
Hou vakansie by die huis
Wie wil nou nie oor ‘n Desember hulle tasse pak, in die motor spring en die langpad aandurf na een of ander kusdorpie toe nie? Die skole sluit, dis vakansie en boonop sien ons al die hele jaar uit na Kersfees, Oujaar en Nuwejaar. 2025 was vir almal ‘n dolbesige jaar en ons sien uit om die pas so ‘n bietjie te markeer.
Net die nuusgebeure van die afgelope jaar was genoeg om ‘n ieder en elk mistroostig en lewensmoeg te maak – oorloë, menseslagtings, misdaad, gru-ongelukke, korrupsie, wanbesteding … Dis genoeg om van naar te word.
Dan was ons ook besig met ons daaglikse gespook en gespartel om liggaam en siel bymekaar te hou, kos op die tafel te plaas en die dak oor ons koppe te behou. Dit alles terwyl KI ‘n al meer prominente rol en bedreiging vir loopbane begin inhou. Geen wonder ons is meer as reg om vakansie te hou nie.
Maar, ongelukkig is dit nie vir almal beskore om Desember af te hê nie. En ‘n vakansie kos deesdae ook ‘n plaas of drie se geld. Mens betaal omtrent ‘n arm en ‘n been (en in sommige gevalle jou nek ook!) vir brandstof, verblyf en kos. Boonop neul die kinders vir roomys en koeldrank en sien blinkoog uit na geskenke onder die Kersboom. Trouens, hulle Kerslysies gee jou trane in die oë – nie van aandoening nie, maar soos jy op jou tande kners oor die skuld wat jy sal moet aangaan om die kinderhartjies bly te maak. Hover boards en slimfone is beslis nie goedkoop nie. En dan lê Januarie se skoolfonds, -klere, en -benodigdhede nog voor … Sluk.

So, hoe verbeel jy jou jy en jou gesin is op vakansie, wanneer julle al die pad met Jan Tuisbly se karretjie moet ry of jou baas in jou nek blaas? Daar is wel maniere. Die Engelse reken mos a change is as good as a holiday. ‘n Verandering in julle elkedagse roetine is dalk net wat julle nodig het. Klein veranderinge kan ‘n reuseverskil maak en hoef jou nie eens geld uit die sak te jaag nie. Wel, darem nie te veel nie.
- Maak julle eie Advent-kalender en merk die dae af tot Kersfees. Skep so opgewonde afwagting. Kom vooraf ooreen dat julle hierdie jaar tuisgemaakte geskenkies vir mekaar sal gee. Verras dan eerder ‘n behoeftige gesin met ‘n maand of twee se kruideniersware met die geld wat julle op geskenke sou spandeer het. Laat jou kinders help om die winkeltrollie vol te laai, sodat hulle die vreugde van gee kan meemaak.
- Stof die bordspeletjies af en speel elke aand ná werk en voor slaaptyd ‘n vinnige spel. Die kinders sal die interaksie en aandag baie geniet en ywerig daaraan deelneem. Hulle sal heeldag uitsien na die volgende aand se samesyn.
- Maak ‘n familiebed in die sitkamer, laat die kinders help springmielies maak en pannekoek bak, sit ‘n gesinsvriendelike fliek of twee aan en ontspan saam as gesin.
- Hou ‘n gesinskonsert en neem ‘n video daarvan om vir die familie te stuur. Die kinders kan help om die verhoogstuk te skryf en die rekwisiete te maak.
- Speel buite op die gras soos toe jy nog ‘n kind was. Kinders spandeer deesdae so baie tyd agter skerms dat ‘n eenvoudige balgooi-aktiwiteit saam met Ma en Pa vir hulle ‘n groot bederf sal wees.
- Stoor al die gesinslede se selfoonfoto’s op ‘n hardeskyf. Neem ‘n dag en soek saam kosbaarste foto’s uit, laat dit druk en maak ‘n outydse album. Jy kan dit ook laat druk in ‘n fotoboek.
- Gee vir elke kind ‘n paar rand om hulle kamers oor te doen. ‘n Nuwe duvet en bedmadjie kos nie te veel nie en die kinders sal mal wees oor hulle “nuwe” kamers.
- Neem die kinders biblioteek toe. Dit is ‘n interessante en leersame uitstappie, veral as Boetman of Sus meer oor hulle stokperdjies kan gaan nalees.
Koester gesinstyd en maak seker dat julle hierdie vakansie vir mekaar wys en sê hoe lief julle mekaar het en dat julle mekaar waardeer. Die lewe (en die vakansie) is kort. Maak die beste daarvan, want as dit eers verby is, is dit verby.
