Plant basiliekruid in jou tuin

Wanneer jy weer in ’n winkel kom, gaan loer gerus wat ’n piepklein botteltjie pesto kos. Jy sal nie jou oë wil glo nie; dit is belaglik duur. Hier by die Viljoens in Jeffreysbaai eet ons graag basiliepesto, want ek het altyd voorraad in die yskas. Ons groei veelsydige basiliekruid in die tuin, en my man maak gereeld vir ons pesto daarvan. Dit smaak veral verruklik op warm roosterbrood saam met ’n gebakte eier. Ek gebruik dit ook in slaai, pastageregte, sop en selfs vleisdisse.

Volgens Wikipedia is basiliekruid, Thaise basilie of soetbasilie ’n algemene naam vir die kulinêre plante Ocimum basilicum van die familie Lamiaceae (minte). Dit staan in sommige lande bekend as Saint Joseph’s Wort.[1] Dit word al vir duisende jare deur die mens gebruik.

Nie net ruik hierdie aromatiese krui vars en heerlik nie, maar dit smaak ook lekker en het verskeie medisinale gebruike. Dit lyk groen en welig in die tuin en het baie mooi blomme. Mense is ook lief daarvoor om basiliekruid in potplanthouers te plant en binnenshuis in sonnige vertrekke te laat groei. Gewenste insekte soos bye baljaar baie graag op basilieblomme.

Hoewel die mees algemene spesies van basiliekruid meestal eenjarige is, saai ons gereeld nuwe saad so vanaf die aanvang van die lente tot laat somer sodat ons altyd meer as genoeg vir eie gebruik het. Daar is wel meerjarige variëteite beskikbaar wat vir tot drie jaar goed groei. Dit neem so tussen vyf en sewe weke vandat ons saad plant totdat ons van die blare begin oes. Natuurlik kan ons ook saailinge so ’n liniaallengte van mekaar af plant en dan oes ons binne vier tot ses weke. Dit groei maklik en sonder veel moeite. Mens kan die blare ook droog en in ’n lugdigte houer berg vir later se gebruik. Ons pluk die jong groeipunte gereeld. Dit vertraag die aanvang van die blomstadium en sodoende kan ons langer van die geurige blare pluk. Dan sien ons sommer ook maklik as die plante water nodig het, want die blare begin hang.

Ons plant basiliekruid graag saam met tamaties. Snaaks genoeg smaak die tamaties dan soveel beter. Basiliekruid en tamaties is ook onverbeterlike pasmaats in ’n vars slaai, veral as jy fetakaas daarby krummel of parmesaankaas daaroor rasper.

Resep vir basiliepesto

Oes ’n groot skottel vol vars basiliekruid. Stroop die blare van die stingels af en spoel dit deeglik af onder ’n lopende kraan. Klad die blare effe droog.

Skil ’n handvol knoffelhuisies en kneus die toontjies effens. (Ons hou van knoffel!)

Gooi die basilieblare, knoffelhuisies en ’n bietjie olyfolie in ’n voedselverwerker. Verwerk tot ’n dikkerige pasta. Gooi meer olyfolie in as jy sien dis nodig.

Jy kan die resep aanpas soos jy wil. Jy kan byvoorbeeld fyngekapte rissie, dennepitte, amandels of sonneblomsaad byvoeg.

Voeg hierby sout en swartpeper na smaak.

Skep die mengsel in gesterilliseerde bottels en bewaar in die yskas.

Wanneer jy jou eie unieke resep vervolmaak het, kan jy van jou basiliepesto aan familie en vriende uitdeel en noem dat jy bestellings neem en so ’n paar rand verdien. Gaan lees gerus meer oor basiliekruid se gebruike en gesondheidsvoordele in hierdie artikel wat deur ’n mediese dokter en naturopaat deurgegaan is.

 

[1] https://af.wikipedia.org/wiki/Basilie

0.00 avg. rating (0% score) - 0 votes
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui