Spandeer tyd in die natuur

Die natuur bied hoop op nuwe lewe en kanse

Die natuur word wakker uit haar winterslaap en verwelkom die lente gulhartig asof dit ’n lankverlore geliefde is. Daar is ’n merkbare opgewondenheid onder plant, dier en mens. So saam met die draai van die seisoen roer hoop weer in ons harte en sien ons uit na nuwe lewe en kanse. En orals om ons is daar visuele tekens om ons te herinner dat die lewe aangaan en nuwe moontlikhede en geleenthede bring. My Oom Sarel perskeboom is oortrek met lieflike bloeisels en die mooiste groen blare. Daar is selfs al persketjies so groot soos outydse niekerbols.

Die natuur kommunikeer en voorsien

Die natuur gaan haar ongesteurde gang. Dáárin lê ’n groot waarheid en seën opgesluit, veral vir ’n wêreld wat tans Covid-19-voos is en in ’n waas van skok verkeer ná al die gerugte van onrus, konflik en rampe. My man, ’n groot natuurliefhebber en ywerige tuinier, glo daaraan om elke dag tyd af te knyp om kaalvoet te stap en fisies met Moeder Aarde kontak te maak. Hy sal sy vingers deur los grond trek, sy arms om ’n boomstam slaan en sy wang teen die skurfte of gladheid van die stam laat rus. Só groet hy dan ook die geitjies wat so baldadig soos katjies spring en speel, die laksman wat langs hom kom sit en wag op ’n wurmpie uit sy hand, en gesels hy met die volstruis wat haar snawel op mekaar klap, haar vere oopsprei en haar lang nek ver afbuig sodat sy met hom kan flankeer. Sprinkane, skoenlappers, spinnekoppe en verkleurmannetjies bied geselskap waarin hy hom verlustig. Hy is op sy heel gelukkigste wanneer hy so na as moontlik aan die natuur leef. Daarom eet ons ook uit ons groente- en vrugtetuin eerder as om kos by die winkels te gaan koop.

Die natuur werk kalmerend op mens in

Daar is terselfdertyd ’n treffende eenvoud én ’n swierige baldadigheid aan die natuur. Ook ’n grootsheid wat ons ons nietigheid laat besef en perspektief laat behou. Die natuur leer ons om terug te keer na die basiese dinge in die lewe wat werklik belangrik is – ons innerlike stilte, vrede, kalmte en vryheid. Wanneer ek in die natuur is, strek ek altyd my arms hoog en wyd en loof en prys ek God op ’n spontane wyse, want in daardie oomblikke borrel aanbidding en dankbaarheid deur my. Die natuur laat my dus na aan God voel. Dan maak die dooie dinge wat die meeste mense najaag soos blink karre en dubbelverdiepinghuise nie meer sin nie. Die natuur werk kalmerend op my in en verkwik my na liggaam, siel en gees.

Soek die natuur op

Mens kan hóé gestres voel, maar die oomblik as jy selfs net vir ’n kwartier lank van die hamsterwiel afklim en ’n halfuur in die natuur spandeer, begin jy beter voel. Beproef dit gerus self. Jy hoef nie eens uit te wyk na berge, dale en woude nie. Gaan soek net ’n stil plekkie in jou tuin (al het jy net ’n posseëlgrootte grasperk!) op waar jy ongesteurd kan sit en ontspan. Skakel jou selfoon af. Let op na die miere of ander insekte wat naby jou besig is om te doen wat hulle doen. Jy sal dalk ’n sprinkaan of ’n skoenlapper ook gewaar. Maak nou jou oë toe. Voel die warm son op jou vel en die ligte bries wat deur jou hare woel. Luister of jy enige voëlgeluide hoor. Hoeveel voëlgesange kan jy onderskei? Haal diep en rustig asem. As jy ’n boom kan omhels, doen dit. Dit mag dalk simpel klink, maar probeer dit net. Daar is min dinge wat ’n mens so anker soos om ’n boom te druk wat se wortels diep en stewig in die aarde geplant is. Raak bewus daarvan dat daar lewe en groei in die natuur is en dat hierdie siklusse vas en seker staan, al woel en werskaf die mens en spook en spartel ons verbete. God is in beheer.

Maak vandag ’n doelbewuste besluit om die natuur op te soek. Dit is goed vir jou liggaam, siel en gees.

4.00 avg. rating (82% score) - 3 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui