
My gebed vir ’n Boer Twee
Ns Skrywershuis publiseer My gebed vir ’n Boer Twee, ’n saamgestelde bundel. Dit is ’n besondere publikasie waarin skrywes van Jan Alleman sowel as bekendes verskyn met die doel om fondse in te samel om traumaberading aan slagoffers van plaasaanvalle te bied en ook bewusmaking te kweek ten opsigte van plaasmoorde. Hierdie liefdadigheidsprojek is die breinkind van Nico Schamrel, skrywer, uitgewer en radioman. Anneline Kriel-Bacon, Stanley Cierienberg en Jacques Lagrange ondersteun die projek as ambassadeurs.
Schamrel skryf in die Voorwoord: “Die verskrikking van plaasaanvalle wissel van afskuwelike gebeure, moorddadige optredes, ondenkbare marteling en gruwelike verkragting. Monsteragtig, gevoelloos, barbaars. Daar is geen goeie woord daaroor te sê nie. Dit is polities, gemeen, nyd, roof en moord – soms gepaardgaande met haatspraak, veragting en vervloeking. Die trauma waardeur slagoffers moet gaan is onbeskryflik. Die letsels is vir ewig, nie net aan jou mens nie, maar ook aan jou lyf – vermink, verpletter, verniel, geknou. Jou siel en menswees is geskend. ’n Mens se geloof word bevraagteken, hoop word verloor, hartseer en pyn word ’n alledaagse emosie waarmee jy opstaan. Hoe staan jy weer op? Hoe word jy weer heel en hoe kan jy vergewe? Hoe kan jy weer mens voel en hoe verwerk jy hierdie verskrikking?”
Hy hoop om soveel boeke as moontlik te verkoop. “Met elke verkoopte eksemplaar kan ons iemand bystaan met berading. Ons besef nie die geweldige emosionele pyn wat ʼn plaasaanval te weë bring nie. Ook aan die werkers op die plase. Die sielkundige uitwerking daarvan is skrikwekkend. Elke slagoffer het berading nodig om weer te kan fokus en om berusting te vind.”
Al die winste wat uit verkope verkry word, word geskenk aan TLU SA met die bedoeling om traumaberading te bied aan slagoffers.
Bennie van Zyl van TLU SA het sy waardering en seën uitgespreek vir hierdie bewusmakingsaksie wat die trauma van slagoffers van plaasaanvalle belig. Hy skryf in ’n brief aan Schamrel: “Hoe langer ons in Suid-Afrika in die huidige situasie vasgevang sit hoe meer besef ons dat ons grootste bate wat ons het inderdaad ons kommersiële boere is wat kos vir ’n mark produseer en juis daarom is dit vir ons van groot waarde dat mense op die wyse uitreik na ons boere toe. Dit gee vir ons hoop en ’n toekomsgerigtheid wat ons op die stadium nodig het.”
Die skrywes in My gebed vir ’n Boer Twee wissel van essays, kortverhale, vertellings, artikels, gebede en selfs resepte. Daar is ook ’n artikel deur Linda du Plessis waarin veiligheidswenke vir elke boer en sy gesin gestipuleer word. Die tema, brood, word deurgaans gebruik. Brood is natuurlik die simbool van ons stapelvoedsel, maar ook die gebreekte liggaam van die Seun van ons Skepper, aldus die lokteks op die agterblad.
Schamrel het ook ’n liefdadigheidsplatform geskep, naamlik Ns. Liefdesdiens/ Ns. Act of Love. Die niewinsgewende platforms word gebruik om, deur middel van verskeie projekte, fondse vir liefdadigheid in te samel.
Koop ’n boek en ondersteun die projek
Indien jy graag hierdie projek wil ondersteun, kan jy ’n boek só aankoop:
Stuur jou bestelling per e-pos na bets.adminco@gmail.com
- Dui aan hoeveel boeke.
- Verstrek die adres van jou naaste Pep Stores in jou e-pos. (Of die Pep-kode.)
- Verstrek jou selfoonnommer (jy ontvang ’n boodskap wanneer jou pakkie beskikbaar is).
- Heg jou bewys van betaling aan by jou e-pos.
- Gebruik asb. net jou NAAM EN VAN as verwysing met elektroniese betaling.
- Die prys is R300.00 per boek en sluit posgeld (paxi) in. Indien jy meer as een boek bestel, kos die boek R240.00 + R60.00 paxi-posgeld.
Neem deel aan die volgende projek
Schamrel beplan ’n My gebed vir ’n Boer Drie wat daarop gemik is om aan ons boere, werkers en slagoffers van plaasaanvalle hulp te verleen. Hy nooi Kragdag-lesers hartlik uit om bydraes te lewer in die vorm van oorspronklike essays, kortverhale, vertellings, artikels en gebede. Loer gerus hier vir meer inligting.