Omarm ‘n rustiger leefstyl

Die gedagte om ‘n selfonderhoudende, volhoubare leefstyl te lei begin al meer aftrek by oud en jonk kry. Meer mense begin ‘n ekovriendelike ingesteldheid kweek. Hulle toon al meer ‘n aversie teen die eksploiterende aard van die hedendaagse verbruikerskultuur. Verder keer hulle terug na die gebruik van natuurlike geneesmiddels en veral voorkomende gesondheidsorg deur dieet en oefening. Alles natuurlik in die hoop om ‘n meer vervullende en gelukkige lewe te lei.

Al meer mense besef dat hulle nie die uiters kompeterende én uiteindelik moordende pas van die lewe soos ons dit vandag ken, kan volhou nie. Hulle verkies om af te skaal en eenvoudiger te lewe. Om eerder skuldvry te wees as om met die bure te kompeteer oor wie se voertuig die nuutste en blinkste is. Dit is maar ‘n geleidelike proses en beslis nie ewe maklik vir almal nie. Dis moeilik om af te skaal. Mens is so gekondisioneerd om te dink jy het alles en meer nodig om te oorleef. Maar tog, ek weet nie van één persoon – wat die kopskuif gemaak het om matigheid voor oë te hou en rustiger te lewe – wat dit agterna berou het nie. Hulle wonder eerder waarom hulle nie lankal die besluit gemaak het om kwaliteit eerder as kwantiteit na te jaag nie.

So baie mense is moeg geleef teen die tyd dat hulle dertig word. Hulle was so besig om “iets” in die lewe te word. Om bymekaar te maak wat die wêreld hulle voorsê noodsaaklik en onontbeerlik is. En asof dit nie genoeg is nie, moet hulle boonop toekyk hoe hulle werke stadig maar seker deur KI bedreig word. Dis asof hulle heeltyd gebombardeer word deur die feit dat hulle, en ook wat hulle bereik en het, nooit “genoeg” is nie. Dan probeer hulle nóg harder, werk nóg harder, maak méér skuld … en dit alles om die skyn voor te hou dat hulle die pas volhou of selfs verwagtinge oortref. Hulle meet hulle eiewaarde aan wat hulle bereik en wat hulle besit. In ’n wêreld wat heeltyd prestasie najaag, raak die konstante druk doodeenvoudig te veel. Dan ly huwelike daaronder. Gesondheid kry ‘n knak. En die skuldeisers begin toustaan.

Dit is tyd dat ons bestekopname van ons lewens maak. Wanneer is genoeg genoeg? Wil ons ons lewe hier op aarde teen ‘n stadiger pas bewustelik ervaar en geniet? Ons ophou met dinge wat regtig saakmaak – ons verhouding met die Here, ons huweliksmaats, kinders, ouers en ander? Of gaan ons aanhou om ons letterlik dood te leef deur sogenaamde sukses na te jaag? Wat is sukses in elk geval? Wat beteken ‘n dubbelverdiepinghuis, sportmotor en oorsese reise wanneer jy so besig is dat jy jou kinders se eerste woorde, eerste treë, eerste skooldag en eerste atletiekbyeenkoms misloop? Wanneer jy kalmeermiddels moet neem om deur jou dag te kom?

Dalk is dit tyd om na te dink oor wat regtig waarde het – ewigheidswaarde. En as dit beteken jy moet meer loskom van die sisteem wat jou boelie om soos ‘n slaaf te werk, dan moet jy sekere besluite neem. Deel daarvan is om so gou as moontlik selfonderhoudend te raak en minder afhanklik van ander te wees om teen betaling (en ‘n groot persoonlike koste vir jou eie sieleheil en gesondheid) aan jou te verskaf – of dit nou krag, water of voedsel is. Doen dit self. Al beteken dit jy moet afskaal, minder maak, eenvoudiger leef. Miskien sal jy dán die tyd kry jou kinders te sien grootword en werklikwaar skatryk en suksesvol voel.

5.00 avg. rating (94% score) - 1 vote
Louise Viljoen
  • Louise Viljoen
  • Boekwurm Louise Viljoen is ’n vryskutskrywer en taalversorger van Jeffreysbaai. Sy werk heeldag met stories, haar eie en ook dié van ander. Louise skryf, redigeer, proeflees en vertaal teks om die pot aan die kook te hou. Dit is haar passie om skrywers te help om hulle manuskripte te slyp. Sy lees dus vir werk én vir ontspanning. Louise vertel graag van die wonderlike boeke op haar boekrak wat haar hart vinniger laat klop. Haar boekresensies verskyn gereeld in verskeie publikasies en kan ook oor die radio gehoor word.

Leave a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui