‘n Vergelyking tussen ‘n petrol- en ‘n elektriese voertuig
In die lig van onsekerheid oor elektriese voertuie en hoe hulle vergelyk met die petrol voertuie waaraan ons gewoond is, het ek gevoel dit mag goed wees om my ervaring en berekeninge met mense te deel wat belangstel hierin. Die wêreld waarin ons leef is reeds erg verniel deur ons manier van doen. In hierdie skrywe probeer ek dié onsekerheid aanspreek, eie ervaring deel en ‘n perspektief plaas op die werklikhede waaroor ons moet besin.
Agtergrond
Die laaste petrol voertuig wat ek gebruik het, voor ek elektries begin ry het, was ‘n Toyota Corolla GLi. Die brandstofverbruik was so 8 liter per 100 kilometer. Dit beteken die energieverbruik was 272 MJ (megajoule) per 100 km. Dit was in die vroeë negentigs toe ek nog by die destydse Nasionale Energie Raad gewerk het. Hou in gedagte dat 34 MJ energie in ‘n liter petrol gestoor word.
Die elektriese voertuig wat ek nou ry is ‘n 2019 BMW i3. Die elektrisiteitsverbruik is sowat 11,5 kWh (kilowatt-uur) per 100 km wat dieselfde is as 41,4 MJ/100km. Een kWh elektrisiteitsenergie is gelykstaande aan 3,6 MJ. Die BMW se battery stoor 35 kWh energie. Teoreties is dit dus genoeg energie om 300 km ver te ry, maar in die praktyk is dit nie die geval nie. Ten einde die batterylewe te verleng, probeer mens die battery nie laer as 15% van kapasiteit ontlaai nie en laat die battery ook nie vir lang tye staan met ‘n kapasiteit van hoër as 80% nie.
Intussen het ek ook vir so 7 jaar ‘n Corsa bakkie gery wat, tydens ‘n navorsingsprojek, by Eskom-elektries gebou is. Die Corsa se verbruik was gemiddeld 15 kWh/100km oor ‘n afstand van 85 000km. Die loodsuur batterye wat ons toe gebruik het, het net-net genoeg energie gestoor vir ‘n reikafstand van 80 km – hopeloos te min vir die gewone man. Tog was hierdie voertuig my eerste keuse as ek êrens heen wou ry. Dit was net te lekker! Die hope wringkrag en stil, vinnige versnelling sonder ratte was ‘n nuwe opwindende ervaring.
Voor die BMW i3, het ek ‘n Nissan Leaf gery terwyl ek by SANEDI werk het. Die gemiddelde elektrisiteitsverbruik was 12,5 kWh/100km. Die 2014 Leaf word nou deur my dogter gebruik vir daaglikse ritte in Pretoria om kinders mee rond te ry. Die Leaf het nou al byna 100 000km gery met die oorspronklike battery. Oor tyd het die battery waarskynlik so 20% kapasiteit verloor.
Wat vir elke voertuig geld
‘n Voertuig is ‘n ding (kar, werkstuk, vervoermiddel) wat ons gebruik om mense of goed te vervoer van een plek na ‘n ander. Dit doen werk ten einde beweging te weeg te bring. Soos enige ander werk, word energie gebruik. Die tegnologie van aandrywing en die tipe energie wat gebruik word loop hand aan hand. Vandag verkies ons om tegnologie te gebruik wat minder kos, minder energie gebruik, minder instandhouding vereis en nie die omgewing besoedel nie.
Ek praat nou nie hier van voertuie wat gebruik word vir vermaak, of status of ander onproduktiewe redes nie.
Die petrolvoertuig
Die petrolvoertuig gebruik ‘n binnebrand-enjin en benodig energie wat deur petrol verskaf word. Die petrol word binne die enjin verbrand. ‘n Vonkprop ontsteek die mengsel van petrol en lug. Die gevolglike ontploffing in die ontbrandingskamer, veroorsaak hoë druk in die enjin wat beweging veroorsaak en wat dan uiteindelik met behulp van ‘n ratkas die wiele aandryf. Daar is baie bewegende dele en elke bewegende deel benodig smering en instandhouding. Die ontbrandingsproses veroorsaak baie hitte en daarom het die petrol voertuig ‘n verkoeling sisteem nodig. Verder word gasse, wat jy nie graag wil inasem nie, geproduseer. Dit word deur ‘n uitlaatpyp in die atmosfeer vrygelaat.
Kyk ons na die aanwending van energie vir die doel waarvoor die voertuig gebruik word, lyk die prentjie maar sleg. Gedurende gebruik in die stad word 64% van die petrol-energie omgesit in hitte terwyl net 15% van die energie omgesit word in kilometers. In die proses van beweging word daar dus 85% van die energie vermors. Dis soos om 5 hamburgers te koop en net een te kan eet. Onthou jy het betaal vir 100% van die brandstof, maar net 15% word gebruik om die wiele te draai. Eina! Meeste van die energie word gebruik om hitte te produseer. Natuurlik – dit word verbrand!
Lugbesoedeling, waarvan motor-uitlaatgasse die grootste deel uitmaak in die stad, veroorsaak wêreldwyd sowat 7 miljoen sterftes per jaar. Dis meer as dubbel die sterftes van die huidige pandemie. Hier laat ons klimaatsverandering buite rekening.
Olie, die bron van petrol is ‘n fossiel-energiebron, is deur die jare gekenmerk as onstabiel wat voorsiening en pryse betref. Dit bring daarom ‘n verdere risiko, veral vir die vlooteienaar en die boer.
Die elektriese voertuig
Die elektriese voertuig gebruik ‘n elektriese motor, soortgelyk aan die motor in ‘n yskas of wasmasjien, om beweging te bewerkstellig. Industriële motors word reeds vir jare aangewend en het tipies ‘n lang leeftyd. Dit benodig minimale instandhouding wat te danke is aan hulle eenvoud in ontwerp. Dieselfde motor word verder gebruik om die voertuig tot stilstand te bring terwyl die bewegingsenergie gebruik word om die battery te laai. Dit bespaar nog meer energie en slytasie op remme. (Ek het nog nooit remblokkies vervang nie) Om die waarheid te sê, instandhouding tot dusver was beperk tot slegs inspeksie. Dit blyk dat die voertuig een inspeksie elke tweede jaar nodig het.
Moderne elektriese motors verloor so min as 15% energie in die proses om die wiele te draai. Danksy die eienskappe van die elektriese motor (volle wringkrag is byna onmiddellik beskikbaar en hoë toere), is geen ratwisseling nodig nie. Hitte-generasie is min en ‘n baie kleiner verkoeler kan gebruik word.
Daar is geen uitlaatgasse nie. Selfs, indien jy die batterye sou laai met steenkoolopgewekte elektrisiteit van Eskom, is die gasse deur die kragstasie geproduseer (buite die stad) steeds minder as die uitlaat gasse van die petrolvoertuig (binne die stad).
Dis ook moontlik om jou eie energie, wat met sonpanele opgewek is, aan te wend om jou voertuig se batterye te herlaai. Natuurlik kan dit ook in jou huis se behoeftes voorsien. Tesame maak so ‘n belegging meer sin.
Om op te som
Die werklikheid is dat die elektriese voertuigtegnologie en die hernubare energie wat daarmee saamgaan, die antwoord is vir die toekoms. Hiermee vergelyk die petrolvoertuig maar sleg.
My oortuiging is dat die petrolvoertuig die einde van die pad bereik het en nie pas in die wêreld waarin ons wil leef nie.
Carel, ek is dit eens met jou aangaande die toekoms van Elektriese voertuie maar daar moet nog baie water in die see loop voordat Elektriese voertuie fossiel brandstof voertuie kan vervang, veral in Suid Afrika.Grootste probleem met elektriese voertuie is reik afstand. In my besigheid doen my voertuie tussen 100 en 500 km n dag,daar is in elk geval nog geen elektriese bakkies beskikbaar nie.Vriend Eskom maak dit ook nie baie maklik om te herlaai nie. Ten minste kan brandstof ingegooi word al is daar load shedding. Eerste Wereld, ja. Suid Afrika en Afrika, Nee.
Kan iemand ons inlig hoe ver die ‘white paper’ ? van die regering is om plaaslike vervaardiging van elektriese karre te bevorder ? Die Sjinese e-karre is baie bekostigbaar, en verkoop soos soek koek in die VSA.
Hierdie is eerder ‘n vraag. Sou dit prakties moontlik wees om jou eie ouerige motor bv ‘n Citi Golf merk 1 in jou eie motorhuis / werkswinkel na elektries om te bou?
‘n Interessante verslag maar dit spreek nie aspekte aan soos die totale ontginnings- en verwerkingskoste van die roumateriale om albei tipes voertuie te bou en aan te dryf en die langtermyneffek en koste van die berging, herwinning of vernietiging van gebruikte onderdele, batterye ens. in nie.
petrol/diesel karre besoedel die lug elke dag wanneer jy die kar aansit en begin ry.Daar is meer as 6 biljoen mense wat met karre ry so daar is nogals redelik baie besoedeling in net een dag.Met elektriese karre gaan daar nie meer so baie besoedeling wees nie.My eerlike opienie is e dink Suid-Afrika moet elektries gaan want die gaan bie beter wees vir ons wereld wat so verniel is gesond te maak en daar gaan dan ook minder besoedeling wees