
Wees ’n selfdoener!
Ek het onlangs ’n baie interessante artikel (gedateer 5 Mei 2016 en getiteld “DIY Generation”) deur Anna Johansson raakgelees op www.entrepreneur.com. Sy gee hierin wenke oor hoe om die milleniumgeslag met effektiewe bemarking te bereik. In haar skrywe haal sy vir Jeff Fromm, wat homself as ’n doen-dit-self-verslaafde beskryf, aan: “In the past, crafting and “doing it yourself” seemed to be reserved for grandmas and middle aged women book club activities. Now, young adults under the age of 35 dominate the 29 billion dollar crafting industry. Millennials are bringing together technology, creativity and entrepreneurism as they take on more DIY projects.”
Bogenoemde bedryf het sedertdien nog net gegroei en sluit kreatiewes van alle ouderdomme in. Loer maar net op Pinterest en Etsy hoe wonderbaarlik kreatief selfdoeners te werk gaan om hulle selfgemaakte produkte van die hand te sit en inkomste te genereer. Maak ook ’n draai by plaaslike markte, skoue en basaars en verlustig jou aan die fraai hand- en kunswerk wat aangebied word. Dit hou ook nie daar op nie. Daar is opnuut waardering vir vernuf en handearbeid – of mense nou groentetuine plant en die produkte verkoop, met meel en eiers iets smullekkers bak om te smous of hulle bedrewenheid met verfkwaste en –rollers of hamers en spykers aanwend om ’n bestaan te maak. Die vooruitgang in tegnologie het dit ook moontlik gemaak dat jy aanlyn iemand aan die ander kant van die aardbol kan leer Engels praat of somme maak.
Selfdoeners is ook meer as ooit daarop ingestel om geld te spaar, meer besuinigend te leef, dinge te hergebruik en te hersirkuleer. Hulle huiwer nie om nuwe vaardighede aan te leer, te netwerk en verkoopsgeleenthede te ontgin nie. Daar is geweldig baie inligting, wenke en idees oor, asook voorbeelde van, moontlike selfdoenprojekte en -metodes op die internet verkrygbaar. Ek het onlangs die Family Handyman DIY University-webtuiste ontdek. Mens kan hier teen billike tariewe aanlyn klas loop by instrukteurs en byvoorbeeld leer hoe om ’n badkamer oor te doen, ’n patio te bou, met sement te werk, vloere te lê, ’n venster te vervang en krane en ’n opwasbak te installeer.
Kentin Watt skryf in ’n artikel getiteld “The 6 qualities all DIYers have – do you?” op www.wisebread.com dat selfdoeners gewoonlik konvensies verontagsaam, visie het, vernuf aan die dag lê, hardkoppig is, op hulleself staatmaak en nie bang is om vuil te word nie. Selfdoeners moet ook die vermoë hê om ’n projek deur te sien al gaan dit soms buig of bars. Hulle moet veelsydig wees, op hulle voete kan dink en planne maak. Dan moet hulle trots op hulle werk wees en bereid wees om die spreekwoordelike ekstra myl te loop. Ook moet hulle voortdurend die eindgebruiker se ervaring met of van hulle diens of produk in gedagte hou.
Die oumense het geglo dit help nie mens wag op beter dae nie; as jy iets gedoen wil hê, moet jy dit nóú doen en dit sélf doen. George Washington Carver, ’n Amerikaanse landbouwetenskaplike en uitvinder, het gesê: “Do what you can, with what you have and do it now!”
Hou op om net te droom oor hoe jy jou talente, kennis, vernuf, vaardigheid en stokperdjie inspan om jou lewe makliker te maak of om dalk geld daaruit te maak. Koop die tyd uit. Begin met daardie selfdoenprojek wat jy al so lank uitstel. Benader dit slim. Doen jou huiswerk en somme, wéét wat jou mark wil hê en lewer daardie produk of diens met integriteit.