Sit jou foon neer en lewe weer
Dit is absoluut skrikwekkend hoe baie tyd ons deesdae op ons fone deurbring. Wanneer ons ’n ledige oomblik het, gryp ons na ons fone. En selfs wanneer ons veronderstel is om te werk, wil ons net gou-gou loer of daar nie ’n boodskap op WhatsApp deurgekom het nie. Van ons het ook soveel sosialemediarekeninge dat dit nogal ’n rukkie duur om alles by te hou. Ons luister na musiek of kyk video’s op ons fone. Ons lees boeke en tydskrifte daarop en speel speletjies. Dan rits ons ook daarmee op die internet rond. Boonop is daar soveel toeps oftewel applikasies wat ons lewens reël en beheer – van hoe laat ons opstaan, hoeveel kilojoules ons inneem of verbrand, wat ons bloeddruk of suurstofvlakke is en watter pad ons werk of skool toe moet ry.
Ons vertel onsself dat ons fone onontbeerlik is en dat ons nie daarsonder kan klaarkom nie. Ons dra dit orals met ons saam. Dit lê op ons bedkassies saans as ons gaan slaap, gaan saam met ons badkamer toe, is langs ons borde aan die eetkamertafel, ry saam met ons in ons motors en gaan selfs saam wanneer ons draf of fietsry. Ook wanneer ons in die natuur is, is ons fone byderhand om voël-, dier- en plantspesies mee te identifiseer Ons fone het verlengstukke van onsself geword. Dit plaas ons heeltyd in verbinding met die buitewêreld en laat ons toe om ons ervaringe te dokumenteer, want ons neem gedurig foto’s of video’s daarmee.
Ons beleef ons lewe deur ons fone. Ons word soggens wakker en pleks daarvan om met ons gesinslede te kommunikeer voordat elkeen sy of haar rigting inslaan vir die dag, reik ons na ons fone om op te vang met die dag se nuus en weertoestand. Dan gaan loer ons gou of daar enige duimpies of kommentare op ons plasings op Facebook is of ons kyk na ’n TikTok-video of drie. Die lewe gebeur om ons, maar ons beleef dit op ons foonskerms. Ons neem tot ons kos in restaurante af om met die wêreld te deel.
Al hoe meer van ons begin stadig maar seker te verlang na die “ou dae” voordat fone ons lewens oorgeneem het. Ons mis die dae toe ons nie heeldag en aldag bereikbaar en dus beskikbaar kon wees nie. Dit voel of ons oorlaai word met beelde, klanke en inligting en dat ons aandag heeltyd verdeeld is. Dis geen wonder ons begin smag na ’n lewe buite ons fone nie. Maar hoe speen ons onsself van ’n gewoonte wat ons lewens oorgeneem het? Hoe lewe ons weer sonder ons fone?
Die eerste stap is om erken dat ons nie in vandag se tyd meer heeltemal foonvry kan funksioneer nie. Ons gebruik ons fone om in kontak te bly met ons geliefdes, en ook om noodoproepe te maak sou dit nodig wees. Boonop doen ons ter wille van gerief ook ons inkopies en banksake met behulp van ons fone. Ons kan hoogstens die tyd wat ons op ons fone spandeer, beperk. Oormatige selfoongebruik kan ly tot gesonds- en geestesprobleme. Maak vandag die bewustelike besluit om minder tyd op jou foon te spandeer en voer dit deur. Stel ook foonvrye sones in die huis in. Verbied byvoorbeeld fone aan die eetkamertafel. Dit sal gesinslede weer kans gee om met mekaar te kommunikeer.
Gaan lees gerus hier meer oor selfoonverslawing of die effek wat selfoongebruik op ons en ons kinders het:
- https://dspace.nwu.ac.za/bitstream/handle/10394/12085/Van_Tonder_AM.pdf?sequence=1
- https://www.netwerk24.com/netwerk24/skole-studente/die-student/is-sosiale-media-in-beheer-van-jou-lewe-20200107
Grafika: Pexels te Pixabay