mens neerdaal. Die gevolglike direkte skade van hierdie swak diens, as beskikbaarheid teenoor die prys daarvan opgeweeg word, is uiteindelik maar weglaatbaar teenoor die indirekte verliese en skade wat daarmee gepaard gaan.
Vele besighede in verskillende ekonomiese omgewings ervaar hierdie probleem in ‘n meerdere of mindere mate. Ook in die landbou-omgewing is die impakte, afhangend van die kommoditeit waarmee geboer word, baie groot. Besproeiingsboere verloor onmiddelik hul opbrengs sodra die besproeiingssiklus gebreek word en die uitermatige hoë temperature van die afgelope tyd maak hierdie probleem vir hulle net nog moeiliker. Enige boer wat afhanklik is van die koueketting om raklewe te probeer verleng, hetsy vir vleis-, melk- of varsprodukte, staan voor die keuse om hul totale oes te verloor tensy alternatiewe energievoorsiening gebruik word om verkoeling in stand te hou. Die bykomende koste hiervan raak egter astronomies hoog met die maand tot maand prysverhoging in diesel.
Ons het die beskikbaarheid van krag deur al die jare as amper vanselfsprekend ervaar totdat beurtkrag begin inskop het… Net so was gedienste infrastruktuur ook ‘n gegewe en die ekonomies-aktiewe besighede kon onbevange sake doen. Dit het egter sodanig verander dat ‘n rybare pad om produkte mark toe te neem nou ‘n luukse geword het. Uitvoere wat ‘n groot rol gespeel het om buitelandse valuta te verdien en gehelp het om plase in produksie te hou, word nou gekniehalter deur stakings asook falende en disfunksionele infrastruktuur by hawens.
Dit is uiteraard belangrik om die oorsake van hierdie probleme te identifiseer en om dan na oplossings te soek. Suid-Afrika het ekonomiese groei nodig om sosio-maatskaplike werklikhede aan te spreek. Die probleem is egter dat die regering homself reeds bewys het as ‘n onbetroubare vennoot en dat fondse wat in die staatskas beland nie noodwendig in belang van Suid-Afrika se inwoners aangewend word nie, want veel daarvan beland in kaders se sakke. Kaderontplooiing en die prys daarvan is natuurlik een van die grootste probleme wat tans ervaar word. Dit het net te duur geword vir ons land. Wanneer persone aangestel word in poste, is kundigheid nie noodwendig ‘n kriterium waarvolgens aanstellings oorweeg word nie – eerder of iemand hom- of haarself in die kaderomgewing bevind! Die gevolg hiervan is dat weinig instellings waarby die regering betrokke is nog enigsinds effektief funksioneer.
Suid-Afrika se landelike omgewings is besig om in duie te stort. Die infrastruktuur in baie dorpe het reeds ineengestort. Werksgeleenthede verdwyn soos mis voor die son soos besigheidseienaars al hoe meer die keuse maak om eerder besighede toe te maak. ‘n Onsekere beleidsomgewing met aspekte soos onteiening sonder vergoeding dra gewis nie by tot vertroue om besigheid te wil doen nie. Verder word die situasie net vererger deur die misdaadsituasie wat buite beheer is. Ons kan voortbou op hierdie tema – almal ken dit, omdat dit daagliks ervaar word.
En die oplossing… dit begin by elkeen self. Ons moet onsself sodanig posisioneer dat ons inderdaad staatsbestand sal wees. Om die probleme te bespreek sonder om oplossingsoekend te kyk wat daaraan gedoen kan word, sal ons nêrens bring nie. Netwerke is vandag van onskatbare belang en daarom het ons by TLU SA groot waardering vir wat instansies soos Kragdag en Sakeliga doen om skakelgeleenthede te skep. Kom ons ontgin die magdom vermoëns wat by ons eie instellings gesetel is en presteer onsself by ‘n regering verby wat net mislukkings tafel toe te bring. Elke inwoner in die land verdien gewis iets beter as wat ons tans kry.