Staatsbegroting se skuldsprong noodsaak bestandheid strategieë
Die artikel hieronder, wat oorspronklik op Sakeliga se webtuiste geplaas is, belig die omvang van die skuldtrajek wat die regering gekies het om vorentoe te volg. Terwyl daar algemene verligting was dat die staatsbegroting nie grootskaalse belastinguitbreiding aangekondig het nie, is die kommerwekkende dat die onafwendbare gevolge van ‘n volharding op die skuldpad, ‘n Zimbabwe scenario ‘n onheilspellende naderende werklikheid maak. Die kennis neem hiervan, bied egter die geleentheid om strategieë te bedink wat gesinne en besighede meer bestand teen die gevolge kan maak. Verder ondertoe plaas ons ook video’s van onderskeidelik ‘n Pretoria FM paneelbespreking oor die begrotingsrede en Dawie Roodt se insiggewende ontleding van die begroting wat by Sakeliga aangebied is.
Skuldsprong: regering beplan om jaarliks 50% meer te leen
In die aangesig van fiskale krisis het die minister van finansies, Tito Mboweni, in sy 2020-begrotingsrede, ‘n sprong die skuld in voorgestel. Hy beplan nou om in die komende fiskale jaar 50% meer skuld aan te gaan as sy verwagtinge in die 2019-begroting, en 80% meer as die verwagtinge in die 2018-begroting.
Nie alleen bevat minister Mboweni se begroting geen besnoeiings ten opsigte van totale gekonsolideerde staatsbesteding nie, dit sluit selfs marginale bestedingstoenames in. Die 2020-begroting is die tweede maal dat minister Mboweni beduidende toenames in geprojekteerde leningsbehoeftes aankondig deur hoë bestedingsvlakke, te midde van skerp dalings in inkomste, te handhaaf.
Die tabel en grafiek hiernaas toon die trajek van minister Mboweni se begrotings sedert die laaste begroting gelewer deur sy voorganger, voormalige minister van finansies Malusi Gigaba, in Februarie 2018.
Die illustrasie vergelyk die projeksies vir die fiskale jaar 2020/21. Let op hoe die geprojekteerde tekorte toeneem vanaf R205 miljard (3,5% van BBP) in die 2018-begroting, tot R253 miljard (4,3% van BBP) in die 2019-begroting, tot R371 miljard (6,8% van BBP) in die 2020-begroting.
Dit alles kom daarop neer dat min. Mboweni beplan om byna dubbel soveel te leen as wat min. Gigaba in 2018 voorgestel het, en 50% meer as wat hy self hierdie tyd verlede jaar gesê het. Boonop beplan min. Mboweni om die tekort teen sowat 6% te handhaaf vir die volgende drie jaar.
“Hierdie verwikkelinge beklemtoon dat besighede in Suid-Afrika moet seker maak dat hul korporatiewe strategieë dinamiese bestandheid teen ‘n verswakkende fiskale situasie bied. By Sakeliga sal ons ook daarop gefokus bly om sulke strategieë te ondersteun,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.
Min. Mboweni kan intussen wel erkenning geniet vir die afwesigheid van groot belastinguitbreidings. Belasting is reeds veel te hoof, maar die enigste ding meer skadelik as die minister se 50% toename in die begrotingstekort sou wees om die tekort met hoër belastings aan te vul. Wat nodig was – en dit is die mees basiese aanwyser van hervorming – is besnoeiings. Sonder besnoeiings is daar geen hervorming nie.
Pretoria FM se 2020-begrotingsredebespreking:
Pretoria FM Begrotingsrede-bespreking 2020
Pretoria FM Begrotingsrede-bespreking 2020.Kyk saam en vind uit hoe die begrotingsrede wat deur die minister van finansies, Mnr. Tito Mboweni, gelewer is jou sak raak.
Gepostet von Pretoria FM am Mittwoch, 26. Februar 2020
Dawie Roodt se begrotingsontleding