Selfstandigheid… klein treetjies vóór groot spronge
Rome is nie in ’n dag gebou nie en as die antieke Romeine probeer het om dit te doen, sou die “Ewige Stad” nooit bestaan het nie. Net so is persoonlike selfstandigheid nie iets wat oornag gebeur nie. Om te veel te vinnig te probeer doen, put jou en jou hulpbronne uit en dit lei alte maklik tot moedeloosheid en ’n opskorting van die projek.
Die beste idee is om klein treetjies te gee; om haalbare teikens te stel en te tref. ’n Klein aanpassing wat werk is beter as ’n ambisieuse plan wat in die wegspringblokke vassit. Voordat jy wegvlieg, het jy ’n goeie plan nodig en ’n goeie plan die regte perspektief.
Toe KragDag tien jaar gelede die eerste keer aangebied is, was daar ’n kloof tussen blote oorlewing en die ideaal van selfstandigheid van staatsondersteuning. Wie kan nog, egter, met die verwering van die staat se vermoë, redeneer dat dié twee konsepte nie nou byeenlopend is nie?
As dit gaan oor blote oorlewing, het ’n mens verstommend min nodig: Beskutting, sodat jy nie verkluim of deur die hael gepeper word nie; kos om te eet; water vir waarvoor water ook al nodig is; sekuriteit sodat die dief in die nag jou nie oorval nie. Klere sou gaaf wees. Die Boere het vir amper drie jaar só en met weinig meer in die oorlog oorleef. Hier in ons distrik in die Oos-Vrystaat het Boervroue vir twee jaar met hulle gesinne, en in sekere gevalle, troppe skape, in die holkranse geskuil en op vrye voet gebly tot die oorlog verby was.
Hoe meer modern en meer gesofistikeerd ons lewenstyle raak, hoe meer fasette is daar wat ons moet onderhou, vernaamlik elektrisiteit, internetkoppelings en vervoer.
So, waar begin ’n mens met jou selfstandigheidsprojek? Begin by die haalbare. Klein verstellings kan ’n groot verskil maak, en hoewel dit op die lange duur nie voldoende mag wees nie, is dit ’n begin. Beurtkrag, byvoorbeeld, is vir niemand lekker nie, maar ek en my vrou seil daardeur. Ons het skootrekenaars; goedkoop, herlaaibare ligte en ’n basiese deurlopende kragbron vir ons internetverdeler. Natuurlik is ons steeds afhanklik van Eskom en ons weet dat ons spoedig ons eie krag moet opwek, maar vir eers is ons kragsituasie gestabiliseer.
Plastiekwatertenks en ’n geuttoevoerstelsel is baie goedkoper as om, sê nou maar, ’n boorgat toe te rus, maar dit kan die verskil wees wat die suksesvolle bestuur van ’n waterkrisis moontlik maak.
Huishoudelike voedselsekerheid kan vir baie mense ’n onverwerkbare uitdaging wees. Hoe idillies dit ook al op die oog af is, ’n groentetuin verg deurlopende sleurwerk. As die tuingedagte jou teen die bors stuit, begin met ’n lappie aartappels. Dis maklik om te plant en aan die groei te hou en dit lewer ’n substansiële oes wat grootliks sal bydra om ’n gesin oor die voedseldrempel te help.
Herlaaibare ligte, plastiekwatertenks en ’n aartappeltuintjie klink nie na groot spronge tot selfstandigheid nie, maar elke reis, ongeag van die afstand, begin met ’n enkele tree, en klein treetjies wat eindig in ’n ferm voetval se waarde is baie hoër as dié van ’n groot sprong wat ’n verstuite enkel tot gevolg het.
Stabiliseer jou situasie, woon KragDag by, steek kers op by kenners en dan kan jy jou eie roete beplan tot by volkome bestaanselfstandigheid.
Gustav Venter