Rou kos uit ons tuin
Die wêreldwye tendens om kos rou te eet raak toenemend gewild. Ek en my man het ook maande gelede al begin om ’n rou kos-dieet te probeer volg. Ons het lank terug al besluit dat ons nie ’n tradisionele grasperk wil hê nie, maar liewer elke stukkie van ons erf sal benut om eetbare plante te plant en dus ook ’n mini-ekosisteem te skep vir bestuiwers en klein diertjies. Ons spog nou met ’n groot verskeidenheid vrugtebome en groei ook verskillende groentes en kruie.
Omdat ons genoeg voedsel self produseer, het dit ons gewoonte geraak om te eet wat die tuin ons gee. Ek stap byvoorbeeld deur die dag kort-kort om die huis en wei soos ’n bok. Ek eet my trommeldik aan moringa-, kappertjie- en spekboomblare, jong spinasie- en beetblare, aarbeie, bessies, tamaties, komkommers en wat ook al gereed is om gepluk te word. Dis vreeslik lekker om sommer so van die boom en plant af te eet. Die kos is kraakvars, organies en natuurlik supergesond, want dit bevat nie allerhande geur- en preserveermiddels nie. Die afgelope paar maande kon ons ook weglê aan onder andere appels, appelkose, druiwe, perskes, pruime, pruimedante, lukwarte, passievrugte, granadillas, piesangs, papajas, spanspekke, waatlemoene en ’n wye verskeidenheid bessies en groentesoorte (die lys gaan net aan en aan!). Ons het hierdie jaar ook baie bottels basiliekruidpesto en heerlike pikantrissiesouse gemaak wat ons ook as smere gebruik.
Ons eet deesdae baie min vleis, want hoe meer rou kos ons eet, hoe minder lus is ons vir “swaar” kosse soos vleis, rys en pasta. Ons sal eerder ’n aartappel of twee uit die tuin kook en dit saam met ’n gesonde groenslaai en eiers eet. Vir nagereg is daar vrugteslaai. Die skille gaan terug tuin toe. Ons gebruik baie min elektrisiteit omdat ek nie hoef te kook nie en net af en toe aartappels of so gaarmaak. In die landgoed waar ons woon, mag ons nie pluimvee aanhou nie. Eiers is dus die enigste voedsel wat ons nog aankoop. Kekerertjies is ook ’n goeie bron van proteïen.
Organiese voedsel is peperduur in die winkels. Dis egter verspot maklik om jou eie kos te produseer al is jou spasie klein. Vroeër jare was daar op byna elke erf op plattelandse dorpe vrugtebome en groente, maar toe hou ons op om ons eie kos te produseer, want dis makliker en geriefliker om die winkels te ondersteun. So het ons ons eie kele afgesny, want nou moet ons kos ten duurste aankoop. So paar maande gelede het ’n dame my man ongelowig aangestaar omdat hy durf sê het sy moet haar eie tamaties groei nadat sy oor die prys daarvan gekla het. Dit was vir haar ’n heeltemal nuwe gedagte. Hoe is ons nie gebreinspoel om te glo ons kos kom van die winkels af nie!
Ons woon in Jeffreysbaai waar ons die afgelope paar jaar streng waterbeperkings het weens die langdurige droogte. ’n Paar watertenks help dat ons watervoorraad nie uitgeput raak nie. Boonop het ons slim geplant deurdat hooggroeiende plante skuiling teen die hittige son bied vir laaggroeiende plante. Dan bedek ons ook die grond met deklae van organiese materie wat waterverdamping help verhoed en die vog in die grond hou.
Nie net is die gesondheidsvoordele van rou eet legio nie, maar ons put ook baie selftevredenheid uit die feit dat ons kos eet wat ons self sien groei het. Dit is natuurlik ook baie terapeuties om tyd in die buitelug deur te bring om ’n groentetuin of vrugteboord te versorg. Dis ook heerlik om altyd vars groente, vrugte, kruie en neute byderhand te hê.
As jy nie kans sien om heeltemal oor te skakel na ’n rou eet-dieet wat uit plante en neute bestaan nie, neem jou dan voor om in die vervolg met elke maaltyd ook ’n rou voedselsoort te geniet – verkieslik iets wat jy self gegroei het.
Is rou kos uit ons tuin in boekvorm beskikbaar?