Opvoedkundige boeke vir kinders
Dit is altyd opwindende nuus wanneer daar nuwe opvoedkundige leesstof vir kinders verskyn. Uitgewers doen baie moeite om boeke van waarde na hierdie uiters kompeterende marksegment te bring. Ek hou dus graag aan KragDag-lesers hierdie volgende twee titels voor. Skaf dit met die grootste vrymoedigheid vir jou kinders aan.
Kinders se Voëls van Suider-Afrika
Struik Nature publiseer Hélène Loon se Kinders se Voëls van Suider-Afrika. Dit beslaan 80 bladsye tjokkenblok vol feite en lieflike volkleurfoto’s. Buiten die interessante inleiding, is daar sewe afdelings, naamlik Seevoëls, Varswatervoëls, Grondlewende voëls, Roofvoëls, Nagvoëls, Bosveld- en Savannevoëls en Stadsjapies.
Die lokteks op die agterblad lui: “Ontmoet die fantastiese verskeidenheid voëls wat in Suider-Afrika te vind is: grasieuse flaminke, vinnige valke, juweelmooi suikerbekkies, kordate neushoringvoëls en vele meer. Leer hoe om verskillende voëls te identifiseer en ontdek meer oor hulle gedrag – hoe hulle kos soek, ’n maat kies, ’n nes bou, kuikens grootmaak en roofdiere vermy.”
Kinders leer onder andere meer oor migrasie, veerversorging, voëlskelette, -eiers en -sintuie sowel as hulle roep en sang, nesmaak- en broeigewoontes en wat hulle verkies om te eet. Die inhoud is visueel aantreklik en prikkel belangstelling in en liefde vir ons geveerde vriende. Dis die perfekte boek om kinders in ornitologie geïnteresseerd te maak.
Loon het ’n honneursgraad in ornitologie van die Universiteit van Kaapstad en kan dus gesaghebbend gesels oor voëls. Sy het ook omvattende navorsing gedoen oor veral kraanvoëlbewaring en troupantsensusse.
Kinders se Voëls van Suider-Afrika is ook in Engels beskikbaar as Kids’ Birds of Southern Africa. Daar is ook ’n isiZulu-weergawe. Dit is by boekwinkels beskikbaar, maar kan ook hier (Afr.) of hier (Eng.) bestel word.
Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika
LAPA Uitgewers publiseer die pas bygewerkte uitgawe van Engela Duvenage se supergewilde Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika.
Dié dik boek beslaan ’n allemintige 376 bladsye en is opgedeel in die volgende afdelings, naamlik: Baanbrekers in hartnavorsing, Mediese kenners, Nobelpryswenners met ’n Suid-Afrikaanse verbintenis, Dierekenners, Mense met groen vingers en ’n liefde vir die natuur, Mense van die fossielwêreld, Slimkoppe wat werk met minerale, die weer of water, Kenners van die lugruim en Uitvinders en ander planmakers. Tumi K. Steyn is verantwoordelik vir die swart-en-wit-sketse. Daar is ook ekstra wetenswaardige inligting in ’n geskakeerde blokkie aan die einde van elke verhaal.
Duvenage vertel oor die uitvinders, planmakers en ander slimkoppe waaroor sy intensief navorsing gedoen het. Sy doen dit op ’n heerlike lesersvriendelike manier sodat kinders die lekkerleesverhale geniet en hulle algemene kennis uitbrei sonder dat dit te veel moeite is. Die inligting hierin vervat is perfek vir skooltake, en al word dit voorgeskryf vir laerskoolkinders, het ek as volwassene sommer gou verdiep geraak in die inhoud.
Duvenage het ’n M.Phil in Joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Sy skryf gereeld vir koerante en tydskrifte sowel as vir universiteits- en navorsingspublikasies oor Suid-Afrikaanse wetenskap en die mense daaragter. Wetenskap en geskiedenis gaan vir haar oor veel meer as net feite, en sy geniet dit om die menslike aspek uit te lig om op so ’n manier erkenning te gee aan baanbrekers. Dié boek is ’n trots Afrikaans.
Skaf gerus vir jou kind ’n kopie aan van Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika – opgedateerde uitgawe by jou naaste boekwinkel aan of bestel dit hier.
Kompetisie
Twee KragDag-lesers kan elk ’n kopie van Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika wen.
Al wat jy hoef te doen om in aanmerking vir die prys te kom, is om hier onder in die kommentaarveld aan te dui watter boek jy graag sal wil wen en hoekom. Wenners word lukraak gekies. Pryse word slegs plaaslik versend. Sluitingsdatum 30 September 2023.
Drie KragDag-lesers kan elk ’n kopie van Kinders se Voëls van Suider-Afrika wen.
Al wat jy hoef te doen om in aanmerking vir die prys te kom, is om hier onder in die kommentaarveld aan te waarom jy die boek sal wil wen. Wenners word lukraak gekies. Pryse word slegs plaaslik versend. Sluitingsdatum 30 September 2023.
Kinders se Voëls van Suider-Afrika. Die sal my so help. My dogtertjie vra my gereeld watse voëls sy buite sien en ek het nie altyd ‘n antwoord nie…
Goeie dag
Ek sal graag die kopie van Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika wil wen. Ek het ‘n slimkop kleinseun wat 11 jaar oud is wat graag leer oor alles wat hy kan. Ek dink hierdie sal ‘n baie interresante boek wees waar hy baie kennis sal kan opdoen.